Nuwe tegnologie met PowerCore-eienskap vrygestel

Grant Pringle, produklandboukundige: Oostelike produksiestreek, Pannar Saad
Gepubliseer: 6 Junie 2022

801

Hierdie seisoen stel Pannar Saad® met trots twee nuwe geelmieliebasters met die PowerCore™-tegnologie bekend, naamlik PAN 3P-900PW en PAN 5P-902PW. Dit is ’n nuwe toevoeging tot Corteva se formidabele portefeulje in Suid-Afrika.

PowerCore-tegnologie is ’n hoëpresterende, insekbestande saadeienskap (trait) wat mielies effektief teen vernietigende bogrondse lepidoptera-plae beskerm, soos die Afrika-mieliestronkboorder (Busseola fusca) en die Chilo-boorder (Chilo partellus). Hierdie plae kan aansienlike oesskade en daaropvolgende produksieverliese veroorsaak.

Die PowerCore-tegnologie bestaan uit drie verskillende Bacillus thuringiensis– (Bt-)proteïene wat elkeen die insekte verskillend teiken, wat baie bydra om die lewensduur van die tegnologie te verleng. Die tegnologie verleen ook onkruiddoderweerstand teen glifosaatonkruiddoders. Hierdie uitsonderlike eienskaptegnologie, wat goeie insekbeskerming kombineer met groter opbrengspotensiaal, is nou in Pannar se portefeulje van hoë-opbrengsgenetika beskikbaar.

“Pannar is trots om aan boere ’n alternatiewe stronkboorder-beskermingsmeganisme te bied. Boere kan nou die Bt-eienskap-tegnologie kies wat die beste by hul plase pas. Nie net is die doeltreffendheid van PowerCore-tegnologie in plaaslike proewe gedemonstreer nie, maar die tegnologie het ook ’n bewese rekord in beide Brasilië en Argentinië in soortgelyke klimaatstreke, waar dit sedert 2012 suksesvol gebruik word. Ons is opgewonde om hierdie nuwe tegnologie op ons verskillende genetiese platforms uit te rol en hierdie seisoen PAN 3P-900PW en PAN 5P-902PW vry te stel,” het Nick Goble, besigheidsbestuurder van Pannar Saad, gesê.

PAN 3P-900PW is ’n uitstekende nuwe opsie vir die oostelike droëlandproduksiestreke en onder besproeiing.
PAN 5P-902PW word vir die hoëpotensiaal- oostelike produksiegebiede saam met die PAN 4A-128- en PAN 5A-182-reekse basters aanbeveel.

Insekspektrum
Mielies word in Afrika deur baie lepidoptera-plae aangeval. Hierdie plae veroorsaak erge skade aan mielies en oesverliese wissel na gelang van die tyd en vlak van stamboorderinfestasie.

Die mieliestronkboorder is die skadelikste stamboorder op mielies in Suid-Afrika en kom voor op hoogtes wat wissel van seevlak tot 2 000 m bo seespieël. Dit is wydverspreid reg deur die mielieproduksiegebiede van Suid-Afrika.

Verder is die Chilo-stronkboorder ’n ernstige plaag vir mielies, manna en sorghum. Die Chilo-stamboorderruspes beskadig hierdie gewasse deur in die plantstingel in te boor of te tonnel.

Nuwe geelbasters
Pannar se formidabele geelmieliepakket van verskillende groei­klasse en geneties gemanipuleerde basters bied ’n goeie langtermyn-risikoverskansingstrategie.

PAN 3P-900PW
Die nuwe PAN 3P-900PW is ’n ultravinnige geelbaster gebaseer op die PAN 3R-500R-genetika en is geskik vir die hoëpotensiaal-droëlandproduksiegebiede (oostelike produksiegebiede wat die oostelike Hoëveld en KwaZulu-Natal insluit) en onder hoë-insetbesproeiing en ’n dubbeloes-produksiesisteem (hoë opbrengsmikpunt, watertoediening en bestuursinset). Dit beskik oor ’n hoë opbrengspotensiaal en is vir al die produksiestreke onder besproeiing aangepas. PAN 3P-900PW het ’n aantreklike planttipe met regop blare, goeie staanvermoë, lae kopplasing en graan van goeie kwaliteit.

PAN 5P-902PW
As ’n nuwe genetiese platform in die medium-vinnige groeiklas, is PAN 5P-902PW ’n baster met lae kopplasing, goeie stamsterkte en staanvermoë. Dit presteer goed oor ’n wye reeks opbrengspotensiaalvlakke en plantpopulasies. PAN 5P-902PW word saam met die PAN 4A-128- en PAN 5A-182-platforms in ’n pakket aanbeveel vir die oostelike Hoëveld en KwaZulu-Natal. Dit lewer uitstekende graangehalte met goeie skepelmassa.

Let wel dat die bestuur van moontlike insekweerstandigheid teen die Bt-geen wetlik verpligtend is. Die aanplant van ’n toe­vlugoord volgens vereistes is nodig indien enige basters met stronkboorder-beskermingsgene gebruik word, aangedui deur die letters B, BR, YHR of PW in Pannar se saadprodukkode.

Rentmeesterskap
Rentmeesterskap is ’n lewensiklusbenadering tot produkbestuur. Dit is die verantwoordelike manier om ons tegnologieë en plantprodukte te bestuur vanaf hul ontdekking en ontwikkeling tot hul gebruik en die uiteindelike staking daarvan. Corteva Agriscience is daartoe verbind om nuwe tegnologieë op ’n verantwoordelike wyse na die mark te bring en bevorder die praktyke van verantwoordelike insekweerstandsbestuur, onkruiddoderweerstandsbestuur en graanbemarkingsbesluite om volgehoue gewasopsies te verseker.