Privaat opwekking van krag – so lyk die geleenthede en beperkings

Chris Schutte, besturende direkteur, Sonfin
Gepubliseer: 22 November 2021

47

Verskeie rolspelers in die landbousektor is tans baie opgewonde daaroor dat die regering aandag skenk daaraan om geleenthede vir die privaat opwekking van krag te vergemaklik.

Daar is reeds verskeie geleenthede en moontlikhede in plek. Hierdie artikel het ten doel om dié geleenthede, maar ook beperkinge te ondersoek.

Registrasie by die Nasionale Energiereguleerder (Nersa)
President Cyril Ramaphosa se aankondiging op 10 Junie 2021 rakende die verhoging van die vrystellingsdrempel vir lisensiëring vanaf 1 MW na 100 MW is die mees onlangse positiewe verwikkeling. Die verandering van skedule 2 van die Elektrisiteitsreguleringswet raak verskeie wetlike en regulatoriese beperkings wat op Small-Scale Embedded Generation (SSEG) van toepassing is.

Die meeste aansoekprosesse by staats- en semistaatsinstellings neem egter redelik baie tyd in beslag. Registrasie van sonplase is geen uitsondering nie. Sonfin, ’n verskaffer van sonstelsels in veral die landbousektor, het aangedui dat hulle al meer as 50 suksesvolle Nersa-aansoeke gedoen het, maar hulle kon tot op datum nog nie ’n Nersa-sertifikaat binne twee maande verkry nie. Hierdie registrasieproses behels ’n aansoek; verifikasie; faktuur vir en betaling van registrasiefooie; ELS-goedkeuring asook aftekening van die sertifikaat en uitreiking. Sonfin sê hulle het al twee maande gewag vir ’n sertifikaat nadat dit reeds by die ELS goedgekeur was.

Ten spyte van die tydsaspek is dit egter wel moontlik om ’n sonplaas te registreer.

Goedkeurings- en aansluitingsprosesse
Alle sonplase het goedkeuring van Eskom nodig as dit krag opwek terwyl die netwerk aan is. ’n Maklike toets is om te kyk of die sonstelsel tydens ’n kragonderbreking werk. As dit af is, is die stelsel aan die netwerk gekoppel. Slegs as ’n sonstelsel heeltemal onafhanklik van die netwerk funksioneer, is geen goedkeuring nodig nie.

Eskom het al vir ’n geruime tyd reeds prosesse in plek vir privaat opwekkers om, onderhewig aan aansoekfooie en aansluitingskoste, aansoek te doen en goedkeuring te verkry vir beide laevoltaansluitings (LV) en mediumvoltaansluitings (MV). Die LV-aansluitingsproses is die eenvoudigste en derhalwe ook die goedkoopste opsie omdat vasgestelde aansoek- en aansluitingskoste in plek is.

Sonplase groter as 350 kWp moet via ’n MV-aansluiting aan die Eskom-netwerk gekoppel word. Hierdie aansluitingskoste wissel van geval tot geval en gaan in die orde van R1,5 miljoen tot R2 miljoen beloop, want bo en behalwe die aansluitingskoste en Eskom se goedkeuringskoste moet die produsent ook sy eie transformators installeer.

Beperkings
Sodra produsente die 1 MW-drempel oorskry, is daar tans nog ander wetlike vereistes waaraan voldoen sal moet word. Gegewe die volgende vereistes waarvan Sonfin kennis dra, is hulle advies dat produsente hul huiswerk behoorlik doen voordat besluit word om die 1 MW-drempel te oorskry.

Inkomstebelastingwet
Slegs sonplase kleiner as 1 MW kan 100% binne een jaar afgeskryf word; groter sonplase volg normale afskryfreëls (Artikel 12B van die Inkomstebelastingwet).

Nasionale Omgewingbestuurswet
Aktiwiteit 1 van Lys 1 van die wet word geaktiveer deur sonplase wat ’n area groter as een hektaar beslaan (Staatskoerant, 7 April 2017). Dit is nie prakties moontlik om 1 MW in ’n kleiner area in te pas nie.

Ontwikkelings binne ’n dorpsgebied en/of op bestaande infrastruktuur is wel vrygestel hiervan, maar daar is maar min produsente wat binne ’n dorpsgebied boer of so ’n groot dakspasie beskikbaar het.

Die meeste produsente sal dus impakstudies moet laat doen om 1 MW te oorskry, wat noodwendig tot ekstra koste sal lei.

Nasionale Waterwet
Sonplase wat binne 500 m van water (gereguleerde area of waterbron of lopende water) opgerig word, benodig ’n algemene vrystelling. ’n Mens sal verbaas wees hoe min areas daar op ’n plaas is wat verder as 500 m van water is.

Weer eens sal die meeste produsente dus ’n algemene vrystelling moet kry om 1 MW te oorskry – met gevolglike bykomende koste. Dalk kan die sonplaas verskuif word, maar dan is daar weer ekstra aansluitingskoste ter sprake. Slegs elektriese kabels vir sonplase groter as 1 MW kos maklik R1 000/m, sonder installasiekoste.

Berging
Eskom laat tans slegs in uitsonderlike gevalle die berging van krag toe op stelsels groter as 1 MW. Die prysvasstellingskomitee moet goedkeuring daarvoor verleen en Sonfin dra nie kennis van ’n projek waar sodanige goedkeuring al toegestaan is nie.

Die meeste produsente het seisoenale verbruik en sonder berging gaan dit moeilik wees om die meeste sonplase groter as 1 MW te regverdig.

Hernubare kragbronne
Vir kategorie A-kragbronne (1 MW) word die beheer wat deur die gesertifiseerde omsetters gedoen kan word as voldoende aanvaar.

Hernubare kragbronne groter as 1 MW val in Kategorie B (1 MW tot 20 MW) en C (groter as 20 MW), wat verskeie addisionele vereistes het rakende die beheer van die kwaliteit van lewering en daaglikse rapportering aan Eskom.

Hierdie vereistes gaan beslis verdere koste tot gevolg hê, byvoorbeeld:

  • beheerstelsels wat installeer moet word by die sonplaas om die kwaliteit van lewering intyds te beheer en te bestuur; asook
  • kundige personeel wat aangestel sal moet word om die sonplaas te beheer en daagliks aan Eskom verslae te verskaf.