Grondboonverwerkers funksioneer voortaan ook as invorderingsagente

853

February 2015

HANS VAN DER BERG, ledebemarking en kommunikasiebeampte, Graan SA

Sedert die instelling van die bedryfsheffing het Graan SA ooreenkomste met verskeie landboubesighede en ander graanafnemers aangegaan waarvolgens hierdie instansies, teen ‘n agentskapsfooi, as invorderingsagente die bedryfsheffing namens Graan SA hef.

Dit maak dit dus vir produsente makliker om die oorbetaling van hul bedryfsheffing te verseker. Hierdie proses om die heffing by die eerste punt van lewering te hef en waar die produsent toestemming verleen, bly steeds die maklikste manier hiervoor, maar die vrye mark het ook die vloei van grane beïnvloed en met die verloop van tyd het Graan SA verskeie nuwe invorderingsagente aangestel en sal voortaan steeds daaraan werk om die lede- en heffingbasis te verbreed.

Qualita Seeds eerste om proses in plek te kry

Tydens die afgelope seisoen het die Grondboon Spesialiswerkgroep, waar die verwerkers ook verteenwoordig word, die aangeleentheid bespreek en eenparig besluit om Graan SA ook in hierdie verband by te staan.

Dit het meegebring dat verskeie grondboonverwerkers reeds besoek is om die samewerkingsooreenkomste in plek te kry. In hierdie verband het Qualita Seeds geen gras onder hulle voete laat groei nie en alle produsente wat grondbone by hulle lewer het toestemming daartoe verleen wat tot gevolg gehad het dat die heffings reeds die afgelope seisoen verhaal is en aan Graan SA oorbetaal is.

Graan SA het inderdaad groot waardering vir hierdie poging van Qualita Seeds en wil ook produsente bedank wat in die verlede self oorbetalings gedoen het op grondbone.

Produsente wat grondbone verbou, kan gerus hul verwerkers in hierdie verband nader om dit in plek te kry vir die komende seisoen.

Grondboonverwerkers wat op hierdie stadium reeds geregistreer is as invorderingsagente, is:

  • Elkana
  • Francois Minnaar
  • Lemacor Peanuts
  • Qualita Seeds
  • RE Groundnuts
  • Roba Foods
  • Vaalharts Groundnut Marketing

Graan SA is egter van voorneme om alle grondboonverwerkers in hierdie verband te nader en vertrou om die proses af te handel voor die volgende lewerings.

Die bedryfsheffing word primêr aangewend om die kernbesigheid van Graan SA, naamlik om die navorsing- en ontwikkelingsprojekte, te befonds. Ander noodsaaklike aksies wat die volhoubaarheid van graanprodusente sal verseker, word ook uit die bedryfsheffing befonds. Die aanwending van die heffing word jaarliks tydens die Graan SA Kongres goedgekeur waar ook terugvoer gegee word oor alle aspekte van die bedryfsheffing.

Graan SA wil egter ook sy dank oordra aan produsente wat die verhoging van die bedryfsheffing ná die 2014 Kongres so positief aanvaar het. Vir twaalf jaar was dit onveranderd, maar inflasie het egter sy tol begin eis.

Elke lid se bydrae stel ons in staat om deurgaans binne die inset-, produksie-, mark- en beleidsomgewing die belange van die produsent met kundigheid en kapasiteit te verteenwoordig.

Publication: February 2015

Section: Focus on