January 2015

3 Desember 2014

imageWESSEL LEMMER, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Wanneer knyp oliesadepryse jou?

Produsente koop met planttyd produksie-insette teen kleinhandelpryse om later sonneblomsaad en sojabone teen groothandelpryse te verkoop. Die vlak van hierdie groothandelpryse kan jou wins en volhoubaarheid bepaal. Word die prys wat jy behaal net deur vraag en aanbod in die vrye mark bepaal of speel markkrag ook ‘n bepalende rol?

Onvoorsiene prysbewegings het al in die oliesademark sonder fundamentele redes voorgedoen en verliese veroorsaak. Die nuwe perskapasiteit en gepaardgaande groter mededinging behoort tot markomstandighede te lei waarin onseker prysbewegings hopelik minder gaan voorkom.

Wanneer behaal sonneblomsaad bogemiddelde pryse?

Sonneblomsaad het gedurende die afgelope vyf jaar bogemiddelde pryse gedurende September, Oktober, November, Desember en Januarie behaal. Sonneblomsaadpryse verkeer dus gewoonlik tydens planttyd teen bogemiddelde prysvlakke.

Dit kan in 2014 egter ‘n uitsondering wees omdat die pryse vir sonneblomsaad 16% laer was as die gemiddelde prysvlakke vir ‘n normale jaar in Oktober. Tydens die skryf van hierdie artikel (3 Desember 2014) het sonneblomsaadpryse verder begin daal en die langer termyn tendens van laer pryse na-plant (ná Desember) begin navolg (Grafiek 1).

image

image

Wanneer is die pers van sonneblomsaad bogemiddeld hoog?

‘n Bogemiddelde hoeveelheid sonneblomsaad word maandeliks tydens die sewe maande vanaf Mei tot November gepers. Die perssyfer daal egter skerp tussen November en Desember. Sommige aanlegte word vir die Desembervakansie gesluit met ‘n gevolglike daling in vraag en pryse. Pryse is ook laag en onder gemiddeld vanaf Februarie tot Augustus omdat nuwe seisoen produsentelewerings vanaf Maart tot Julie voldoende sonne blom saad vir persdoeleindes voorsien.

Pryse begin eers vanaf einde Augustus te herstel. Die pers van sonneblomsaad is bogemiddeld vanaf Mei tot November. Die pers van sonneblomsaad neem tussen Maart tot Mei met 43% toe en die vraag na sonneblomsaad vanaf Mei behoort pryse dus beter te ondersteun.

Pryse behoort nie eers vier maande later positief op die hoër perstempo te begin reageer nie. Dit kan wees dat markkrag ‘n rol speel om pryse vanaf Mei tot Augustus langer as wat nodig is onder druk te hou (Grafiek 1).

Wat is die onmiddellike prysvooruitsigte vir sonneblomsaad- en sojaboonpryse?

Volgens die indeks daal sonneblomsaadpryse ná die Desember-aanplantings per maand met 2,4% tot prysvlakke in April wat tussen 9% en 10% laer is as in Desember (Grafiek 3).

image

Sonneblomsaadpryse het in 2014, anders as in ander jare, reeds aan die begin van Desember teen ondergemiddelde pryse verkeer en indien pryse die dalende tendens sou navolg kan verwag word dat pryse in April laer kan wees.

Indien produsente voorraad kon opberg en later geleidelik prys, sou dit beter ondersteuning aan sonneblomsaadpryse kon bied. Sojaboonpryse behoort volgens die vyfjaar-prysindeks vanaf die prysvlakke in Desember geleidelik tot in Maartmaand te daal, waar na pryse skerp tot in Mei sal daal tydens die lewering van die sojaboonoes.

Die huidige prysvlakke vir sojabone is reeds vir Desember 2014 onder die gemiddelde prys vir die afgelope twaalf maande en indien prysvooruitsigte op die vyfjaar-prysindeks gebaseer word, kan verwag word dat sojaboonpryse tussen Desember- en Mei-maand met 12% kan daal. Laer ruoliepryse en VSA-voorraadvlakke weeg ook op pryse. Die prysing van ou seisoen sojabone gedurende Desember en Januarie kan dus ‘n goeie oorweging wees.

Hoe vergelyk die pers van sonneblomsaad met die pers van sojabone?

Grafiek 2 vergelyk die maandelikse pers van sonneblomsaad oor ‘n vyfjaar-periode met die pers van sojabone. Die perstempo van sonneblomsaad en sojabone toon tussen maande ‘n negatiewe korrelasie.

Gedurende sekere maande verhoog die perssyfer vir sonneblomsaad relatief teenoor die perssyfer vir sojabone. Gedurende die volgende maand verhoog die perssyfer vir sojabone weer relatief teenoor die perssyfer vir sonneblomsaad.

Die blyk asof die perssyfers van sonneblomsaad en sojabone gedurende die 2013/2014-persindeks ook met die vyfjaar-gemiddelde persindeks grotendeels ooreenstem. Verwerkers mag dus voor keur gee om in sekere maande meer sonneblomsaad as sojabone te pers. Hoër persvolumes volg dalk nie noodwendig laer grondstofpryse nie. Die deurlopende voorsiening van olie en oliekoek aan afnemers speel ook ‘n belangrike rol.

Dit blyk asof verwerkers voorkeur daaraan gee om gedurende September, Desember en Junie die pers van sonneblomsaad te verhoog en gedurende Januarie, April, Mei en Julie die pers van sojabone te verhoog. Let wel: Sojabone word teen bogemiddelde vlakke vanaf April tot Oktober gepers (Tabel 1).

Soos Grafiek 2 ‘n aanduiding gee van die pers van sojabone en sonneblomsaad, gee Grafiek 3 ‘n aanduiding van pryse.

Volgens die vyfjaar-prysindeks behaal sojabone bogemiddelde pryse vanaf Julie tot Oktober en dan weer gedurende Desember en Januarie. Sonneblomsaadpryse bereik bogemiddelde prysvlakke gedurende September, Oktober, November, Desember en Januarie (Tabel 2).

image

Opsomming

Sojabone behaal normaalweg gedurende Februarie, Maart, April, Mei en Junie ondergemiddelde pryse, terwyl die perstempo daarvan gedurende November, Desember, Januarie, Februarie en Maart laag is. Sommige verwerkers gee wel voorkeur aan die pers van sojabone bo sonneblomsaad gedurende Januarie en dit kan sojaboonpryse ondersteun. Die prysing van ou seisoen sojabone gedurende Januarie kan dus ‘n goeie oorweging wees. Pryse bereik normaalweg ondergemiddelde prysvlakke vir beide sojabone en sonneblomsaad ná Februarie.

Sonneblomsaadpryse bly egter onnodig lank onder oesdruk tot en met Augustus, terwyl die pers en vraag na sonneblomsaad op ‘n vroeër stadium skerp toeneem. Die persvolume vir sonneblom is gedurende Desember en Januarie ondergemiddeld. Sommige verwerkers gee egter voorkeur aan die pers van sonneblomsaad gedurende Desember en die prysing van ou seisoen sonneblomsaad kan nog gedurende Desember en Januarie oorweeg word.

Wessel Lemmer kan gekontak word by wessel@grainsa.co.za.

Publication: January 2015

Section: On farm level