March 2015

ELMARIE STOLTZ, LNR-Instituut vir Landbou-ingenieurswese

Vir die suksesvolle, volhoubare produksie van beesvleis is voldoende pasgemaakte fasiliteite nodig. Hierdie fasiliteite moet die bestuur van die stelsel vergemaklik, effektiwiteit verhoog en arbeid tot ‘n minimum beperk.

Fasiliteite moet funksioneel wees en ‘n veilige omgewing vir die diere asook werkers tot gevolg hê.

Toerusting en fasiliteite is duur om aan te koop of te bou en omdat behoeftes verskil, sal die ideale voerkraal nie vir alle produsente dieselfde wees nie. Die fasiliteit moet so ontwerp word dat dit alle aspekte van produksie in ag neem. Voornemende voerkraaleienaars moet dus mooi nadink oor watter tipe voerkraalfasiliteite benodig word.

Die voerkraal

‘n Vleisbeesvoerkraal word hoofsaaklik gebou om beeste uit voerkrippe te voer. Daar is vereistes waaraan voldoen moet word. Water af loopbeplanning en -besoedeling vereis baie aandag. Omgewingsimpakstudies asook afvalbestuur sal verseker ook ‘n vereiste wees.

Omdat ‘n voerkraal ‘n intensiewe produksiestelsel is, sal daar ‘n klomp voordele aan hierdie verbouingstegniek wees. Van die voordele sluit in:

  • ‘n Klein oppervlakte word benodig.
  • Beter voeromset word verkry en effektiwiteit word verhoog.
  • Kapitaal kan baie sinvol aangewend word.
  • Gebalanseerde voeding soos benodig kan wanneer nodig, verskaf word.
  • Veediefstal kan ook beperk word.
  • Naspoorbaarheid kan vir die verbruiker verseker word.

Met die ontwerp en bou van voerkrale kan daar ook nuwe tegnologie ingesluit word. Hierdie tegnologie help voorts om beter vleisgehalte en beter voeromsetverhoudings tot gevolg te hê.

Die gebruik van radio-frekwensie identifisering (RFID) tegnologie kan die hantering van die beeste verminder, gepaardgaande met minder spanning vir die diere. Minder spanning beteken ook minder melksuur in die spiere, wat beter vleiskwaliteit tot gevolg het. Op die ou einde dus lekkerder vleis op die tafel.

Die beplanning

By die beplanning van ‘n doeltreffende beesvoerkraal moet ‘n aantal vereistes oorweeg word. Hierdie beplanningsvereistes kan een of almal van die volgende en nog baie meer insluit:

  • Uitvoerbaarheidstudie
  • Omgewingsimpakstudies
  • Keuse van ‘n geskikte terrein
  • Die beplanning van ‘n geheel-uitleg
  • Die beplanning en ontwerp van individuele fasiliteite

‘n Tipiese voerkraaluitleg (Figuur 1) bestaan uit ‘n voerkraal, hanteringsgeriewe, ‘n kantoorkompleks, hospitaal, voergeriewe, ‘n werkswinkelkompleks, watervoorsiening, paaie, afleibane, misafloopstoordamme en windskuilings.

image

Die plasing van hierdie geriewe is belangrik en moet so hanteer word dat die uitleg volgens die eienskappe van die betrokke terrein kompak, sindelik, ordelik en arbeidsbesparend is. Só ‘n uitleg sal produktiwiteit en bestuursgerief bevorder.

Afhangende van die bepaalde opset, sal daar soms reeds bepaalde geboue op die terrein wees. Indien moontlik, moet hierdie geboue met die nuwe geboue geïntegreer word om koste te bespaar.

Tipiese geheeluitleg van ‘n voerkraal

Die voerkraal bestaan nie net uit die kampe nie, maar die krip speel ‘n integrale rol in die effektiwiteit van die voerkraal. Die tipe diere wat gevoer gaan word, is ook ‘n bepalende faktor en die fasiliteite moet vir hierdie tipe diere voorsiening maak.

Daar is inderdaad sekere norms waaraan ‘n voerkraal moet voldoen. Elke bees benodig ‘n sekere vreetspasie, staanspasie en beskerming teen die elemente.

Vir die voerkrip word ‘n minimumkriplengte van 150 mm per bees benodig indien jong beeste ad libitum gevoer word. Ouer beeste benodig ‘n langer kriplengte. Die aanbevole kriplengte in aanpassingskrale is 300 mm per bees en die krippe by aanpassingskrale is ook vlakker. Figuur 2 toon ‘n tipiese voerkripuitleg.

image

Die houkrale se ontwerp is net so belangrik. Sommige houkrale kan rond wees en ander langwerpig of hoekig. Vir elke ontwerp is daar sekere voor- en nadele. Ronde komplekse raak ook ‘n opsie omdat dit goedkoper is om te bou en minder materiaal vereis.

Drukgange is ‘n integrale deel van ‘n voerkraal. Dit moet so ontwerp word dat dit die hantering vergemaklik en die stres op diere verminder. Tog moet dit sterk genoeg wees om jarelange diens te verseker.

Die materiaal wat gebruik word om die fasiliteit mee te bou, is baie belangrik. Baie plastiekgedeeltes kom in die omloop wat dalk goedkoper en sterker as staal kan wees. Hierdie keuse moet verseker met groot oorleg geneem word.

‘n Volledige handleiding oor vleisbeesfasiliteite is beskikbaar by die LNR-Instituut vir Landbou-ingenieurswese. Hierdie hand lei ding kan help om beter idees te verkry en te implementeer. Kontak Elmarie Stoltz by 012 842 4017 of stoltze@arc.agric.zavir meer inligting oor hierdie insiggewende handleiding.

image

Publication: March 2015

Section: Focus on