April 2015

WILLEM VOOGT, bestuurder: Bemarking en Finansies, Graan SA

Tydens die afgelope Kongres het Graan SA ook terugvoer gegee aan lede rondom die resultaat van die heffinginkomste vir die 2014/2015-seisoen. Alhoewel droogtetoestande heers oor die land en meeste produsente se oeste skraal lyk, was daar steeds ‘n ongelooflike positiwiteit onder produsente en is die rekordheffing vir die 2014/2015-jaar ook met dié gemoed ontvang. Die 2014/2015-oes was ‘n rekordoes en die verhoging van die heffing in 2014 het verseker dat Graan SA se reserwes aangevul kon word om voorsiening te maak vir die tekorte wat gely gaan word weens die droogtetoestande vir die 2015/2016-bemarkingsjaar.

Inkomste

Graan SA het ‘n rekordheffinginkomste gerapporteer van R18,76 miljoen in vergelyking met die vorige jaar se rekord van R11,67 miljoen. Hierdie groei is die resultaat van twee faktore, naamlik die rekordoes van die vorige seisoen en ook die verhoging in die heffing in 2014. Die inkomste het vir ‘n surplus van ongeveer R3,88 miljoen rand op die heffingsfonds gesorg. Die surplus sal na die reserwes geallokeer word om die nodige tekorte te dek vir die nuwe seisoen wat ontstaan het weens die oorheersende droogtetoestande.

Agente

Die vordering van die heffing raak al hoe meer uitdagend soos wat die mark groei en daar al hoe meer kopers die mark betree. Dit verg van Graan SA om vennootskappe met al die kopers en handelaars aan te gaan. In die vorige jaar het die aantal agente verhoog vanaf 34 na 40. ‘n Woord van dank word ook uitgespreek aan agente wat die invordering van die heffing bewerkstelling deur hulle kanale.

Ledetal

Graan SA se fokus is om tot diens te wees aan sy lede. Dit is ook bemoedigend om te weet dat die hoeveelheid opbetaalde lede gegroei het na 3 063 vanaf 2 409. Die totale bydraende lede is effens minder as die vorige jaar. Met ‘n totale ledetal van 5 250 is dit duidelik dat Graan SA ‘n goeie verteenwoordiging is van graanprodusente in Suid-Afrika.

Grondboonheffing

‘n Voorstel is ook aanvaar deur Kongres om die heffing op grondbone te verminder vanaf R13 na R10. Hierdie verandering is voorgestel om die gewig van die gradering in die heffing te reflekteer. Kongres het dié besluit eenstemmig aanvaar en die heffing word dus vanaf 5 Maart bereken op R10/ton vir grondbone. Alle ander gewasse se heffing is onveranderd gelaat en word vervat in Tabel 1.

image

Dankie

Graan SA is ‘n produsente-organisasie en die heffinginkomste is die hartklop van die liggaam om sy werksaamhede voort te sit. Mnr Andries Theron (visevoorsitter van Graan SA en voorsitter van die Bemarkingswerkgroep) het sy dank teenoor lede uitgespreek vir die getroue bydrae wat hulle lewer en hul die nodige gerusstelling gegee dat die fokus steeds daarop uit is om tot diens te wees van graanprodusente in Suid-Afrika.

Publication: April 2015

Section: Special feedback