February 2015
image

LOUREINE SALOMON, LNR-Instituut vir Graangewasse

Met die grondboonaanplanting wat relatief vroeg afgehandel is aan die begin van die seisoen, behoort meeste van die grondbone nou al die twee en ‘n half maande groeitydperk bereik het.

Hierdie plante sal dus nou reeds sterk in die peulvormingstadium wees, dus moet daar gesorg word dat die blaredak behoue bly. Grondbone wat onder besproeiing aangeplant is, sal nou ook ‘n groter wateraanvraag toon aangesien die waterverbruik binnekort ‘n piek van 4 mm water per dag gaan gebruik.

Uit die staanspoor moet daar gewaak word teen oorbesproeiing, aangesien grondbone geneig is tot peulvrot as die plante nie kans gegun word om ordentlik af te droog tussen watertoedienings nie. Dit is ook lank reeds tyd om op die uitkyk te wees vir blaarvlekke.

Die regte metode is om weekliks deur die lande te stap en plante kort-kort te ondersoek vir tekens van blaarvleksimptome. Dit is noodsaaklik om tot in die binnekant van die plant se blaredak ondersoek in te stel, aangesien vroeë en laat blaarvlek eerste op die oudste blare voorkom (Foto 1).

Vroeë blaarvlek se simptome is ‘n donkerbruin vlek wat omring is met ‘n geel kring en wat voorkom op die bokant van die blaar (Foto 2). Laat blaarvlek daarenteen, is ‘n donkerbruin tot swart vlek wat aan die onderkant van die blaar voorkom (Foto 3).

Hierdie blaarvlek begin gewoonlik voorkom vanaf die middel tot die einde van die seisoen. Dit is noodsaaklik om die blaredak van die grondboonplant te behou om optimale peulvorming en vulling te verseker asook om die oesproses te vergemaklik.

Spatselvlek (Foto 4) is natuurlik een van die blaarvlekke waarvoor daar spesifiek uitgekyk moet word, aangesien hier die swamsiekte in staat is om ‘n hele grondboonland binne twee weke te ontblaar. Die omstandighede wat baie bevorderlik is vir die ontwikkeling van spatselvlek, is koel, bewolkte weer wanneer die blaaroppervlak nie vinnig in die oggend afdroog nie.

Dit is uiters noodsaaklik dat produsente ‘n goeie blaarvlek-spuitprogram moet volg. Wees egter uiters versigtig vir enige blaarvoedings aangesien daar gewaak moet word teen die stimulasie van vegetatiewe groei by grondbone. Die stimulasie van vegetatiewe groei veroorsaak dat die plant nie voortgaan met peulvorming en vulling nie en net fokus op blaarvorming en dus gaan waardevolle tyd verlore wat eerder bestee kan word aan opbrengsversekering as aan voerproduksie.

‘n Grondboonprodusent moet altyd bewus wees van wat in die grondboonland aan die gebeur is. Wat is die stand van onkruidbeheer? Is daar ‘n korslaag besig om te vorm ná harde reëns? Is daar moontlike luisprobleme? Is daar enige snaakse tekens wat aandag behoort te geniet?

Voorsorg is beter as nasorg. Solank daar goeie bestuur geskied gedurende die seisoen, is die kanse op ‘n goeie oes tyd perk soveel beter. Onthou: ‘n Grondboonprodusent se voetspore lê vanaf plant- tot oestyd in sy grondboonlande.

image

Publication: February 2015

Section: Focus on