March 2015

EDDIE GOLDSCHAGG, tegniese bestuurder, SANSOR

Die opbrengspotensiaal van ‘n gewas, ongeag die omgewingstoestande en verbouingspraktyke, is nou gekoppel aan die variëteit wat aangeplant word – nie net die aanpasbaarheid van die betrokke variëteit by die omgewing waarin dit geplant word nie, maar ook die variëteitsuiwerheid daarvan, met ander woorde tot hoe ‘n mate elke plant aan die beskrywing van die betrokke variëteit voldoen.

Indien saad van ‘n registreerde saadmaatskappy aangekoop word, moet die saad aan sekere minimumvereistes voldoen wat deur die Plantverbeteringswet, 1976 (Wet 53 van 1976) voorgeskryf word. Indien die onderneming saad verkoop wat nie aan hierdie minimumvereistes voldoen nie, is hulle aan ‘n misdryf skuldig en kan hulle vervolg word. Produsente kan dan ook vergoeding van die onderneming eis vir skade wat gely is.

Die feit dat ‘n lot saad deur ‘n geregistreerde onderneming verkoop word en/of daar ‘n ontledingsverslag daarvoor beskikbaar is, beteken egter nie dat daardie saadlot gesertifiseer is nie.

Sertifisering van saad behels ‘n volledige kontrolesisteem vanaf die vrystelling van die variëteit deur die teler daarvan tot en met die uiteindelike beskikbaarstelling van die saad aan die produsent. Dit geskied oor verskeie generasies van vermeerdering, wat gewoonlik tussen drie tot vier seisoene duur.

Gesertifiseerde saad

Gedurende elk van die onderskeie vermeerderingsfases word daar volledige kontrole uitgevoer, deurdat elke eenheid vir produksie van saad by SANSOR geregistreer word.

  • SANSOR kontroleer eers die oorsprong en sertifiseerbaarheid van die ouersaad van die betrokke variëteit voordat die eenheid aanvaar word vir die produksie van saad vir sertifisering.
  • Tydens die groeistadium word die plante op vasgestelde groeistadiums deur SANSOR-opgeleide en gemagtigde inspekteurs ondersoek om onder andere te bepaal of die plante aan die voorgeskrewe minimumvereistes ten opsigte van die variëteitsegtheid en identiteit voldoen – dit sluit aspekte in, soos die kontrolering van isolasie-afstande, vorige gewasse, opslagplante en aftipes.
  • Vir elke inspeksie wat uitgevoer word, word daar verslag aan SANSOR gelewer, wat op hulle beurt dan die bevinding op rekord plaas.
  • Die inspeksieproses word deurlopend deur SANSOR sowel as beamptes van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) gemonitor.

Vir gesertifiseerde saad word ‘n blou etiket gebruik met die landswapen en die woorde SA gesertifiseerde saad: SANSOR daarop gedruk. Elke houer word ook met ‘n SANSOR-seël met ‘n unieke nommer daarop, verseël. Die saad word dan deur SANSOR-opgeleide en gemagtigde monsternemers bemonster en deur ‘n geregistreerde saadtoetslaboratorium ontleed om die ontkieming en fisiese suiwerheid van die saad te bepaal. ‘n Verdere monster word ook deur die afdeling Variëteitskontrole van DAFF uitgeplant om dit met die verwysingsmonster van die betrokke variëteit te vergelyk.

imageIndien die betrokke saadlot aan al die minimumvereistes van die Saadsertifiseringskema voldoen, insluitend dié vir variëteitsegtheid, sal SANSOR dan ‘n sertifikaat uitreik om die sertifisering daarvan te bevestig.

Deur gesertifiseerde saad aan te koop:

  • Kan die produsent die gemoedsrus hê dat die betrokke saadlot deur meer as 90 kontrolepunte gegaan het voordat dit vir verkoop beskikbaar gestel is.
  • Dat die produksie van die saad deur ‘n onafhanklike instansie gemonitor en gekontroleer is.
  • Dat daar ‘n volledige produksiegeskiedenis op rekord is.
  • Dat die betrokke saadlot voldoen aan vasgestelde minimumvereistes.

Deur gesertifiseerde saad aan te plant, word skaars hulpbronne optimaal benut deurdat die beste moontlike saad gebruik word wat die potensiaal het om die beste resultate te lewer. Dit is riskant vir ‘n produsent om nie gesertifiseerde saad aan te plant nie, want indien daar iets verkeerd gaan, byvoorbeeld swak ontkieming, het die produsent geen verhaalsreg nie en sal die verlies self gedra moet word.

Publication: March 2015

Section: Focus on