September 2015

image

Spaan se trein

Beste Grootneef

Ou Neef, dit klink of die Spaanse trein gaan sit. Dis nou in die Daspoorttonnel. En die Du Toitsklooftonnel. Eintlik klink dit of die nuwe treine oral gaan sukkel om in te pas!

Dit laat my dink aan die ou wat vanmelewe sy roomkanne met ‘n donkiekar na die Rustfonteinhalte karwei het. Van daar is die kanne elke oggend op die melktrein na Bloemfontein. Voor die stasie moes die donkiekar onderdeur die spoor. Die spruit het egter die deurgang met verloop van tyd toegespoel. Toe, op een vroegoggend, steek die donkie viervoet onder die bruggie vas, nadat sy ore teen die bruggie begin skuur het.

Die donkiedrywer het hot en haar probeer, maar die steeks donkie het bly staan asof hy geplant was. Jy kon maar sê, soos Lot se vrou wat in ‘n soutpilaar verander het…

Nou kyk, met die trein op pad en die room wat suur raak, het die drywer uit radeloosheid begin om met ‘n stuk ysterklip twee vore onder uit die betonbruggie te kap. Dít nou, sodat die donkie se ore nie teen die bruggie sou skuur nie!

Die lawaai het gou die stasiemeester uit sy kantoor gelok. Dié het met ‘n armswaai beduie dat die kappery nie geduld kan word nie – die brug is immers staatseiendom! Hy vra toe ook sommer die drywer hoekom hy nie liewer die sand onder die brug uitgrawe nie, dan sal esel se kind mos weer maklik pas. Waarop die drywer toe met ‘n kopskud en ‘n snork geantwoord het dat die stasiemeester duidelik nie insig in die probleem het nie. Dis die donkie se ore wat skuur, nie die donkie se pote nie!

Ou Neef, dié week het ek ook die gevoel gekry die trein-owerstes dink die volk het nie insig nie. Dis nie die treine wat te hoog is nie, dis die tonnels en kragkabels wat te laag is!

So dink ek toe ook aan ‘n ander groot sit. Dit was in die Kangogrotte neffens Oudtshoorn. Kyk, die bittereinders wie al deur die “duiwel se skoorsteen” gekruip het sal weet, dat net effe verder die grot in, die “posbus” lê en wag. Die gids het die dag ewe mooi beduie van “only letters, no parcels”, maar een gesette tante wóú daardeur. En daar sit sy toe wragtig vas… Soos die donkie onder die brug, wou niks vorentoe of agtertoe nie. Einde ten laaste het Oudtshoorn se brandweer haar toe met ‘n pot vaseline uitgewriemel.

Ou Neef, met die maak van enige plan moet daar gemeet en gepas word. En as jy nie mooi weet nie, vra jy raad. Die moeilikheid deesdae is egter dat elke tweede Jan Rap en sy maat hul uitgee as “konsultant”. Dis nou om raad te gee aan die owerstes in die staat wat van hul poste minder as ‘n kat van saffraan weet.

Nou ja, gegewe my uitgebreide ervaring in die tonnels van die Kangogrotte, bied ek my advies gratis en verniet aan die treinowerstes wie se lokomotiewe nie pas nie. Voor elke rit moet die man ne ‘n 50 gelling drom ghries vooraan die lokomotief vasmaak en dan kole gooi om enige tonnel met spoed te nader. Daardie trein sal dan nes die tante in die grot, soos ‘n prop uit ‘n sjampanjebottel dwarsdeur die tonnel vlieg!

Nou ja, danksy al die slim “konsultante” het ons nou duikbote wat nie kan duik nie, vliegtuie wat nie kan vlieg nie en treine wat nie pas nie.

Daar is darem altyd iets om voor dankbaar te wees…Want daar is steeds braaivleis, rugby, sonneskyn, musiek op die draadloos en skuim op die bier…

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.

Publication: September 2015

Section: Features