April 2016

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder

Een ding wat by vanjaar se Graan SA Kongres vir my uitgestaan het, was dat ons graanprodusente beslis nie tydens die droogte gaan lê het nie. Hulle praat oor die toekoms en droom ook nog oor die toekoms! Dit het my só bemoedig.

Daar moet steeds met die pyn van die droogte gedeel word, maar beplanning vir die volgende seisoen moet voortgaan. Selfs na twee dae se lang sit en amper net moeilike scenario’s evalueer, het die nuwe Hoofbestuur gaan sit en ‘n baie netelige saak hanteer oor die ongelukkigheid van die verteenwoordiging van ons nuwe eraboere rakende die Graan SA-strukture.

Wel gedaan manne…en vrou! Welkom aan die tweede vrou op ons Hoofbestuur – Preline Swart. Sy is egter die eerste vrou op Graan SA se Dagbestuur en ons sien uit na haar bydrae in die tyd wat voorlê.

Dit wil lyk of die ronde tafels by Kongres en die stemtoerusting hulle ding gedoen het. Ons het baie goeie deelname aan die besprekings gehad en kon sommer so vinnig-vinnig baie goeie opnames en menings van almal kry. Dit het behoorlik gegons.

Die Dagbestuur gaan die resultate saam met die personeel ontleed om ons te rig en te lei vir die toekoms. Alhoewel die scenario’s wat deur mnr Hamish McBain aan ons graanprodusente geskets is, ietwat meer negatief as positief was, is dit die feite wat ons in die oë moet kyk. Graan SA gaan beslis gefokus moet werk om te sorg dat ons steeds volhoubaar kan produseer en dat Suid-Afrika steeds kan staatmaak op voedselsekerheid.

Een van die uiters bemoedigende waarnemings die afgelope maand was die eerste Alumni-byeenkoms van sowat 40 van ons jong leiergraanprodusente wat al die Graan Akademie bygewoon het. Syngenta het vir ons die byeenkoms gereël en die manne kon hul stories met ons deel oor wat sedertdien in hul lewens en boerderybedrywighede gebeur het. Dit was om die minste te sê roerend!

Die manne het persoonlike stories gedeel oor hoe die kennis wat hulle opgedoen het hul lewens verander het en ook die manier waarop hulle met hul gesinne en werkers op die plaas omgaan. Ek is meer as ooit tevore oortuig daarvan dat hierdie belegging ons graanleierskap in die toekoms net tot voordeel kan wees. Ek sien uit na die deelname van die persone in ons Graan SA-strukture.

Ons graanprodusente het nie tydens die droogte gaan le nieEk het hierdie jaar met ‘n fyn oor na die Staatsrede (SONA) van ons President geluister om te hoor hoe hy die droogte sien. Die ontwrigtende gebeure tydens die gebeurtenis het ‘n mens laat wonder of ons leiers nog die land en sy mense as fokus het en nie net hulle eie politieke loopbane nie. Ek het egter nog nooit in my meer as 30 jaar in die graanbedryf gehoor van ‘n Graan SONA nie. Wel, dit is wat ek en Wandile Sihlobo (ekonoom: Graan SA) op 19 Februarie te beurt geval het.

Ons is genooi om die Landbouportefeuljekomitee vir drie ure lank, ononderbroke, in te lig oor die stand van die graanbedryf in Suid-Afrika. Die partye wat dit bygewoon het, was almal op een doel gefokus en dit is voedselsekerheid vir ons land en sy mense. Die partye het saamgewerk en die vrae wat daaruit voortgespruit het, het my bemoedig dat ons boodskap ter harte geneem is.

Só moet ons maar saai in die oggend en ook in die middag, want ons weet nie watter saad gaan ‘n oes oplewer nie. Dalk, en net dalk, het daar ‘n einde aan die politieke droogte gekom waar ons as graanprodusente nie aangehoor is nie.

Publication: April 2016

Section: Features