March 2016

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Ek kom nou die dag op ‘n deel in die Bybel af waar die volk Israel vir die Here sê: “Ons weet nie wat om te doen nie.”
My gedagtes het onwillekeurig na Suid-Afrika gegaan oor al ons omstandighede. Ons is behoorlik omring deur moeilike omstandighede: Ekonomies, polities, wat verhoudinge betref en selfs die natuur. Nou waarheen nou? Dit is elke dag se vraag en bepeinsing. (Ek dink my bepeinsing sal ek met ‘n lang “y” wil spel.)

Ons land is in verskeie krisisse en saamstaan is die enigste pad vorentoe. Ek verstom my oor sommige instansies se leiers wat dan nog skoor soek en fout vind met ander terwyl dit nie voor hulle eie deure skoon is nie. Ek moes ook weer mooi in my eie hart kyk na my besorgdheid oor ons land. Dit behoort tog nie aan my nie, maar dan weer het ons ‘n roeping om hier te wees en die taak wat ons opgelê is, uit te voer. Hoe gaan ons in sulke moeilike tye volhoubaar kos kan produseer dat ons rustig kan woon en werk soos die belofte strek?

Die droogte van 2015 en 2016 het die vermoë om baie fokus op die korttermyndinge te plaas. Baie energie en hulpbronne word op die oorlewing van die hier en die nou geplaas. Alhoewel die huidige omstandighede oorkom moet word, was daar ‘n paar ernstige strategiese tendense aan die einde van 2015 wat langtermynaandag vereis: Die intensiteit van die klimaatverandering en die toename van meer gerugte van inmenging in die mark deur die regering. Hierdie twee tendense sal ernstig onder die loep geneem word tydens die Graan SA Kongres van 2016.

Daar is al hoe meer stemme wat aansluit by die koor dat die land op pad is na ‘n algehele ineenstorting. Is ons gewoon net op ‘n onomkeerbare trajek of kan dinge nog verander? Uit die aard van ons wese as graanprodusente bly ons optimiste. Net toe almal teen Kersfees dog die koeël is nou deur die kerk, plant die produsente sowat 700 000 ha in tien dae se tyd. Dit wil gedoen wees!

‘n Graan SA-opname op 15 Januarie vanjaar het aangedui dat die mielie-aanplantings sowat 1,3 miljoen hektaar gaan wees. Die Oesskattingskomitee se syfer op 25 Januarie (en na ‘n paar lekker buie reën) was 1,99 miljoen hektaar. Dit kan ook as 1,26 miljoen pitte per minuut uitgedruk word. Hierdie is ‘n tipe voedselsekerheidskapasiteit wat nie te versmaai is nie. Ons weet egter dat die mielies nog lank nie in die silo’s is nie, maar ten minste is daar al ‘n kans dat ons iets gaan stroop.

Graan SA wil graag tydens die Kongres van 2016 die buitelyne van die toekomspad van graanprodusente in die land probeer trek sodat daar behoorlik beplan kan word vir wat nodig is om nie net te oorleef nie, maar vorentoe te kan gaan. Die mark was sedert 1997 wreed, dog regverdig, maar dit wat voorlê mag dalk selfs meer onvoorspelbaar wees. Ons het nog altyd die produsent as die vertrekpunt van voedselproduksie gesien en dit sal interessant wees om te sien waar die produsente geposisioneer gaan wees in die bedeling wat nou gaan volg.

‘n Mens kry party dae die indruk dat ander partye meen hulle vorm die middelpunt! Tyd gaan ons leer, maar die prys van foute kom baie mense in ons land baie duur te staan.

Publication: March 2016

Section: Features