Graanprodusentwenners wys geestelike taaiheid te midde van uitdagings
November 2015

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain medewerker en foto’s: HELENUS KRUGER

Net soos bekende historiese en huidige legendes in die wêreld, het die Graanprodusent van die Jaar 2015-finaliste en wenners ook met uitdagings te doen op hul pad na sukses.

Genade Boerdery van Douglas (Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar), mnre Ngubengcuka Christian Moyo van Maclear (Graan SA/ABSA Bestaansboer van die Jaar), Daliwonga Nombewu van Mthatha (Graan SA/Syngenta Kleinskaalseboer van die Jaar) en Solomon Masango van Carolina (Graan SA/ABSA/John Deere Financial Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar) se profielstories getuig elkeen van geestelike taaiheid te midde van die uitdagings op hul pad na sukses.

Dié stories het me Linda van der Merwe (hoof: Kliëntebemarking, Syngenta Suid-Afrika) laat terugkyk op merkwaardige historiese en huidige legendes se lewens en moeilike tye wat hulle moes deurmaak. “Vincent Willem van Gogh het jare gesukkel met maniese depressie, epilepsie en ‘n baie skaars pynlike buiksiekte. Tog het hy sy bekende ‘Sterrenag’-kunswerk voltooi in die jaar voor sy dood.”

Van der Merwe het ook kortliks uitgebrei op Hugh Ramopolo Masekela (Suid-Afrikaanse jazz trompetspeler) en Albert Einstein (wetenskaplike) se suksesverhale asook die meer hedendaagse voorbeeld van Victor Matfield (Springbokrugbyspeler).

Sy het verder vertel van Peter van Kets, ‘n bekende avontuurlustige, wat tydens een van sy motiveringspraatjies ‘n paar gedagtes gewissel het oor hoe om ‘n suksesvolle en betekenisvolle lewe te lei ondanks teenspoed: “Omring jouself met ‘n wenspan, verstaan die voordeel wat dit vir jou inhou as jy ander help om sukses te behaal en laastens, maar nie die minste nie, ontwikkel ‘n wenhouding.”

Mnr Victor Mongoato (visevoorsitter: Graan SA), wat gaste by die toekenningsgeleentheid verwelkom het, sê dat ons lyding moet deurmaak, want lyding bring volharding, volharding skep karakter en karakter skep die hoop wat ons in God het.

Samewerking is nodig om uitdagings te oorkom

Volgens mnr Brienne van der Walt (hoof: Besigheidsbanksektor en Segmente, Barclays Africa en ABSA) is toegang tot inligting besig om teen so ‘n vinnige tempo te verander, dat die probleem nie die tekort aan inligting is nie, maar eerder die kapasiteit en vermoë om data in ‘n bruikbare formaat om te sit.

“Baie van julle is reeds groot datagebruikers in die bestuur van jul boerderye. John Deere se tegnologie en sagteware is ‘n goeie voorbeeld van hoe miljoene grepe (bytes) van sensoriese en waarnemingsdata verwerk en geïnterpreteer word in iets wat jou in staat stel om beter en meer winsgewend te boer.

“ABSA se samewerkingsooreenkoms met John Deere Financial is ook ‘n bewys van ons filosofie by ABSA om saam te werk met soveel landbourolspelers as moontlik, bo en behalwe ons betrokkenheid by die finansiering aan die primêre produsent se kant,” het Van der Walt gesê.

Mnr Louw Steytler (voorsitter: Graan SA) het die belangrikheid van sulke samewerkingsooreenkomste benadruk. “Dit is hoe ons as land uitdagings gaan oorkom. Voorbeelde soos dié same werkingsooreenkoms moet ons aanmoedig as ons ‘n beter samelewing wil hê as die een wat ons geërf het. Ons moet die oppervlakkige skeiding wat veroorsaak word deur vooroordeel, waarvoor daar nie meer plek is nie, toemaak, sodat die droom van ‘n pragtige, harmonieuse, veilige en gelukkige Suid-Afrika bereik kan word,” het Steytler gesê.

Vir die eerste keer in die geskiedenis van die kompetisie het die Nuwe Era Kommersiële Boer van die Jaar, Solomon Masango, ‘n John Deere 5403 MFWD trekker gewen wat geborg is deur John Deere Financial in vennootskap met ABSA.

“John Deere Financial verstaan die belangrikheid daarvan om nie net ‘n kliëntebasis vir die toekoms te bou nie, maar ook te help bou aan ‘n inklusiewe en diverse landbousektor. Ons moet ‘n toekoms bou wat gebaseer is op kommersiële beginsels en waardes. Die mededingendheid van die landbousektor moet ten alle tye beskerm word,” meen mnr Jacques Taylor (besturende direkteur: John Deere Financial, sub-Sahara Afrika en Thailand).

As Taylor ‘n kykie in die kristalbal vir landbou teen 2025 gee, glo hy dat tegnologie die grootste ontwrigter in landbou sal wees. “Tegnologie sal besigheid in landbou herdefinieer. Om hierdie sektor vorentoe te neem, sal die samewerking tussen kernrolspelers in die waardeketting al hoe belangriker word. Die fasilitering van toegang tot tegnologie en voortdurende pogings om doeltreffendheid te verbeter, moet die temas wees soos ons die toekoms in gaan.”

Bydraers tot voedselwaardeketting met toekenning vereer

Graan SA het verlede jaar begin kyk hoe hulle mense in die voedselwaardeketting kan inspireer en ophef om sodoende die waardeketting meer kompeterend te maak. Daar is toe besluit om ‘n inspirasietoekenning by dié geleentheid te oorhandig aan ‘n individu of organisasie wat die graanindustrie met uitnemendheid dien en bydra tot die welvaart van die industrie.

Hierdie spesiale toekenning is vanjaar oorhandig aan dr Julian Jaftha (hoofdirekteur: Plantproduksie en Gesondheid, Departement van Landbou, Bosbou en Visserye).

Graanprodusentwenners wys geestelike taaiheid te midde van uitdagings

Graanprodusentwenners wys geestelike taaiheid te midde van uitdagings

Publication: November 2015

Section: Grain SA