January 2016

— Overberg Agri Plaaspersoneel Ontwikkelingsdag

LIANA STROEBEL, ontwikkelingskoördineerder: Graan SA

Die jaarlikse Plaaspersoneel Ontwikkelingsdag wat deur Overberg Agri gereël word, het op Donderdag, 3 September 2015 by twee afsonderlike proefplase in die Wes-Kaap plaasgevind.

Die eerste geleentheid het die oggend om 09:00 by Roode bloemproefplaas net buite Caledon afgeskop waarna die tweede sessie om 13:00 by die Sensako-proefplaas op Napier plaasgevind het.

Verskeie gassprekers het waardevolle inligting by hierdie sessies met soveel soos 400 plaaswerkers uit die omgewing gedeel. Mnr Israel Mashile van Bayer het oor beroepsgesondheid en -veiligheid op die plaas gesels, waarna me Samantha Smile, ‘n nuwe era-boer van Spanjaardskloof, die hantering van persoonlike finansies en die gebruik van selfone tydens werkstyd bespreek het.

Me Liana Stroebel het meer vertel van die verskeie Graan SA opleidingskursusse wat aan alle plaaswerkers in die Wes-Kaap beskikbaar is en personeel aangemoedig om aan te hou leer, hul kennis op te bou en trots te wees op dít wat hulle doen, waarna verteenwoordigers van die Departement van Justisie en Maatskaplike Ontwikkeling ‘n humoristiese vertoning gelewer het om die boodskap van beter kommunikasie, reëls en konsekwentheid onder plaasgesinne oor te dra.

Na afloop van hierdie gedeelte van die program, is plaaspersoneel in hul onderskeie graan- of vee-spesialisareas verdeel. Persone wat meer in die graanvertakkings werk, is uitgeneem na verskeie demonstrasiepersele waar navorsers van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Agricol, Sabbi, Klein Karoo en Sensako kultivarkeuse, plant ontwikkeling en die identifisering van verskeie siektes en onkruide op koring, gars, kanola en voergrane bespreek het.

Verder het personeel wat weer in die veevertakkings werk of belangstel, insiggewende inligting rakende die inenting en dosering van skape van die plaaslike veearts, dr Hensie Lategan, ontvang.

Die doel van hierdie dag is veelvoudig en sluit in om plaaswerkers blootstelling aan verskeie onderwerpe te gee, erkenning te gee, op te lei, te motiveer om na uitnemendheid te strewe en om hul te laat besef watter belangrike rol hul in die landboubedryf van die Wes-Kaap speel.

Graan SA voel geëerd om deel te wees van só ‘n spesiale dag. Hartlike dank aan die borge vir die dag naamlik Bayer, Terason, Graan SA, SOILL, Verbac, Overberg Agri en Sensako.

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig

Goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge in die kollig

Deel jou praktyke met medeprodusente
Graan SA-lede is welkom om wenke vir goeie arbeidspraktyke en -verhoudinge op die plaas of praktyke
wat hulle op die plaas toepas en wat vir hulle werk, met hulle medeprodusente te deel.
Stuur ‘n e-pos na 
estiedv@mweb.co.za en ons sal jou kontak.

Publication: January 2016

Section: Relevant