January 2016

image

PIET CROUCAMP, politieke ontleder

In landboukringe word dikwels gewonder of die regering ‘n begrip het vir die gevolge wat beleidsonsekerheid vir effektiewe produksie en suksesvolle markontwikkeling inhou. Dieselfde twyfel wat betref die staat of regering se politieke en ekonomiese voornemens heers ook in die mynbou- en vervaardigingsektore van die ekonomie. Die enkele mees
morbiede waarneming wat betref beleidsonsekerheid, is dat kapitaaleienaars skugter is om te draal in ‘n omgewing waar alle rolspelers nie konformeer tot gekodifiseerde spelreëls nie.

Anders gestel: Waartoevoeging vereis bestendige omstandighede en voorspelbare gedrag van die belangrikste rolspelers. Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) is ‘n uiters gekodifiseerde bloudruk, maar om komplekse of selfs onverstaanbare redes kan die lojaliteit van die regering jeens die NOP met reg bevraagteken word.

Die probleem ontstaan waarskynlik alreeds in die konseptuele raam werk van die NOP. Die regering se definisie van voedselsekerheid verskil heel moontlik fundamenteel van dié van georganiseerde landbou. Só ook konsepte soos landelike veiligheid, ontwikkeling, bemagtiging en grondhervorming. Die gebrek aan konsensus wat betref hierdie konsepte het waarskynlik te doen met kompeterende ideologieë.

Die staat beskou bemagtiging deur ‘n lens van staatsintervensie en georganiseerde landbou verstaan bemagtiging as die natuurlike nagevolg van ekonomiese groei. Die praktyk is egter aan landbou se kant – veral as die relatiewe sukses van staatsintervensie gemeet word aan die resultate van bemagtigingsprojekte wat produsente op eie inisiatief onderneem.

Daar is ‘n fundamentele verskil tussen die staat en die megaboere se inisiatiewe. Dit is geleë daarin dat die regering nie die oordrag van bates as die belangrikste oogmerk van bemagtiging beskou nie. Die geskiedenis laat egter weinig illusies: Eienaarskap is fundamenteel tot bemagtiging.

In byna elke land in die wêreld waar eienaarskap en batebesit geëer is, is relatiewe welvaart en bemagtiging ‘n gegewe. In suksesvolle ekonomieë is die oordrag van eienaarskap wat betref bates, ‘n eenvoudige, dog gereguleerde transaksie en die vloei van kapitaal word bepaal deur die mark eerder as deur die teenwoordigheid of onvoorspelbaarheid van diverse risiko’s.

Belangriker egter, is dat bates – of die waarde wat akkumuleer as gevolg van die waarskynlike appresiasie in die waarde van bates – oorgedra word van een generasie na ‘n volgende. Die eenvoudigste bewys daarvan, is die feit dat in suksesvolle politieke ekonomieë byna elke generasie materieel beter af is as die voorafgaande geslag.

Die mensdom beleef, in algemene terme, ongekende voorspoed vis-à-vis hul voorgeslagte en eienaarskap is in die kern van daardie dinamika. Die Chinese ekonomie en die lewenskwaliteit van daardie land se mense het astronomies gegroei met die besef van hul politieke leierskap dat welvaart ‘n markgedrewe verskynsel is.

Sonder ekonomiese groei is relatiewe of selfs absolute armoede ‘n noodwendigheid; en kapitaalakkumulasie (ekonomiese groei) vind slegs plaas onder omstandighede van mededinging en investering. Sonder bates, egter, is beide mededinging en groei blootgestel aan risiko’s wat onder meer geïnhibeerde groei insluit. Maar die belangrikste kenmerk van eienaarskap en bate-besit is dat dit vertroue in bepaalde ekonomiese aktiwiteite rugsteun; en die ewewig van mededinging waarna markte behoort te streef, is geweldig afhanklik van vertroue.

Dit is die rede waarom die bemagtigingsprojekte wat produsente in Suid-Afrika self inisieer, byna altyd beter sal vaar as dié wat geforseer word deur die ideologiese intensies van die staat. Die kommersiële argitektuur van bemagtiging sal nooit tot wasdom kom sonder die oordrag van bates, eienaarskap en titelaktes nie.

Daaruit vloei ‘n ander belangrike waarheid: Bemagtiging kan nie net een van die deelnemende partye bevoordeel nie. Daar moet ook bemagtiging in die transaksie of ooreenkoms wees vir die party wat die risiko’s van die projek gaan dra. Wanneer produsente ‘n meetbare geleentheid tot groei in ‘n bemagtigingsprojek kan identifiseer, het hul deelname waarskynlik aansienlik meer integriteit.

Die vraag is nou, hoe word die regering of die staat oortuig van die waarde van bates en die oordrag van eienaarskap? Daar is geen twyfel nie dat die ANC ‘n mate van wantroue jeens eienaarskap as ‘n indikator van welvaart koester. Dit beteken nie dat arm Suid-Afrikaners dieselfde wantroue troetel nie.

Kommersiële landbou en kapitaaleienaars moet self die proses wat eienaarskap bevorder, dryf en bestuur. Produsente en die sakegemeenskap het aansienlik meer gesag as wat hulle besef – of wat hulle bereid is om te gebruik – in die onderhandeling van bemagtigingstransaksies.

Gebruiksreg sonder eienaarskap gee nie alleen aan die staat onewewigtige mag oor die bemagtigde nie, maar skep of bevestig ook ‘n feodale ingesteldheid jeens welvaart wat inisiatief en die bereidwilligheid om risiko’s te neem, inhibeer. Dus, indien landbou bemagtiging enigsins wil laat wortel skiet op ‘n volhoubare basis, sal produsente dit self moet doen. Dit is ‘n uitdaging, maar ook ‘n geleentheid vir verdere welvaartskepping.

Publication: January 2016

Section: Relevant