October 2016

LUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom: Graan SA

Die landbousektor het die afgelope paar jaar geweldige veranderinge ondergaan. Die veranderinge in die sektor strek vanaf plaasvlak reg deur die waardeketting tot en met die produk op die winkelrak. Die bedryf het meer gesofistikeerd geraak en oraloor verkondig advertensies dat produsente nie meer net produsente is nie, maar dat hul daaglikse take veel verder strek en ‘n verskeidenheid vakgebiede insluit. Produsente is derhalwe meer kundig as waarvoor hul erkenning kry.

Daaglikse take van die hedendaagse produsent sluit baie bestuursaspekte in – wat strek van personeel tot en met risiko en selfs trekker- of bakkiebestuur. Intussen moet die produsent nog die markte dophou vir bemarkingsdoeleindes, terwyl hy besig is met die belangrikste taak van alles – om voedsel vir ons land en sy mense te produseer.

Risiko’s in die markte

Daar bestaan egter verskeie risiko’s in die markte van die produkte wat deur produsente geproduseer word. Hierdie risiko’s strek vanaf produksierisiko tot en met prysrisiko. Oor produksierisiko het produsente in die meeste gevalle nie beheer nie en is hulle oorgelaat aan die genade van die natuur.

Prysrisiko egter, kan produsente tot ‘n groot mate bestuur. Hierdie prysrisikobestuur kan gedoen word deur gebruik te maak van termyn- en opsiekontrakte op die Safex-mark.

Die Safex-mark bied aan produsente die geleentheid om gebruik te maak van afgeleide finansiële instrumente om prysrisiko deur middel van verskansing te bestuur. Bemarking van produkte kan sodoende begin al lank voor die fisiese produkte verkoop word. Dit bied aan produsente meer onderhandelingsmag, omdat hulle nie bloot die prys van die dag moet aanvaar nie.

Hierdie prysrisikobestuur kan nou ook in die beesbedryf toegepas word danksy die termynkontrakte wat op Safex beskikbaar is. Deur gebruik te maak van hierdie termynkontrakte kan beesprodusente ook nou beter bemarking begin toepas met die onderhandelingsmag waaroor hulle beskik.

Die kontrakte kan ook vir verskeie ander redes aangewend word en die hele beesvleiswaardeketting vanaf die primêre produsent tot en met die handelaar wat die vleis versprei – en almal tussenin – kan hierdie kontrakte suksesvol gebruik.

Hoe lyk die beeskontrak?

Die karkaskontrakte wat einde Januarie 2016 amptelik deur die JSE bekend gestel is en wat op Safex verhandel, is A2/A3-karkaskontrakte met twee sye per karkas en ‘n bouvorm van twee tot vyf. Een kontrak is ‘n 1 000 kg en die pryse word in R/kg gekwoteer.

Daar is vier verskansingsmaande vir die karkaskontrakte, naamlik Maart, Junie, September en Desember. Die kontrakte is slegs kontantlewerings en daarom kan daar geen fisiese lewerings op die kontrakte plaasvind nie. Dit bly egter bloot ‘n finansiële instrument wat gebruik kan word vir prysrisikobestuursdoeleindes.

Die finale leweringsprys teen kontrakvervaldatum is ‘n tweeweeklikse geweegde gemiddelde verkoopprys van die A2/A3-karkasse. Die prysinligting word deur die Rooivleis Abattoir Vereniging verskaf.

Alhoewel daar op hierdie stadium slegs ‘n karkaskontrak beskikbaar is, moet die waarde van hierdie kontrak nie gering geskat word nie. Die kontrak kan ook suksesvol aangewend word vir diegene wat speenkalwers bemark deur die speenkalfprys van die karkasprys af te lei. Grafiek 1 toon die A2/A3-karkas en speenkalfpryse.

Bestuur jou graan- en veeprysrisiko só

Hoe werk dit in praktyk?

Die verwantskap tussen die A2/A3-karkaspryse en die speenkalfpryse kan dien as riglyn vir die gebruik van die karkaskontrak om speenkalwers te bemark. Die speenkalfkontrak word in die bemarkingskontrak as ‘n persentasie van die karkaskontrak vasgeteken. Op dié manier kan die speenkalfprysrisiko ook verskans word.

Die verskil tussen die A2/A3-karkasprys en die speenkalfprys moet net vooraf vasgestel word en dan beweeg die twee pryse saam. Sien die voorbeeld in Tabel 1.

Bestuur jou graan- en veeprysrisiko só

Voorbeeld
A2/A3-termynprys vir lewering in Desember = R41/kg
*Speenkalfpryse = A2/A3 – *R20/kg
Speenkalf vir lewering in Desember = R21/kg
In Desember het die fisiese prys van karkasse gedaal na R38/kg

*Die R20/kg is slegs vir verduidelikingsdoeleindes ingesluit en is nie ‘n vasgestelde prys nie. Die prysverskil kan deur die verskanser en verskansingverskaffer onderling vasgestel word.

Uit Tabel 1 kan afgelei word dat die speenkalfprys dan saam met dié van die karkas beweeg. Die prys van die speenkalf word dus teen R21/kg vasgestel vir lewering in Desember. Daar word dan in Augustus kontrakte verkoop vir lewering in Desember teen R41/kg om verskansing te verseker.

Gestel in Desember het die fisiese prys gedaal tot en met R38/kg. Die waarde van die speenkalf is dan R18/kg. Die verskanste prys was egter R21/kg vir speenkalwers.

Aan die termynbeurskant is daar steeds verkoopkontrakte teen R41/kg. Die verkoper van die kontrakte is nou verplig om presies dieselfde kontrakte terug te koop, maar die waarde van die kontrakte is nou net R38/kg.

Daar sal dus aan die termynbeurskant ‘n wins van R3/kg gemaak word. Die wins van R3/kg kan by die R18/kg gevoeg word – wat vir die fisies-gelewerde speenkalwers ontvang is. Die netto prys wat vir die speenkalf ontvang is, is dan R21/kg.

Speenkalf fisies gelewer: R18/kg
Termynbeurs: R3/kg wins
Netto = R18/kg + R3/kg = R21/kg

Die kontrakte kan aangewend word wanneer daar speenkalwers en/of karkasse verkoop of aangekoop word. Die hoofdoel van die kontrakte bly egter om die prysrisiko te bestuur. Die gebruik van die kontrakte kan ondersteuning verleen om finansiële bestuur te vergemaklik en die verskanste pryse kan in kontantvloeiberekeninge ingewerk word omdat die pryse waarteen die produk verkoop of aangekoop word, alreeds lank voor die tyd vasgestel kan word. Dit kan ook beter margebestuur in die hand werk.

Kombinasie van graan- en karkaskontrakte

Daar bestaan voorts ‘n verwantskap tussen die mielie- en die vleispryse. In baie gevalle het saaiprodusente ook ‘n beesvertakking omdat die twee mekaar uitstekend komplimenteer en dit ook dien as diversifikasie en risikobestuur in die boerdery.

Die graan-Safex-kontrakte is alreeds vir 20 jaar aan die gang en produsente gebruik dit vir prysrisikobestuursdoeleindes en be marking. Dit is egter nou gepas – met die beskikbare karkas kontrakte – om vas te stel hoe hierdie kontrakte in kombinasie met mekaar gebruik kan word.

Grafiek 2 toon die prysverhoudings tussen geelmielies en A2/A3-karkasse, asook die geelmielie/speenkalfprysverhouding. Die fisie se geelmieliepryse is ook in Grafiek 2 aangebring.

Bestuur jou graan- en veeprysrisiko só

Grafiek 2 toon ‘n redelike duidelike verwantskap tussen die mie liepryse en die speenkalf- sowel as die karkaspryse. Dit kompli menteer mekaar dus uitstekend met die oog op diversifikasie as gevolg van die redelike sterk inverse prysverhouding tussen die prysbewegings. Rolspelers in die bedryf kan hulle gaan vergewis van die risiko- en prysverhoudings en van die Safex-kontrakte ge bruik maak om prysrisiko te bestuur.

Mielies maak ook ‘n groot deel van die voerkoste in voerkrale uit. Voerkrale en/of produsente wat self diere afrond, kan van beide kontrakte gebruik maak om risiko te bestuur. Voerkoste en aankooppryse van diere maak ‘n groot deel van die veranderlike koste in voerkrale uit.

Aan die ander kant is die verkoopprys van diere wat slaggereed is ‘n groot risikofaktor, omdat dit baie wisselvallig is. Deur gebruik te maak van die verskillende Safex-kontrakte kan hierdie drie groot veranderlikes verskans word en ‘n groot deel van die risiko uitgesny word.

Ten slotte

Dit is belangrik om in ag te neem dat die hoofdoel van Safexkontrakte is om prysrisiko te bestuur. Dit verleen ondersteuning met die bemarking van produkte en bied meer onderhandelingsmag aan die verkillende rolspelers wat die kontrakte gebruik, omdat die bemarking al vroeg in die seisoen kan begin en jy nie aan die mark oorgelaat is op die dag wanneer jy moet verkoop nie.

Dit bly egter elkeen se verantwoordelikheid om te bepaal hoe die gebruik van die kontrakte by sy bestuurs- en bemarkingsomgewing kan inpas.

Publication: October 2016

Section: Focus on