September 2017

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Bewerkings-, bemestingspraktyke en kultivarprestasie is gewoonlik van die aspekte wat druk deur produsente bespreek word. Dit is beslis belangrik, maar onkruidbeheer haal normaalweg min gesprekke. As dit bespreek word, sal die gesprek gewoonlik net oor die prys handel en die werking van die produkte sal nie naastenby soveel aandag kry nie.

Onkruid is een van ‘n graanprodusent se grootste vyande. Soms lyk dit of hierdie vyand die oorhand het en gevolglik daal produksie en inkomste radikaal.

Vroegtydige beplanning is half gewin
Besluit vroegtydig watter bespuitingsprogram gebruik gaan word, wanneer dit gespuit moet word en watter omstandighede die werking van die middels gaan benadeel. Doen self die som om te besluit of onkruid chemies of meganies beheer moet word.

Maak seker dat jy die effek van vogverlies ook in aanmerking neem. ‘n Groot aantal winteronkruide word oor die hoof gesien en op die ou einde moet ‘n mens groot kostes aangaan om die gevestigde onkruid onder beheer te kry. Hoe kleiner die onkruid, hoe makliker word dit doodgespuit.

Skerp jouself op
Ons staan nou aan die begin van ‘n nuwe seisoen. Verfris jou geheue oor wat, wanneer, waar en hoe alles gedoen moet word. Verseker dat jy weet hoe om die toerusting in te stel en te gebruik. Gun jouself die tyd om net weer op hoogte te kom met watter produkte gemeng mag word en hoe dit gedoen moet word. Onthou om ook aandag aan arbeiders en spuitoperateurs te gee.

Diens die spuittoerusting
Produsente laat maklik na om spuittoerusting te diens en as die toerusting moet begin werk, is daar soms probleme wat kop uitsteek. Diens jou toerusting sorgvuldig en sorteer probleme nóú uit – voor die bewerkingseisoen begin.

Verlede jaar was daar dalk ‘n paar veranderinge wat jy wou aanbring. Onthou om die veranderinge te herbesoek. Die effek van toerusting wat nie reg werk nie, is eers later bekend en dan is dit te laat en is skade reeds gedaan.

Dit is belangrik dat die spuittoerusting binne sowel as buite behoorlik skoon moet wees. Die spuitkoppe, pype asook alle filters moet sorgvuldig skoongemaak word. ‘n Groot aantal van die chemiese middels laat ‘n aanpaksel in die pype en sodra die spuit weer begin werk, kom dit los en blok filters en spuitkoppe.

Verskeie metodes en middels is beskikbaar om die spuittenk, asook die spuitpype, mee skoon te maak. Praat gerus met jou chemiese adviseur om die mees geskikte middel te identifiseer.

Dit is veral raadsaam om ‘n addisionele stel filters te laat installeer om te verseker dat die spuitkoppe deeglik beskerm is.

Veral met die groot selfloopspuite is dit belangrik om een maal per jaar ‘n goeie vloeiratiotoets te doen om te verseker dat spesifieke spuitkoppe se lewering (liter/ha) en die druk waarteen gespuit word, korrek is. Sodra die spuit begin werk en die spoed varieer, moet die druk ook kan varieer om die lewering per hektaar konstant te hou. Maak daarom seker dat hierdie toerusting so effektief en doeltreffend moontlik werk.

Die spuitkoppe slyt ook en moet soms vervang word. Gaan veral hul lewerings- asook spuitpatrone na en indien dit van die spesifikasies afwyk, vervang dit. As die spuit oor meer as een seksie beskik wat afsonderlik beheer en deur verskillende pype voorsien word, moet elke seksie afsonderlik nagegaan word.

Sommige spuitkoppe soos luginspuiting-spuitkoppe (air injection nozzels) het die vermoë om groter luggevulde druppels te vorm, wat minder spuitdrif veroorsaak en teen hoër druk kan spuit. Vergewis jouself daarvan dat die spuitkoppe wat jy gebruik, geskik is vir die taak wat jy wil verrig.

Die spuitpomp is die kerngedeelte van die spuit. Kontroleer die lewering van die spuitpomp. Kontroleer die olievlak asook die oliekleur. Dra sorg dat die spuitpomp die regte druk, soos vereis, kan lewer. Indien die druk te laag is, sal die chemiese middels nie die teikenarea kan bereik nie en te hoë spuitdruk sal te veel spuitdrif veroorsaak – met dieselfde effek.

Beperk spuitstofdrif om die effektiwiteit en doeltreffendheid te verhoog
Spuitstof wat wegdryf, is verlore. Dit veroorsaak dat die spuitstof wat op die plant land, te min is en dan is dit nie effektief nie. Spuitstofdrif word deur ‘n aantal aspekte beïnvloed, soos:

  • Druppelgrootte;
  • spuithoogte;
  • spuitspoed;
  • windspoed;
  • lugtemperatuur en humiditeit; en
  • spuitvolumes.

Die druppelgrootte is ‘n bestuurbare faktor wat spuitstofdrif beduidend kan beïnvloed. Lae spuitvolumes wat teen ‘n té hoë druk gespuit word, lei tot klein druppels wat maklik wegwaai. Sien daar­om toe dat die regte spuitkoppe en die regte druk gebruik word om die meeste plantbedekking te verseker.

Teen ‘n windspoed van 5 m/s mag daar nie meer gespuit word nie. As teen ‘n laer windspoed van ongeveer 3 m/s gespuit word, sal dit nodig wees om die druppelgrootte aan te pas.

Spuithoogte bepaal hoe lank dit die spuitstof neem om hul teiken te bereik. Hoe hoër die spuithoogte van die grond af is, hoe hoër is die spuitdrif. Pas derhalwe die spuitkoppe aan wanneer daar hoog gespuit moet word.

Windspoed en temperatuur, asook humiditeit, sal ook die hoeveelheid spuitdrif beïnvloed. Wees versigtig om op die hitte van die dag te spuit. Dit het ‘n effek op die spuitdrif, asook op die werking van die chemiese middels. Probeer eerder teen laer temperature en in windstiltye te spuit en bly binne die spesifikasies van die spuitkopvervaardiger.

Die gebruik van ‘n antiverdampingstof kan tot produsente se voordeel wees. Hierdie middels sal ondersteuning verleen dat die spuitstof op die plant ‘n bietjie langer tyd het om opgeneem te word. Dit verseker dat die effektiwiteit van die spuitstof verhoog.

Ander praktiese probleme wat algemeen voorkom
As daar iets in die spuitkop vassteek, sal die lewering en die spuitpatroon beïnvloed word. Maak die spuitkoppe en filters gereeld skoon.

Kontroleer die spuite se kalibrasie op ‘n gereelde basis en kontroleer dat die hoeveelheid onkruiddoder gebruik met die oppervlakte gespuit korreleer. Sien toe dat die kalibrasie reg is en dat die operateur weet teen watter spoed en enjinomwentelinge gery moet word.

Die mengvolgorde van chemiese middels is krities. Dra sorg dat die middels in die regte volgorde in die spuit gegooi word. Maak ook seker dat die operateur weet hoe om die middels te meng en kontroleer dat dit reg gedoen word.

Stof benadeel die werking van die chemiese middels wat gespuit word. Bestuur veral die stof wat deur die wiele opgeskop word. Praat met jou verteenwoordiger oor maniere om die effek van stof te beperk.

Kwaliteit watervoorsiening vir ‘n spuit is gewoonlik ‘n uitdaging en duur. Deur die spuitvolumes te verminder, kan die waterbehoefte verlaag word. Pasop vir hierdie stap, omdat die meeste spuitmiddels by betreklik hoë watervolumes getoets en aanbeveel word. Praat met jou verteenwoordiger en vergewis jouself van wat die minste watervolume per hektaar kan wees.

Water wat gebruik word, verskil ook beduidend in terme van kwaliteit en suiwerheid. Besoedeling in die water kan die chemiese middels se werking ernstig benadeel. Verseker dat skoon water ten alle tye gebruik word en dat die nodige middels ingegooi word om die pH en ander kwaliteite van die water reg te stel.

Tydigheid en doeltreffendheid is krities in onkruidbeheer. ‘n Paar ongunstige spuitdae kan alles omkeer en dan is surplus spuitkapasiteit ‘n noodsaaklikheid. Hou ‘n surplus spuit – al is dit ook ‘n laer spesifikasie spuit – in plek om in hierdie tye te kan uithelp.

Tydigheid van spuiting is krities. Sien toe dat onkruid so klein as moontlik gespuit word en dat die onkruid nie onder stremming is nie. Pas veral op vir winteronkruid. As daar van hierdie onkruid teenwoordig is, moet jy sorg dra dat die dosis sterk genoeg is om die onkruid te dood en nie net te skroei nie.

As hierdie onkruid eers begin groei, is dit ‘n groot uitdaging om dit dood te spuit en onkruid onder stres, kan die werking van die onkruiddoder beïnvloed. Bespreek hierdie saak met jou ver­teenwoordiger om seker te maak of daar in hierdie omstandighede gespuit kan word.

Talle produsente is nie heeltemal bewus van hul onkruidspektrum op die plaas nie. In sommige gevalle word die dosis van die spuitstowwe verkeerd bereken en word daar in ‘n sekere mate vir onkruiddoderweerstandigheid geteel. Deur gereeld die aktie­we bestanddele van die onkruiddoder te wissel, help ook om onkruiddoderweerstandigheid te voorkom.

Indien jy nog nie van satelliettegnologie gebruik maak om die rybane uit te wys nie, sien toe dat die drywer presies weet waar om te ry en watter gewasrye gebruik moet word om dubbel spuit te voorkom. Die dubbel spuit van stroke is net so oneffektief soos om stroke glad nie te spuit nie.

Wees versigtig om eie chemiese middels te meng wat in die meeste gevalle buite spesifikasies en aanwendingriglyne is – dit kan dalk goedkoop koop wees wat duur koop raak. Lees die pamflette en dra sorg dat jy die chemiese middels binne spesifikasies en riglyne bly gebruik.

Hierdie is net ‘n paar gedagtes. Praat met jou eie, asook ander, che­miese verteenwoordigers om die beste oplossing vir jou plaas se uitdagings te kry. Pas hierdie aanbevelings nougeset toe en as omstandighede verander, praat weer met jou chemiese verteenwoordiger om aanpassings te maak.

Publication: September 2017

Section: Focus on