May 2017

ELMARIE HELBERG, SA Graan/Grain medewerker

Pannar se jaarlikse Extravaganza-inligtingsdae het weer onlangs ‘n verskeidenheid streke bedien. Die Noordwesdag van die reeks, op 15 Maart naby Biesiesvlei, het sterk aftrek gekry en produsente, skole en ander rolspelers in die bedryf het opnuut nuwe kennis oor Pannar en sy produkkombinasies opgedoen. Verskeie toere is tydens die dag aangebied.

Witmielies
Tydens hierdie voorlegging was wortelontwikkeling, die fondasie van graanverbouing, ‘n sterk besprekingspunt. Mielies se wortelstelsel is met sonneblom s’n vergelyk en die onderskeie kiemwortels, sekondêre/kroonwortels, primêr – V3 – sekondêr en stutwortels is bespreek.

Geelmielies
Wortelmorfologie asook die drie eienskappe wat wortelontwikkeling beïnvloed, naamlik fisies, chemies en biologies, is bespreek. Die fisiese en chemiese eienskappe van wortels is ook onder die vergrootglas geplaas, asook die effek van pH op nutriëntbe skikbaarheid en die effek wat kalium- en kalsiumtekort op wortels het. Aalwurms, snywurm en kraagvrot (Pythium spp.) is ook bespreek, asook Fusarium spp. en houtskoolvrot.

Besproeiingsmielies
Die belangrikheid van water op gewasse was een van die besprekingspunte. Mielies is ‘n C4-gewas, wat beteken dat dit ʼn ekonomiese benutter van water is. Mielies benodig 350 liter tot 500 liter water om 1 kg graan te produseer. Produkkennis, basterkeuse en basterprestasie is met besoekers gedeel, asook die LNRbesproeiingsresultate met onderskeidelik warm, koel en matige besproeiingstoestande.

Sonneblom
Die effek van die plantdatum op opbrengs en plantagronomie, die effek van veranderlike stand op opbrengs en plantagronomie, die effek van rywydte op opbrengs en plantagronomie en die effek van rywydte op wortelverspreiding is bespreek. Sonneblomproewe is geanaliseer en LNR-sonneblomdata is weer gegee. Pannar handhaaf ‘n uitstekende prestasierekord in die LNR se nasionale proewe landswyd – vir die afgelope twee jaar het Pannar ses uit die top tien sonneblombasters in LNR se nasionale proewe gelewer. 

Suksesvolle sojaboonproduksie
Die verhouding tussen sojaboon- en mielieopbrengsverhoudings in die Noordwes Provinsie, asook verbeterde praktyke en siektebeheer, is bespreek.

Suid-Afrika se gemiddelde sojaboonopbrengste:

  • Mpumalanga: 1,7 t/ha
  • Noordwes Provinsie: 0,9 t/ha
  • Vrystaat: 0,9 t/ha

Argentinië se gemiddelde opbrengste is 2,91 t/ha, Brasilië 3,08 t/ha en VSA 3,09 t/ha.

Weidingspakkette
Meer inligting oor Pannar se lusern, eenjarige en meerjarige raaigrasse, kleingraangroenvoer, Japannese radys, voersorghum en baster babala is verskaf.

Graansorghum
Waarom moet produsente graansorghum oorweeg? Graansorghum kan in droogtetoestande ‘n groeistilstand handhaaf, dit het ʼn baie sterk en effektiewe wortelstelsel, die stamme en blare het ʼn wasagtige lagie wat die plant teen uitdroging beskerm, sorghum is tot 30% meer vog-effektief as ‘n mielieplant en nie so sensitief gedurende bestuiwing as mielies nie. Markte, asook luise vroeg in die seisoen, bly egter ‘n struikelblok vir sorghumprodusente. Amerikaanse bolwurm kan ook ‘n probleem wees, omdat daar weerstand teen ‘n oormaat chemiese middels is. Produsente moet dus eerder twee chemiese groepe vir bespuiting gebruik.

Publication: May 2017

Section: Relevant