July 2017

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder

Ek het die afgelope week bewus geword van die hoeveelheid leiers in landbou en die samelewing wat tans deur ‘n uitdagende tyd in hul lewens gaan. Dit was amper asof ek deur ‘n wrakwerf van mense gestap het. Ons land se leiers kry swaar.

Die algemene toestand van die land is besig om oral letsels te laat. Selfs die stormwinde in die Wes Kaap en die brande in Knysna is tekens van verwoesting wat letsels agterlaat. Die hordes video’s van skape wat in Namakwaland en die Boesmanland agter bakkies aanhardloop met die hoop dat daar voer daarop is, laat beslis emosies by almal opwel.

Tog kreun die tapkarre in die noorde onder die vragte mielies wat gestroop word en begin die koring, gars en kanola in die Wes-Kaap kop uitsteek as tekens van ‘n nuwe seisoen. Die weeskind van die land se ekonomie, die landbou, is bykans ál sektor wat kop opgetel het en positiewe groei getoon het. Dit was darem sekerlik te wagte na verlede jaar se uitmergelende droogte.

Menige dae laat al die politieke nuusgebeure op die lamppale my dink aan veldslae in die Bybel, waar die vyande hulself vernietig en onderling só baklei dat daar op die ou einde geen geveg was nie, maar net buit oorgebly het.

Wat staan ‘n mens te doen as al hierdie dinge gebeur? Hou vas aan die waarhede waarin jy glo. Ons as landbouers weet dat daar nog altyd ‘n einde aan elke droogte of laagtepunt in die geskiedenis was.

Só glo ek ook dat daar ‘n einde aan hierdie “droogte”tydperk in Suid-Afrika se geskiedenis gaan kom. Wanneer dit kom, weet ons nie, maar ons kan bly uitkyk vir die tekens in die natuur wat dui op ‘n nuwe seisoen.

‘n Wyse ou man se kommentaar die ander dag oor al die gebeure was dat daar altyd ‘n tydperk van onthulling moet kom en openbaarmaking van die verkeerde vóór die belydenis en herstel kan kom. Dit is waar ons nou is. Dit is niks ongewoons nie; ten minste kom dinge aan die lig. Dit maak dit ook nie noodwendig beter nie, maar dit gee hoop.

Ons graanprodusente se oë gaan die volgende maande op die mielie- uitvoersyfers wees, met die hoop dat dit iewers in die toekoms beter pryse kan meebring, sowel as op die weer in die Wes-Kaap.

Die voortsetting van die gronddebat ná die NAMPO Oesdag, tesame met die groot vergaderings van die regerende party (beleid einde Junie en leierskap in Desember), sal ook so met een oog dopgehou moet word. Die realiteit van ‘n nuwe politieke bedeling ná 2019 se verkiesing, raak al hoe meer van ‘n werklikheid soos die wurms uit die blikke klim en onderlinge gevegte toeneem.

Graan SA het al verskeie scenario’s ondersoek met die hoop op ʼn beter landbouvriendelike beleidsomgewing. Ten spyte van alles moet produsente aanhou om hul potlode skerp te maak en seker te maak dat al hul besluite op die plaas ekonomiese sin maak.

Terug na die wrakwerf van mense in ons land: Kyk uit vir die manne en vroue daar in jou omgewing en luister na hulle. Menige keer is luister beter medisyne as raad gee. Hou vas aan die waarhede en dít waarin ons vas glo. Lekker boer!

Publication: July 2017

Section: Features