April 2017

TOIT WESSELS, assistent-bestuurder: NAMPO en Bemarking, Graan SA

Graan SA het tydens die afgelope Kongres terugvoer aan lede oor die resultaat van die heffingsinkomste vir die 2016/2017-seisoen verskaf.

Mnr Andries Theron (uittredende visevoorsitter van Graan SA en voorsitter van die Bemarkingswerkgroep) het gesê dat alhoewel droogtetoestande oor die land geheers het, die meeste produsente hul bydrae gelewer het en daar ‘n ongelooflike positiwiteit onder produsente was. Die heffing vir die 2016/2017-jaar is ook in dié gees ontvang.

Die 2016/2017-oes het ‘n normale tot onder-normale oes in die binneland opgelewer, teenoor baie goeie oeste in die hele Wes- Kaap. Die verhoging van die heffings in 2014 het verseker dat Graan SA se reserwes aangevul kon word om voorsiening te maak vir die tekorte wat moontlik kon realiseer.

Inkomste
Graan SA het ‘n heffingsinkomste van R13,1 miljoen gerapporteer, wat skitterend is teenoor die begrote syfer van R8,5 miljoen. Hierdie inkomste bo begroting kan toegeskryf word aan harde werk deur die bemarkingspan, asook die positiewe gesindheid van ons lede.

Dié goeie inkomste het verseker dat daar slegs met ‘n tekort van R700 000 afgesluit is – teenoor die begrote verlies van R4,7 miljoen. Theron het almal betrokke bedank vir hul aandeel in die kleiner verlies.

Agente
Die mark is konstant besig om te groei en met meer kopers wat die mark betree, bly die vordering van die heffing ‘n groot uitdaging. Dit verg van Graan SA om vennootskappe met al die kopers en handelaars aan te gaan. Die agente het vanaf 46 verminder na 41, hoofsaaklik as gevolg van die samesmelting van maatskappye.

Theron het ‘n woord van dank aan agente wat die invordering van die heffing deur hul kanale bewerkstellig, uitgespreek.

Ledetal
Graan SA se fokus is om lede van diens te wees. Die droogte het bygedra tot ‘n klein afname in opbetaalde lede – van 2 745 tot die huidige 2 561. Die totale bydraende lede is effens minder as die vorige jaar, hoofsaaklik ook as gevolg van groter eenhede wat die kleiner eenhede oorneem.

Heffing
Graan SA Kongres het besluit om by die gedifferensieerde heffings op verskillende gewasse te bly. Die heffing is steeds in lyn met die gemiddelde prys van elke kommoditeit en werk uit op ongeveer 0,1% van die waarde per ton. Tabel 1 toon die nuwe heffingsbedrag per kommoditeit, soos deur Kongres goedgekeur, effektief vanaf 8 Maart 2017.

Dankie
Graan SA is ‘n produsente-organisasie en die heffingsinkomste is die hartklop van die instansie en verseker dat Graan SA sy werksaamhede kan voortsit. Theron het sy kommer uitgespreek dat die heffingsinkomste slegs 24% tot Graan SA se inkomste bydra. Hy het Kongres gewaarsku teen die gevare verbonde daaraan dat die organisasie te afhanklik raak van eksterne fondse.

Theron het ook sy dank teenoor lede uitgespreek vir die getroue bydrae wat hulle lewer en hul die nodige gerusstelling gegee dat die fokus steeds daarop is om graanprodusente in Suid-Afrika van diens te wees.

Kongres het Theron bedank vir sy onbaatsugtige diens oor die afgelope twaalf jaar en veral vir sy bydrae ten opsigte van die heffingsfonds.

Publication: April 2017

Section: Grain SA