October 2017

Dr Johann Strauss, senior wetenskaplike: Navorsing en Tegnologie Ontwikkelingsdienste, Wes-Kaapse Departement van Landbou en dr Hendrik Smith, bewaringslandboufasiliteerder, Graan SA

In Augustus vanjaar is die Vereniging van Bewaringslandbou in die Wes-Kaap se bewaringslandbouweek gehou – wat bestaan uit ‘n konferensie- en ‘n praktiese dag.

Tydens die konferensiedag (op Elsenburg) word daar gepoog om internasionale sprekers in te voer om hul kennis en ervaring met die deelnemers te deel. Plaaslike sprekers maak ook deel uit van die program en daar word daarby gepoog om plaaslike produsente hul eie suksesse en uitdagings met bewaringslandbou op hul plase met kongresgangers te deel. Tydens die praktiese dag (op Langgewens) word praktiese konsepte besigtig en bespreek.

Hieronder is uittreksels met die kernboodskap van elkeen van die sprekers.

Dr Ken Flower
Dr Ken Flower (Universiteit van Wes-Australië) doen navorsing oor die verbetering van geenbewerkingstelsels wat onder andere onkruidbeheer, gewasvolgordes en toepaslike toerusting insluit.

Wes-Australië bestaan uit 70% gemengde boerdery. Reënval is die beperkendste faktor en die grond is onvrugbaar en kwesbaar. Skyf-geenbewerkingsplanters (versus tandplanters) word deur 3% tot 4% van produsente gebruik, maar onkruidbeheer is nie so goed soos met die tandplanters nie.

Gewasse in rotasie is koring (60%), kanola (12%), gars (6%) en ‘n peulgewas (6%). Dekgewasse of meerjarige weiding word ook soms oorweeg. Beheerde spoorverkeer is belangrik en word as een van die bewaringslandboubeginsels gesien. Hy het veral klem gelê op die beheer van onkruid na oes en het verskeie opsies van beheer bespreek. Dit is dan ook iets wat in ons toestande en omgewing van kardinale belang is en waarna ons opnuut moet kyk.

Dr Wendy Taheri
Die Amerikaanse spreker, dr Wendy Taheri (TerraNimbus), is ‘n spe­­sialis op mikorisa. Mikorisa is ‘n groep voordelige swamme
wat in simbiose met 90% van alle plante op aarde leef. Sy het die belang van hierdie simbiose bespreek en voordele gelys wat produsente in produksiestelsels geniet as hierdie samewerking tussen die swam en van die gewasse gekoester word.

Volgens haar is dít redes waarom produsente oor Arbuscular mycorrhizal fungi (AMF) besorg moet wees:

  • Verbeter grondvrugbaarheid;
  • verbeter grondstruktuur en grondwaterhouvermoë;
  • produseer produkte met meer voedingswaarde vir mense en diere;
  • vervang skadelike chemikalieë;
  • elimineer voedingstofafloop en loging;
  • verhoog plantvoedingstofgebruiksdoeltreffendheid – veral fosfaat (P);
  • beskerm plante teen skadelike nematodes, swamme en bakterieë;
  • verbeter droogtetoleransie en weerstand teen verbrakking;
  • meer biomassa = groter opbrengste;
  • lê koolstof vas in grond; en
  • bestuiwers (insekte) verkies mikorisa-plante.

Dr Ronel Hendriks
Plaaslike sprekers was dr Ronel Hendriks (Advanced Biological Marketing), wat oor nog ‘n voordelige mikrobe, trichoderma, gepraat het en ook resultate bespreek het.

Trichoderma is ‘n swam wat natuurlik in grond voorkom, waarvan 99% vrylewende en 1% endofitiese stamme is. Laasgenoemde infekteer die plant en het ‘n effek binne-in die plant – veral in plantvoeding, wortelontwikkeling en plantgesondheid. Die vry­lewende stamme speel veral ‘n rol in grondgesondheid. Die simbiotiese verhouding tussen plante en trichoderma is voordelig vir beide.

Die voordele van endofitiese trichoderma is die volgende:

  • Verhoog voedingsgebruiksdoeltreffendheid;
  • dit het ‘n lewenslange interaksie met plante; en
  • skakel gene in plante aan wat die volgende doen:
    • Verhoog benutting van voedingstowwe;
    • stresweerstand;
    • siekteweerstand;
    • opbrengs; en
    • kwaliteit van finale produk.

André Fourie
Mnr André Fourie (landbou-ekonoom van Bredasdorp) het gepraat oor die rol van skape in stelsels en of dit nog ekonomies verantwoordbaar is. Volgens hom is die groot vraag: Hoe boer ek met vee tot voordeel van kontantgewasse, of hoe boer ek met kontantgewasse tot voordeel van vee?

Sy doeltreffendheidsnorme vir die Overberg-streek is die volgende:

  • Kg graan per mm reën per hektaar is tussen 7 en 16
  • Saai: wei-verhouding is 50:50.
  • Kg melk: kg voer is 1,2.
  • Drakrag is 5 KVE/ha weiding.
  • Skape bemark: teelooie is 1,15.
  • Wol bemark: ha-weiding is 28.
  • Grenswaardes is belangrik.

Graan se netto bruto inkomste (NBI) die afgelope vyf jaar was R3 700/ha en vir skape R2 300/ha en vir die huidige jaar was dit R3 000 en R2 450.

Sakkie Rust
Die konferensiedag is afgesluit met ‘n praatjie deur ‘n produsent uit die Swartland, mnr Sakkie Rust, wat deelnemers met sy reis van konvensionele bewerking tot by bewaringslandbou vermaak het.Rust boer in die Tulbagh en Riebeeck-Wes-omgewing. Hy het onlangs opgehou met brand (vir raaigrasbeheer) en sy gewasse lyk uitstekend. Hy het ook gesien hoe goed dekgewasse in die Riversdal-omgewing op klipperige gronde werk – wat hom geweldig geïnteresseer het. Hy het besef hy sal sy hele stelsel moet verander en begin deur sy grond te verbeter. Sy vee-integrasie (met beeste) en wisselboustelsel het ‘n bydrae gelewer om grondgesondheid te verbeter. Hy kry ook bevredigende grondbedekking en opkoms deur van ‘n skyfplanter gebruik te maak. Sy gewasrotasie bestaan uit kanola, koring, fababone, hawer en dekgewasse.

Praktiese dag op Langgewens​​​​​​​
Die praktiese dag is op Langgewens, navorsingsplaas van die Wes-Kaapse Departement van Landbou, aangebied. Tydens die dag het dr Taheri vooraf ‘n lesing oor die belang van diversiteit in produksiestelsels gegee.

Dit was ‘n uiters insiggewende praatjie – wat ‘n mens opnuut laat dink het oor wat plaaslik ten opsigte van bewaringslandbou gedoen word. Verder was daar verskeie planters wat besigtig kon word en die vervaardigers was byderhand om die tegniese aspekte vir kongresgangers te verduidelik.

Tydens die veldbesoek is verskeie praktiese aspekte van dekgewas­se, diversiteit, kanola-ontkieming en die impak van raaigras op graanproduksie in die proefpersele besigtig en bespreek.

Webwerf
Al die praatjies is opgeneem en sal binnekort op die vereniging se webwerf (www.blwk.co.za) verskyn. Vorige konferensies se praatjies, asook die maandelikse nuusbrief, is op die webwerf beskikbaar.

 

 

Publication: October 2017

Section: Focus on