Wat staan ons te doen?

879

November 2017


JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Die vroeë reën in die noorde laat ‘n mens sommer effe skuldig voel as jy dink aan die Wes-Kaap wat elke dag wonder hoe hulle damme vol gaan word en hoe hulle die seisoen gaan deurleef sonder water. Daar was lank laas voor planttyd soveel onsekerheid in die mark.

Wat staan ons te doen? Dat ons minder moet plant, is gewis, maar hoeveel minder en waarvan moet ons meer plant? Dít is die debatte om die kampvuur. Graan SA en al wat rolspeler in die mark is, kan raad gee, maar jy is al een wat die finale besluit kan neem.

Dit is maar ‘n alleen plek om te wees wanneer só ‘n besluit geneem moet word. Die reën wat vroeg gekom het, het alles boonop vervroeg.

Gedurende die afgelope maand was daar ‘n kritiese grondhervormingshofsaak waarby Graan SA via Agri SA betrokke was. Die saak was ‘n appèl op ‘n uitspraak dat die markwaarde van grond wat vir grondhervorming onteien is, met ‘n arbitrêre 20% deur die regter verlaag is as die eienaar se sogenaamde bydrae tot grondhervorming.

Daar is geensins by ‘n antwoord uitgekom oor wat die Grondwet bedoel met ‘n regverdige en billike vergoeding nie, maar dit is nie sommer net so duimsuig-afslag op markwaarde nie; dit is verseker!

Die manier waarop die regerende party die opvolging van leierskap hanteer, gaan ‘n massiewe invloed hê op die getal stemme wat hulle in 2019 gaan kry. Dit gaan bepaal of hulle weer alleen die geleentheid gaan hê om die land te regeer en of hulle dit in koalisie met ‘n ander party sal moet doen.

Dit is juis hier waar die knoop in die derm lê. Gaan dit ‘n blou of rooi koalisie wees? Hierdie koalisie-sprong kan uiters bepalend vir landbou en eiendomsreg in Suid-Afrika wees. ‘n Blou koalisie sal waarskynlik nie die Grondwet wil verander nie en ‘n rooi koalisie gaan hopelik nie genoeg steun kry om dit te verander nie.

Hoe dit ook al sy, dit bly groot risiko’s. Daar word gedurig daaroor gespekuleer. Wat al die scenario’s vir my sê, is: Beplan vir alles, maar om pad te gee uit die land, bly steeds nie ‘n opsie nie.

Met die skrywe van die artikel was die 2017 Agri SA Kongres op hande. Dit is asof hierdie gees van verdeeldheid nie net ons politieke leiers beetgepak het nie, maar ook in georganiseerde landbou kop uitsteek.

Is daar dan geen plek meer oor waar sake net normaal kan verloop nie? Seker nie. As die druk in ons huis hoog geraak het, het ons mekaar altyd gewaarsku om versigtig met mekaar om te gaan. Die reël geld sekerlik ook vir georganiseerde landbou. Kom ons raak nie met mekaar besig terwyl Rome brand nie.

My bekommernis is dat ons in die proses goeie leiers, wat net eenvoudig nie kans sien om van hulle eie tyd en energie (gratis) te gee om dag vir dag nie net met die regering besig te wees nie, maar ook met kollegas in eie geledere, kan verloor. Dit is uitmergelend.

Ek wonder hoe lank dit gaan neem voor ons eie vise president Ramaphosa dalk ook gaan besluit dit is veel aangenamer om onder die bome te sit en kyk hoe sy buffels se horings groei as om dag vir dag die sorge van ‘n land en sy mense te dra. Kom ons hoop dat hy uithou!
Publication: November 2017

Section: Features