January 2018


LUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom, Graan SA

Die waardebepaling van kommoditeite is in baie gevalle nie alombekend nie, alhoewel dit ‘n belangrike rol in die handelsvloei van verskillende kommoditeite tussen verskillende lokaliteite – en selfs lande – speel.

Suid-Afrika ding onder andere in die internasionale konteks met die meeste gewasse mee – hetsy dit aan die in- of uitvoerkant is. Onder normale produksie-omstandighede oorskry die Suid-Afrikaanse mielieproduksie oor die algemeen die plaaslike verbruik en moet die land met lande soos Amerika, Argentinië en Brasilië vir uitvoere na lande soos Japan en Suid-Korea kompeteer.

In ‘n seisoen soos die pas-afgelope een, waar die produksie van omtrent 16,74 miljoen ton die land met ‘n uitvoerbare surplus van ongeveer 5 miljoen ton gelaat het, is die waardebepaling van mielies uiters noodsaaklik om vas te stel teen watter prysvlakke Suid-Afrika werklik in die internasionale arena kompeterend sal wees en waarop uitvoere gemaklik sal kan plaasvind.

Die een mees basiese manier waarop die waarde van die mielies bepaal word, is deur middel van ‘n uitvoerpariteitsprys. Dit dien as ‘n tipe van ‘n indeksprys wat toon teen watter vlakke die plaaslike mielieprys moet verhandel om daaraan ‘n waarde, gelykstaande aan dié van mielies in ander dele van die wêreld, te gee.

Pariteitspryse
Pariteitspryse is ‘n konsep waarmee die meeste rolspelers in die bedryf goed vertroud is. Daar word veral daarna verwys in jare waar daar groot hoeveelhede van ‘n produk in- of uitgevoer moet word.

Tabel 1 toon die basiese berekening van die uitvoerpariteitsprys, wat dien as internasionale indeksprys sodat Suid-Afrikaanse mielies dieselfde relatiewe waarde as mielies in ander dele van die wêreld kan hê.

Die verskillende komponente wat in hierdie berekening gebruik word, sluit in die vry-aan-boord (v.a.b)-prys in die land van oorsprong – dit dien as internasionale vergelykende prys, die Suid-Afrikaanse kwaliteit en liggingspremie is nie rigied nie en kan wissel (ongeveer /ton) – die wisselkoers, asook die plaaslike finansieringskoste, hawehanteringskoste en die vervoerkoste om die mielies vanaf die beginpunt tot op die skip in die hawe te kry. Die kostes wat in die berekening gebruik word, is bereken met Randfontein as verwysingspunt – wat ook dien as Safex-verwysingspunt.

Tabel 1 toon dat die plaaslike v.a.b.-mielieprys in die Durbanse hawe ongeveer R2 290/ton moet wees om dieselfde relatiewe waarde as die Amerikaanse v.a.b.-mielieprys in die Amerikaanse golf te hê, terwyl die v.a.b.-prys ongeveer R2 263/ton moet wees om gelykstaande aan die Argentynse pryse te wees – gegewe die huidige kostes en wisselkoers.

Dit beteken dat die Safex-prys met Randfontein as verwysings­punt ongeveer R1 661/ton moet wees om dieselfde relatiewe waarde te hê as Amerikaanse mielies in die hawe, terwyl die prys ongeveer R1 633/ton moet wees om dieselfde waarde as die Argentynse mielies in die hawe te hê – gegewe die vervoer, hanterings- en finansieringskoste soos in Tabel 1 aangetoon.

Praktiese werking in die internasionale konteks
In die praktyk sal daar gevind word dat die plaaslike pryse nie altyd presies in lyn met die teoretiese pariteitspryse verhandel nie. Tog vind daar steeds internasionale handel plaas – selfs al is die plaaslike pryse bo of onder die berekende pariteitsprys.

In die gevalle waar die plaaslike pryse hoër as die pariteitsprys verhandel, kan daar steeds uitvoere plaasvind, maar dit vind gewoonlik teen ‘n stadiger tempo plaas as gevolg van die hoër relatiewe waarde van die mielies gemeet teen die waarde daarvan in ander dele van die wêreld.

Wanneer die pryse laer as hierdie berekende pryse is, vind uitvoere gewoonlik teen ‘n vinniger tempo plaas en word daar groter uitvoervolumes gerealiseer.

In praktyk sal die invoerland ‘n aankooptender uitsit om mielies aan te koop via invoere – en dit kan van enige plek verkry word, afhangende van waar die beste pryse gerealiseer kan word. Só ‘n tender staan bekend as ‘n tender vir ‘n opsionele oorsprong en daarom word daar nie aanvanklik presies aangedui vanwaar die mielies verkry sal word nie, maar word die markte eerder dopgehou om te kyk waar die beste pryse verkry kan word.

Volgens die Internasionale Graanraad het Suid-Korea gedurende November mielies vanaf ‘n opsionele oorsprong teen ‘n prys van 7/ton aangekoop – wat die kostes om die mielies tot by die bestemming te kry, insluit. Dit beteken dat Suid-Afrika kan kwalifiseer om mielies na Suid-Korea uit te voer indien die plaaslike pryse tot onder hierdie vlakke daal en dit dus internasionaal kompeterend is.

Tabel 2 toon die berekening van die prys waarteen die plaaslike mark moet verhandel om internasionaal kompeterend te wees in die lewering van mielies aan ‘n Suid-Koreaanse tender. Die berekening in Tabel 2 neem die skeepsvragvervoerkostes vir mielies vanaf Durban tot in Suid-Korea, in ag.

Uit Tabel 2 is dit duidelik dat die v.a.b.-waarde van die Suid-Afrikaanse mielies nou laer moet wees as die internasionale indeksprys soos in Tabel 2 bereken – wat ook die prys in randwaarde laer sal laat daal.

Die Randfontein-verwysingsprys moet ongeveer R1 619/ton wees om na Suid-Korea uitgevoer te kan word, gegewe die onderstaande kostes. Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat die kostes, soos gebruik in die praktiese voorstelling van Tabel 2, aansienlik kan varieer as gevolg van verskeie faktore soos byvoorbeeld die grootte van die uitvoerskip asook die presiese bestemming en die kostes soos gebruik om die beginsel van die berekening te verduidelik.

Wat beteken dit vir die produsent?
Vir produsente bly inligting en genoegsame kennis van die markte van die belangrikste faktore om goeie bemarkingsbesluite te neem. Indien produsente die werking van die mark en die waardebepaling van die graan verstaan, sal dit ook heelwat steun aan die produsent bied wat die onderhandeling in die verkoop van die grane betref.

Die waardebepaling van graan strek ook veel verder as die internasionale vlak en kan teruggetrek word na die plaaslike vlak, waar die produk by verskillende liggings geproduseer word en derhalwe verskillende waardes vir die verskillende liggings het. Dit is belangrik dat produsente weet wat die waarde van hul mielies in ‘n sekere gebied is, om sodoende beter basispryse te onderhandel.

Produsente moet egter seker maak dat hul vertroud is met al die kostes verbonde aan die vervoer van hul graan en so meer, om sodoende die waarde van die graan in ‘n gebied meer akkuraat te kan bepaal.

Gestel die produsent bly in ‘n omgewing wat aanvaarbaar geleë is om mielies vir uitvoere te verkoop en die vervoerkoste vanaf die plaas na die hawe beloop ongeveer R200/ton, terwyl die hawe-inlaaikoste ongeveer R170/ton beloop.

Indien die kompeterende v.a.b.-prys vir uitvoere R2 449/ton beloop soos in Tabel 2 aangedui, kan die produsent vasstel dat die mielies se waarde in sy area ongeveer R1 880/ton behoort te wees. Produsente moet daarom wanneer hulle graan bemark, seker maak dat hul soveel as moontlik inligting inwin om te verseker dat hulle hulself die geleentheid van ‘n goeie onderhandelingsbasis in terme van verkoopspryse bied.

Ten slotte
Die waardebepaling van grane speel nie net in die internasionale konteks ‘n belangrike rol nie, maar ook op plaasvlak waar die produsente die verskillende gewasse in verskillende gebiede produseer, wat dus aan die gewas ‘n ander waarde in daardie bepaalde gebied gee.

Vraag-en-aanbod bly steeds die hooffaktor om die waarde van ‘n produk in ‘n sekere gebied te bepaal. Die waarde sal heel waarskynlik laer wees in surplus produ­serende gebiede, terwyl graan ‘n hoër waarde sal hê in gebiede waar daar produksietekorte is.

Produsente kan egter steeds, ongeag die gebied waar die mielies geproduseer word, verkoopspryse en beter basisse onder­handel – veral as die produsent vertroud is met die verskillende kostekomponente en liggings waarheen grane verskuif en verwerk word.

Publication: January 2018

Section: On farm level