April 2018

ADRI THERON, SA Graan/Grain redaksiespan

In ‘n vryemark is winsgewendheid gelyk aan volhoubaarheid. In voedselproduksie word winsgewendheid deur fisiese klimaat en markklimaat beïnvloed. Graan SA se voorsitter, mnr Jaco Minnaar en Graan SA se uitvoerende hoofbestuurder, mnr Jannie de Villiers, het in hul oudiovisuele verslag aan Kongres gefokus op die boublokke na winsgewendheid vir Graan SA se lede ten einde voedselsekerheid vir Suid-Afrika te verseker.

“Die rekordoeste wat ons in die noorde gehad het, was uitstekend vir ons produsente se moraal, maar die lae graanpryse het dit gedemp. In die suide het die droogte ‘n vernietigende uitwerking gehad en opbrengste het aansienlik gekrimp teen die langtermyngemiddeld. Winsgewendheid was daarom oral onder druk.” Só het Minnaar die afgelope jaar beskryf.

Volgens De Villiers het Graan SA op die volhoubaarheid van graanboerdery in Suid-Afrika gekonsentreer. “Ons poog om ‘n bydrae te lewer wat inligting betref. Verblydend is dat ons vennote toegetree het en ons ondersteun het om die volhoubaarheid van graanproduksie te bevorder.”

Daar is veral heelwat aandag daaraan geskenk om te bepaal wat gedoen kan word om die omstandighede van produsente te bevorder en sodoende ‘n bydrae te lewer om hulle oor vyf na tien jaar steeds op hul plase te hou.

Markinligting
Omdat markbewegings ‘n rol in volhoubare produksie speel, word besondere pogings aangewend om markinligting vir produsente beskikbaar te stel. “Ons het die Mededingingskommissie genader om toegang tot die inligting by SAGIS te verkry in terme van wat waar geproduseer word. Dit sal ons in staat stel om te herevalueer of ons die liggingsdifferensiaal nog benodig.”

Graan SA se inligtingwerksessies en die nuwe toep (App), wat produsente in staat stel om pryse per streek te vergelyk, vorm deel van die pogings om lede te ondersteun in die neem van besluite. “Ons het ook ‘n ooreenkoms met die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) aangegaan om vir ons scenario’s uit te werk om produsente te ondersteun in hul besluite oor wat om te produseer en wanneer om hul produkte te bemark.

“Insette beslaan ‘n groot deel van ‘n produsent se uitgawes en daarom moet ons seker maak dat produsente al die inligting tot hul beskikking het. Ons monitor daarom die kwaliteit van die insette en publiseer die pryse, maar ons voer ook voortdurend gesprekke met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oor die dieselrabat. Dit is steeds ‘n groot kopseer vir produsente, so ons wil seker maak dat daar enersyds geen hindernisse is wat die eise betref, maar andersyds ook geen vertragings by die uitbetalings deur SAID is nie,” aldus De Villiers.

Navorsing
Aan die navorsingskant het Graan SA groot vordering gemaak. Konsortiums is vir klimaat, koring en grondgedraagde siektes gestig. “Ons bring al die beste navorsers in elke dissipline bymekaar ten einde die beste raad vir produsente te kan gee sodat hulle beter besluite kan neem. Hierin moet ek melding maak van die Departement van Wetenskap en Tegnologie wat bereid is om hierdie navorsingsprojekte deur middel van langtermynbefondsing te ondersteun. Hulle het die vertroue in ons as ‘n vennoot en is bereid om met ons hande te vat om hierdie saak te dryf.”

In 2017 het Graan SA internasionale kenners betrek om die voortslepende Sclerotinia-uitdaging aan te spreek. Beheermaatreëls om rooibekkweleas te beheer en die stryd teen die herfskommandowurm is saam met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye aangepak. “Daar was goeie samewerking van die departement se kant af om te bepaal waar daar probleme is en waar die departement ons werklik goed ondersteun het, is in die registrasie van nuwe chemikalieë om ons in staat te stel om die herfskommandowurm te beveg.”

Met klimaatsverandering en die feit dat grond- en waterbewaring so ‘n belangrike aangeleentheid is, kombineer die bewaringslandbouprogram, wat deur die Mielietrust befonds word, wetenskaplike navorsing en werklike op-die-plaasproduksie-navorsing. Die program het groot momentum onder produsente wat op verskillende skale boer, gekry en nuwe inligting word deurlopend gedeel tot almal se voordeel.

Volgens Minnaar is die tempo waarteen koringproduksie in Suid-Afrika krimp bekommerenswaardig. “Juis daarom voel ons dat dit op ‘n vlak moet wees wat volhoubaar vir die toekoms is. Daar is sekere gebiede waar koring die enigste alternatief vir produsente is en daarom moet ons dit volhoubaar hou om hierdie plattelandse gemeenskappe te ondersteun.

“Een van die belangrikste mylpale in ons omdraaistrategie was die verslapping van die vrystellingskriteria vir nuwe variëteite wat beskikbaar raak. Belangrik was vir ons in hierdie geval nie om die kwaliteit nie, maar die opbrengspotensiaal van die kultivars te verbeter. Dit is bewerkstellig deur die koringvrystellingskriteria en -kultivarlys met die hulp van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye uit die Produkstandaardewet te verwyder. Ons het nou ‘n selfregulerende beheerstelsel tussen die rolspelers en die industrie in plek gestel en dit gaan produsente definitief ondersteun om hoër opbrengste te realiseer.”

Die sojaboonindustrie is wêreldwyd besig om te groei en met verhoogde olieperskapasiteit is daar druk op Suid-Afrikaanse produsente om in die vraag te voorsien. De Villiers sê dat ons tegnologie gebrekkig is en dat saadmaatskappye nie die nuwe tegnologie wil inbring nie – tensy hulle seker is dat hul hul belegging in die tegnologie kan verhaal.

“Die industrie het daarom ooreengekom om aansoek te doen vir eindpunttantieme. Dit is op hierdie stadium by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Minister van Landbou vir finale goedkeuring. Die tegnologie het die potensiaal om ‘n 10%-verhoging in opbrengs te bewerkstellig – iets waarna produsente uitsien.”

Aanpassing van strukture
Graan SA was die afgelope aantal jare nóú betrokke binne Agri SA om die strukture te verander om sy lede beter te kan diens. “Ons weet ons is almal deel van ‘n groter landbougemeenskap en Graan SA is maar net een aspek daarvan. Die algemene sake wat deur Agri SA hanteer word, vorm ‘n groot deel daarvan,” het De Villiers vertel.

“Graan SA moes self ook herstruktureer wat betref die verkryging van finansieringsbronne en maniere oorweeg om ons lede nader aan ons te trek. Ons oorweeg ook aanpassings in die verskillende graanforums en die ander industriestrukture om te bepaal wat die beste is om ons in hierdie nuwe bedeling in te neem.”

In die aanpassing by finansiële verandering is goeie finansiële bestuur krities – veral in ekonomies-uitdagende tye soos hierdie. “Ons het die jaar ook met ‘n negatiewe begroting afgeskop en het ons personeel daarom aangemoedig om te bepaal waar ons kan spaar en waar ons inkomste kan genereer om gelyk te breek. Die uitstekende NAMPO Oesdag met sy rekordbywoning en -inkomste het hierdie doelwit vir ons haalbaar gemaak.”

Landbou-ontwikkeling
Graan SA se landbou-ontwikkelingsprogram het lankal reeds vir hom ‘n naam in die bedryf gevestig. De Villiers het verder hieroor uitgebrei: “Ons het ‘n groot aantal vennote vanuit die privaat sektor getrek en ons sien ook meer regeringsfondse wat die program binnevloei as gevolg van die betroubaarheid daarvan en ook die kapasiteit wat ons oor die afgelope ongeveer tien jaar opgebou het. Die program fokus op volhoubare boerderypraktyke op verskeie vlakke en het gegroei tot ‘n punt waar ons nalatenskappe sien ontvou soos kinders nou in hul ouers se voetspore begin volg.

“Tog word die boere wat deur die program na vore kom, gekonfronteer met uitdagings wat nie met boerderyvaardighede aangedurf kan word nie. Die grootste uitdaging is die toegang tot finansiering om insette benodig om gewasse te produseer, aan te koop, asook die titelaktes van hul plase om hulle in staat stel om toegang tot finansiering te bekom. Die derde uitdaging is winsgewendheid, wat nie net ‘n landbou-ontwikkelingskwessie is nie, maar ‘n algemene uitdaging vir landbou.”

Skakeling met die regering
“Ons weet dat dít wat in landbou gebeur nie noodwendig gebeur as gevolg van besluite van rolspelers nie, maar as gevolg van besluite wat deur die regering geneem is. Daarom het ons ook naby aan die staatsdepartemente en die besluitnemers beweeg om hulle te probeer beïnvloed om die regte besluite vir produsente te neem.

“Die feit dat Graan SA goed bestuur word en ‘n sterk handelmerk het, wat betrokke is by transformasie en ‘n bydrae lewer om voedselsekerheid te bevorder, moedig die regering aan om met ons in gesprek te tree as daar groot uitdagings is wat aangespreek moet word. Wat grondhervorming betref, het ons saamgewerk om die lang-uitstaande grondoudit te doen. Nou weet ons ten minste waar ons staan.

“Aan die een kant kan ons sê produsente is veilig solank die Grondwet in plek is en dat ons dit sal beskerm, maar aan die ander kant moet ons na vore kom met nuwe en beter oplossings om die proses te versnel sodat die ongewilde weg van grondonteiening sonder vergoeding nie ‘n realiteit word nie,” aldus De Villiers.

Vind optimale balans
Desnieteenstaande is daar meer dringende realiteite, soos die produksie van voedsel in ‘n uiters wisselende klimaat en markte – en om te poog om die optimale balans te vind tussen insette en inkomste. “Vir boublokke tot winsgewendheid moet elke produsent sy eie boerdery ontleed om te bepaal watter insette hy kan aanwend om optimale produksie te realiseer. Ons doelwit is nie meer maksimum inset vir maksimum uitset nie, maar optimale inset vir optimale uitset,” het Minnaar verduidelik.

“Daarvoor benodig ons die ondersteuning van verskeie vennote – insetverskaffers om ons te ondersteun om die optimale insette te bekom, maar ook afnemers juis om ons behulpsaam te wees om die kortste roete na die mark te bepaal, asook om basispremies en allerhande faktore wat die winsgewendheid op plaasvlak beïnvloed, te bestuur. Ons benodig eintlik die hele waardeketting as ‘n bousteen in ons eie boerderye ten einde ons eie boerderye meer volhoubaar te maak.”

Publication: April 2018

Section: Review on Congress