April 2018

JOHAN SMIT, besturende redakteur, SA Graan/Grain

Motivering word dikwels verpak in ‘n energieke praatjie wat deur ‘n dinamiese individu gelewer word. Soms kan motiveringsprekers luidrugtig (en selfs driftig) raak soos wat hulle jou uit jou gemaksone wegruk en meevoer na ‘n sonskynland van positiewe denke en – so wil ‘n mens glo – uitbundige uitkomste. En dan is daar Brand Pretorius.

Om dié legendariese, oud-uitvoerende hoof van McCarthy Beperk as motiveringspreker te beleef, herinner aan my eerste rit in oom Corrie Berg van Klein-Aub in Namibië se Citroën Pallas in die sewentigerjare. Niks aan dié rit was gewoon nie en as jong seun het ek gehoop dit sou nooit eindig nie. Met elke kilometer wat geruisloos op die kalkerige grondpad verbygeswiep het, is ek meegevoer na ‘n plek; ‘n veilige en perfekte oomblik waarin ek vir ewig wou vertoef en vir die lewe in sy volheid kans gesien het.

Die regering se beplande onteiening van landbougrond sonder vergoeding is dae voor die Graan SA Kongres as ‘n mosie deur die parlement aanvaar. Graan SA se Kongrestema van boublokke na winsgewendheid het die tafel gedek vir toeligting en gesprek oor landbousake en -inligting wat produsente in staat kan stel om in ‘n hoë-risiko-omgewing steeds volhoubaar te produseer. Met ‘n warmrige debat vroeg op die eerste dag van Kongres – natuurlik met grondbesit as ondertoon – was ‘n bonsende motiveringspreker allermins wat die dokter vir die gemoedstoestand van die Kongresgangers voorgeskryf het.

“Ek het soveel agting en respek vir produsente vir hul waagmoed, kundigheid en deursettingsvermoë. Dit is vir my ‘n tragedie hoe landbou deesdae die slaansak is – desnieteenstaande die droogte en geen subsidies nie,” was die stelling waarmee Pretorius sy openhartige gesprek met die landbouers geopen het. En met Jesaja 40:31 as hoeksteen verduidelik dié staatsman/sakeman/bemarkingsghoeroe/seun-van-Bultfontein hoe dié wat op die Here vertrou nuwe krag kry, met arendsvlerke vlieg, hardloop en nie moeg word nie, loop en nie afgemat raak nie.

Leierskap
“Mense spandeer dae in donkerte en ongemotiveerdheid, maar waar leierskap is, het mense hoop en is hulle gemotiveerd en betrokke. Wat kan jy doen om menslike potensiaal in jou boerderybesigheid meer te ontsluit, want effektiewe leierskap ontsluit menslike voordeel. Alles verrys of tuimel weens leierskap,” het Pretorius dit gestel en op die volgende uitgebrei:

  • As jy jouself nie kan lei nie, kan jy ook nie ander mense lei nie.Handhaaf ‘n hoë vlak van emosionele intelligensie, hou aan om die dinge te doen wat reg is; beoefen selfdissipline en toon deursettingsvermoë aan die mense wat jy lei.
  • Jy moet die regte ingesteldheid hê.Leierskap is nie ‘n reg nie; dit is ‘n verantwoordelikheid. 
  • Leierskap het niks te doen met mag, gesag, outoriteit of posisie nie.Dit gaan inderwaarheid oor invloed – en invloed moet verdien word deur jou voorbeeld en deur resultate te lewer.
  • Daar is ‘n verskil tussen om mense te lei en om mense te bestuur.Om effektief te funksioneer, is nie al wat nodig is nie, want goed bestuurde mense is nie noodwendig positief nie. Doeltreffende leiers is suksesvol deurdat hulle hul spanlede motiveer en inspireer.
  • Lei in lyn met ‘n geloofwaardige leierskapsinslag, want jy kan dit nie naboots nie.
  • Etiese leierskap is ‘n voorvereiste vir doeltreffende leierskap.Integriteit is die geldeenheid van leierskap. Leierskap is nie charisma nie, maar dit is karakter. Geloofwaardigheid is ‘n voorvereiste vir leierskap.

Transformeer en bemagtig
“Effektiewe leierskap behels die vermoë om gelyktydig te presteer en transformeer. Ons moet transformeer en bemagtig – dit is die nuwe normaal. Leer om in die storm te dans tot voordeel van almal,” het hy bygevoeg. “Ons moet medeverantwoordelikheid aanvaar vir die foute van die verlede. Maar nog belangriker is dat ek medeverantwoordelikheid aanvaar om ‘n beter toekoms te skep.”

Pretorius het verwys na die Suid-Afrikaanse motorbedryf wat 20 na 30 jaar gelede op ‘n verloorpad was. Na ‘n verwantskap met die regering aangeknoop is, is die land se motorbedryf ‘n suksesstorie met uitvoere van plaaslik-vervaardigde motors en produkte na 120 lande wêreldwyd. Belastingvergunnings wat deur die regering toegestaan is, speel ‘n groot rol hierin. “Vat hande om ‘n goeie toekoms te skep,” het hy landbouers aangemoedig.

Belê in mensekapitaal
Goeie leiers het ‘n obsessie met die ontwikkeling van hul mensekapitaal. “Maak ‘n disproporsionele belegging in die opleiding van jou mense en kry ‘n disproporsionele opbrengs op mensekapitaal,” aldus Pretorius. Hy het werkgewers in landbou aangemoedig om jong, bekwame mense vinniger met verantwoordelikheid te vertrou.

“Leiers is fakkeldraers van hoop en hoop is ‘n magtige leierskapsinstrument. Sonder hoop bly ons gevangenes van gister en vandag. Hoop is ‘n werkwoord. Kla minder, bid meer, kritiseer minder, doen meer, reik meer uit en gee meer,” het hy gesê.

“Met ‘n president soos mnr Cyril Ramaphosa, het ek hoop vir Suid-Afrika se toekoms. Hy het integriteit en substansie as ‘n leier,” het Pretorius afgesluit met verwysing na die geleenthede waar hy saam met Ramaphosa op direksievlak gewerk het.

Publication: April 2018

Section: Review on Congress