April 2018

DR JAN DU PREEZ, veterinêre spesialis: Volksgesondheid

Die dinamiese verhouding of band tussen mens en dier geniet wêreldwyd aandag vanweë die wedersydse voordele wat dit vir albei partye inhou.

Tans woon ongeveer 55% van die wêreld se bevolking in stede, maar daar word verwag dat hierdie persentasie gaan verhoog. In die meer ontwikkelde lande bly ongeveer 74% van die mense in stede, terwyl 44% van die mense in onderontwikkelde lande stedelinge is. Teen die jaar 2050 kan die syfers in die omgewing van 58% tot 75% wees. In die betonoerwoud is menslike kontak met plant en dier noodsaaklik, maar nie verseker nie, terwyl dit op die platteland ongehinderd voortgaan.

Diere word al hoe meer aangewend as plaasvervanger vir maatskaplike tussenwerking in tehuise vir bejaardes, kinderbewaarskole en hospitale. Troetel- en geselskapdiere dien dus enersyds as voorwerpe vir spanningsontlading en andersyds as skakel met die natuur. Troeteldiere het ‘n belangrike invloed op hoe mense oor hulself en oor die lewe voel. Hulle tree met buitengewone talent soos onderwysers en genesers op. Die emosionele, sosiale en fisiese bydraes en voordele van troetel- en geselskapdiere (veral honde) is onontbeerlik vir mense.

Emosionele voordele

  • Die gemoedstoestand van die mens word verbeter. Troeteldiere verlaag die gevoel van eensaamheid en isolasie omdat hulle kameraadskap bied.
  • Daar is iets om voor te sorg en om te gee. Baie ouer mense wat alleen bly, sal jou vertel dat sy troeteldier die rede is waarom hy wil leef.
  • Mense pas makliker aan na erge siektes en die dood. Kinders praat baie keer met hul troeteldiere vir troos indien ‘n vriend of familielid gesterf het. Bedroefde volwassenes wat nie ‘n nabye bron van ondersteuning het nie, beleef minder depressie indien hulle troeteldiere besit.
  • Mense is minder angstig en voel veiliger. Troeteldiereienaars wat honde het, is geneig om minder bang en bedreig te voel dat hulle dalk ‘n slagoffer van misdaad sal wees.
  • Hul bevorder ontspanning en verminder alledaagse stres. Troeteldiere kan daartoe bydra dat mense meer ontspanne is, dan is hulle konsentrasie nie op probleme en kwellinge toegespits nie.
  • Fisiese kontak met diere. Die geleentheid om iets aan te raak soos ‘n troeteldier is psigologies belangrik vir die mens.
  • Mense bly aktief. Om ‘n troeteldier te besit, lewer ‘n groot bydrae om die mens aktief te hou. Die mens kry nie net oefening omdat hy met sy troeteldier stap nie, maar verhoog sy aktiwiteit deur kos vir die troeteldier te gee, hom te borsel en ook met hom te speel.
  • Troeteldiere dra by tot beginselvastheid of konsekwentheid. Om te sorg en om te gee vir ‘n troeteldier het ‘n aansienlike uitwerking op ‘n mens se roetine. Dit gee vir die mens ‘n taak om elke dag te verrig en waarna hy ook elke dag kan uitsien.

Sosiale voordele

  • Dit skep ‘n gevoel van welstand en nabyheid. Opnames wat gedoen is voordat en nadat ‘n gesin ‘n troeteldier gekry het, wys dat ‘n gesin gelukkiger is nadat die troeteldier tot die gesin toegevoeg is.
  • Gesprekvoering word gestimuleer. Mense by ‘n dierekliniek voer meer geredelik met mekaar ‘n gesprek in die teenwoordigheid van ‘n hond, as wanneer die hond nie daar is nie.
  • Aanmoediging van interaksie. Inwoners van langtermyn-versorgingsfasiliteite is meer gewillig om aktiwiteitsessies waar ‘n dier teenwoordig is, by te woon.

Fisiese voordele

  • Die eienaars van honde se kanse om langer te leef na ‘n hartaanval is gunstiger.
  • Persone met troeteldiere het laer vlakke van cholesterol en trigliseriede, vergeleke met persone wat nie troeteldiere het nie. In ‘n studie wat dit bewys het, was beide groepe se diëte, gewigte en rookgewoontes dieselfde.
  • Persone wat strestoetse of fisiese ondersoeke in die teenwoordigheid van ‘n hond ondergaan, se hartspoed en bloeddruk verlaag gedurende die toetse.
  • Troeteldiereienaars het soms beter fisiese gesondheid, omdat hul ‘n behoefte aan oefening het en hul troeteldiere wil versorg.
  • Hul verminder doktersafsprake en geringe gesondheidsprobleme. Die gebruik van voorskrifmiddels en die totale koste vir die pasiënt se versorging in die verpleeginrigting daal wanneer geselskapdiere deel van die behandeling uitmaak.
  • Sommige persone wat periodieke epileptiese aanvalle kry, sê dat hul honde dit aanvoel (voorspel) voor hyself dit besef.
  • Daar is diere wat die eienaar bewus maak van episodes of ontwikkelende voorvalle van hipoglikemie (bloedsuikergebrek) en dit gee die eienaar kans om aksie te neem in die voorkoming van ‘n koma.

Honde en katte is die mees algemene troeteldiere wêreldwyd. Dit is noodsaaklik dat die gesondheidstatus van elke troeteldier en geselskapdier bo verdenking is en om te verseker dat kontak met die diere nie soönotiese besmetting (troeteldierverbondesiektes) sal veroorsaak nie. Voedsame, gebalanseerde kos vir troeteldiere en geselskapdiere is beslis ononderhandelbaar vir optimale gesondheid en immuniteit wat siektes kan weerstaan (byvoorbeeld sarkoptidose of scabies).

Vir meer inligting hieroor, kontak dr Jan du Preez by info@zoonoses.co.za of besoek www.zoonoses.co.za.

Publication: April 2018

Section: On farm level