April 2018

ALZENA GOMES, skakelbeampte, Graan SA en foto’s deur ESTIE DE VILLIERS, redakteur, SA Graan/Grain 

Graan SA-lede, regeringsamptenare, landbourolspelers en ander belanghebbendes het op 7 en 8 Maart by NAMPO Park byeengekom vir die jaarlikse Graan SA Kongres. Die tema “Boublokke na winsgewendheid” het beloof om goeie gesprekke te stimuleer en uitkomste te realiseer.

Die Kongresagenda het onder meer die sewe wonders van graanproduksie onder die loep geplaas, die internasionale uitvoer- en waardetoevoegingsgeleenthede vir die Suid-Afrikaanse graan- en oliesadebedryf bespreek, klem gelê op die aanpassing by klimaatsverandering en die beleidsomgewing vir volhoubare kommersiële en ontwikkelende graanproduksie van nader bekyk.

Mnr Jaco Minnaar (voorsitter, Graan SA), is onbestrede herkies en word deur visevoorsitters mnr Derek Mathews en me Preline Swart ondersteun. Die bestuurspan is gereed vir die uitdagings wat voorlê, met die fokus op die graanprodusent se belange en die bevordering daarvan.

Oudiovisuele voorsittersverslag
In die oudiovisuele voorsittersverslag het Minnaar en mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder, Graan SA) die voorafgaande jaar se hoogtepunte en die strategiese fokusareas van die organisasie in 2018 uitgelig.

Verder het die verslag klem gelê op besluitneming binne die landbousektor, wat nie noodwendig deur rolspelers geneem word nie, maar wat deur die regering gemaak word. Graan SA se samewerking met regeringsdepartemente poog om besluitnemers te beïnvloed en sodoende korrekte besluite vir graanprodusente te bewerkstellig. De Villiers het bevestig dat Graan SA, met sy sterk handelsnaam, ook goed georganiseerd is en effektief bestuur word en met die organisasie se betrokkenheid by transformasie en die prioritisering van voedselsekerheid in Suid-Afrika, is Graan SA in die beste posisie om produsentprioriteite op die voorgrond te plaas.

Lees meer oor die voorsittersverslag op bladsy 16 van dié uitgawe. Die video is ook beskikbaar op Graan SA se webwerf.

Toespraak
Minnaar het tydens sy toespraak bevestig dat dit ‘n uitdagende jaar vir alle graanprodusente was en dat elke graangewas se winsgewendheid onder druk gekom het. Verder is die goeie produksiepryse onder druk geplaas en al het bogemiddelde produksie tot ‘n mate die winsgewendheid aangespreek, het alle produsente nie goeie opbrengste behaal nie.

Die netto effek op mielies is, ten spyte van ‘n lae oordragvoorraad van die vorige seisoen en bykans 2 miljoen ton se uitvoere, dat daar steeds ongeveer 4 miljoen ton se oordragvoorraad aan die einde van April 2018 gaan wees.

Dit opsigself plaas ‘n langtermyndemper op pryse, met vooruitsigte wat toon dat winsgewendheid onder druk gaan bly. Graan SA het reeds vroeg in 2017 verskeie prosesse aan die gang gesit om die oorskotte aan te spreek, onder andere om tesame met rolspelers die logistieke ketting – en veral die oopmaak van markte – daadwerklik aan te spreek. As ‘n uitvloeisel hiervan, het wesenlike uitvoere na veral Japan plaasgevind. Die Midde-Ooste bly ‘n belangrike fokusarea vanweë die mededingende ligging van Suid-Afrikaanse graan.

Minnaar het verduidelik dat die onmededingende logistieke ketting en mieliepryse wat bo uitvoerpariteit bly as gevolg van verskeie faktore, grootskaalse uitvoere op hierdie stadium belemmer. Graan SA het egter ook die plaaslike markte en verwerkingsgeleenthede ontleed, wat ‘n prioriteit sal bly en in die komende jaar heelwat aandag sal geniet.

Hy het die droogte in die suide en gevolglike ondernormale produksie bespreek en verduidelik dat selfs met die netto tekort aan koring, pryse reeds op invoerpariteit verhandel – en meer kommer­wekkend is dat met die tekorte aan koring in die Wes-Kaap, die algemene verwagte premies in die mark nie gerealiseer het nie. Dit dui op oneffektiewe stelsels wat aangespreek sal word.

Ongelukkig is ‘n verdere uitdaging die feit dat produksie vinniger as die binnelandse vraag styg – wat veroorsaak dat ons gereeld gekonfronteer word met oorproduksie – en gevolglik laer winsgewendheid en afskaling in hektare. Dit het tot gevolg dat meer produsente langs die pad uitval. Graan SA publiseer dus nie meer produkruimtes nie, maar verskaf eerder inligting aan produsente vir eie besluitneming.

Minnaar het produsente gemaan om in die komende jaar goed te besin en behoorlike somme te maak wanneer aanplantings beplan word en produsente versoek om hulself van die vraag en voorraadstatus te vergewis om sodoende ingeligte besluite te neem.

“Die tyd is verby dat ons onsself uit die moeilikheid uit kan plant,” het Minnaar bevestig. Konstante afskalings in aanplantings en gevolglike inkrimping van die graanprodusentgetalle in Suid-Afrika maak daarby die produksie-omgewing uiters uitdagend vir nuwe toetreders.

Hy het verder beklemtoon dat Graan SA die noodsaaklikheid van grondhervorming en transformasie in Suid-Afrika as noodsaaklik beskou en onomwonde ondersteun. Vir dié rede is die landbou-ontwikkelingsprogram reeds in 1998 van stapel gestuur om nuwe era-boere op te lei, te lei en te ondersteun. Sedert die program se ontstaan en saam met partye soos verskeie kommoditeitstrusts, regeringsdepartemente en insetverskaffers, het Graan SA meer as R400 miljoen aan ontwikkelende produsente en transformasie van die landbousektor bestee met ‘n totaal van meer as 10 000 produsente in die program – wat wissel van 1 ha-boere tot kommersiële produsente.

Minnaar het verder verduidelik dat toegang tot finansiering steeds die grootste struikelblok vir ontwikkelende produsente is en alhoewel meer as genoeg grond vir nuwe era-boere beskikbaar is, hul gekniehalter word as gevolg van die finansiering van insette en meganisasie wat nie bekom kan word nie.

Graan SA se standpunt is steeds dat deur titelaktes aan produsente te gee, radikale ekonomiese transformasie sal plaasvind. “As die sekuriteit van titelaktes weggeneem word, neem jy produsente se vermoë om te produseer, weg,” het Minnaar genoem.

Hy het verder bevestig dat Graan SA steeds met besluitnemers, politieke en besigheidsleiers en die breër samelewing sal kommunikeer en sal voortgaan om te onderhandel oor programme, planne en aansporings om sodoende grondhervorming en transformasie te bespoedig sonder om die volhoubaarheid van produsente, voedselsekerheid en landbou-gemeenskappe in die geheel te beïnvloed.

“Graan SA sal voortgaan om na die regering uit te reik en hulp te verleen om meer boere op ‘n volhoubare manier te vestig, aangesien die organisasie verbind is tot transformasie en grondhervorming op ‘n ordelike en volhoubare wyse, binne die grense van die huidige Grondwet,” het Minnaar afgesluit.

Die sewe wonders
Die openingstoespraak deur prof Fred Below, professor in Plantfisiologie, Departement van Gewaswetenskappe, Universiteit van Illinois, het die sewe wonders van graanproduksie bespreek en ook genoem dat dit nie saak maak waar in die wêreld graan geproduseer word nie – politiek verstaan nie boerdery nie. Sy toespraak het gefokus op die verhoging van mielie-opbrengste deur beter gewasbestuur.

Internasionale uitvoer- en waardetoevoegingsgeleenthede
COFCO Suid-Afrika se hoof, mnr Ronald Jetten, het die internasionale uitvoer- en waardetoevoegingsgeleenthede vir die Suid-Afrikaanse graan- en oliesadebedryf toegelig.

Hy het onder meer beklemtoon dat produsente wêreldwyd ongelooflike innoveerders is, maar dat pryse in stryd met ontwikkeling is.

Klimaatsverandering
Prof Guy Midgley van Stellenbosch Universiteit het tydens sy voorlegging die aanpassing by klimaatsverandering bespreek deur te fokus op hoop en geleenthede vir graanprodusente. Ekstreme weerstoestande, nasionale rampe, waterkrisisse, mislukking van klimaatsveranderingversagting en -aanpassing en voedselkrisisse is selfs deur wêreldleiers geklassifiseer as van die ernstigste medium- tot langtermynbedreigings vir besigheid globaal. Prof Midgley het bevestig dat veranderinge gedryf word deur verskeie faktore, waarvan die grootste koolsuurgasvrystellings is.
 
Die pad vorentoe
Graan SA bedank alle lede, vennote, rolspelers en borge, sonder wie se deelname ‘n uiters suksesvolle 2018 Kongres nie moontlik sou wees nie. In die komende jaar gaan die organisasie homself steeds beywer om te verseker dat ons graanprodusente se fondasie vir winsgewendheid bestendig en stewig is en gesetel is in gesonde vennootskappe met alle rolspelers.

Publication: April 2018

Section: Review on Congress