May 2018

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain redaksiespan

​​​​​​Misoeste is nie vir Suid-Afrikaanse graanprodusente ongewoon nie. Die betaling van belasting is ook ‘n werklikheid, maar dit is ‘n voorreg om belasting te kan betaal – mits alle belastingkortings in ag geneem is.

Indien belasting betaal moet word en al die belastingaftrekkings is nie benut nie, is dit ‘n vermorsing van geld. Om egter bloot planne te maak om nie belasting te betaal nie, is verseker die begin van groot moeilikheid. Alles wentel om langtermynwinsgewendheid en die keuse om die winsgewendheid van die besigheid te behou.

Finansies kan tot intense spanning lei. Gaan dit voor die wind, moet die belastinggogga bestuur word; gaan dit ellendig, moet die uitdagings wat voorlê bestuur word. Dit maak nie saak wat jy doen nie: Daar moet aandag aan die finansies gegee word. Die vooruit bestuur en beplanning van finansies is krities. Sonder ontledings en beplannings is die voorkoming van uitdagings bykans onmoontlik.

Misoeste lei gewoonlik tot meer druk en spanning vir die produsent, maar net so ook die betaling van belasting. Spanning en druk kan maklik tot verkeerde besluite aanleiding gee en daarom is dit belangrik dat produsente deur middel van ‘n gestruktureerde werkswyse na oplossings vir hul uitdagings soek. Indien hierdie werkswyse deurgevoer word, kan dit lei tot die implementering van die regte strategie om die boerdery se voortbestaan te verseker.

‘n Manier om hierdie onnodige spanning hok te slaan, is om die finansies gereeld te ontleed, die beplanning op te gradeer en sodoende die uitdagings vroegtydig te identifiseer. Deur net bewus te wees van uitdagings wat voor die deur lê, lewer geen bydrae nie. Reageer daarop en maak planne om dit te bestuur.

Dit is aansienlik beter om self die uitdagings te bestuur, as om deur die uitdagings bestuur te word. Ruim vir jouself tyd in om die boerdery ordentlik te ontleed of te laat ontleed. Let veral op solvabiliteit, likiditeit en rentabiliteit en moet nie die toekomstige kontantvloei en doelwitte buite rekening laat nie.

Solvabiliteit
Solvabiliteit gee ‘n aanduiding van hoe solvent die besigheid is. Indien die boerdery nog solvent is, sal daar altyd ‘n kans wees dat die boerdery kan voortgaan – mits die beplande, berekende solvabiliteit binne die norme bly.

Gewoonlik word daar ook na die boerdery se skuldlas verwys wanneer solvabiliteit ontleed word. Hierdie verhoudings word hoofsaaklik met inligting uit die balansstaat opgestel. Vergewis jouself daarvan dat die balansstaat volledig en betyds opgestel is.

Likiditeit
Likiditeit is ‘n aanduiding van hoe maklik korttermynskuld met korttermynbates afgelos kan word. Gewoonlik is dit hier waar boerderye se uitdagings lê. Onbeplande belasting wat betaal moet word in ‘n tyd wanneer die meeste boerderye nie ‘n inkomste verwag nie, kan ontsaglike addisionele druk op die kontantvloei plaas.

Weens die koste van masjinerie en toerusting word medium­termynbates gewoonlik op krediet aangekoop en na ‘n swak jaar kan die paaiemente ‘n uitdaging wees. Maak seker dat die besigheid die risiko van ‘n swak jaar kan deurstaan.

Rentabiliteit
‘n Verdere ontleding wat gemaak moet word, is om die toekomstige winsgewendheid of rentabiliteit van die besigheid te ondersoek. Dit is hoeveel wins die afgelope jaar gemaak is en hoeveel winste in ‘n normale jaar gemaak kan word, asook watter kombinasie gewasse verbou moet word.

Om hierdie ontledings te kan doen, sal van ‘n produsent vereis om ‘n volledige balansstaat, toekomstige inkomste-en-uitgawestaat en toekomstige balansstaat op te stel. Met hierdie berekeninge is ‘n tydelike kontantvloei beslis ‘n vereiste. Deur middel van die state kan ‘n produsent of konsultant akkuraat bepaal hoe groot die uitdaging is en moontlike oplossings voorstel.

Langtermynbeplanning
Ongelukkig hou die effek van misoeste of lae produkpryse nie net ‘n probleem vir een jaar in nie, maar ook vir komende jare. ‘n Volledige langtermyn-detailbeplanning en kontantvloei moet hiervoor opgestel word sodat ‘n volledige, tydige geheelbeeld verkry word. Die kontantvloei sal ‘n aanduiding gee van wanneer inkomstes en uitgawes verwag kan word.

Moontlike uitdagings ten opsigte van die betaling van verpligtinge moet dadelik aangespreek word: Moet nie wag tot op nommer 99 nie; gaan sien die krediteure of die rekenmeester en begin met planne om die uitdaging aan te spreek en op te los. As ‘n belastinguitdaging voorsien word, kan produsente ook planne daarstel om dalk vroegtydig met verhoogde oortrokke fasiliteite belastingaankope te doen.

Ontleed die afwykings en die oorsake 
Enige aksie het ‘n reaksie en dit geld ook vir die besigheid se finansies. Indien die afwykings geïdentifiseer is, moet die oorsaak van die probleem gesoek en reggestel word. Indien die winsgewendheid van die besigheid al geruime tyd onder druk is, kon die eenheid dalk te klein geword het om die vaste kostes te diens, so nie moet daar ‘n produksieprobleem wees.

Fisiese hulpbronne kan ook ‘n knelpunt wees. Dalk is die potensiaal net nie daar om die gewasse winsgewend te verbou nie? Ontleed die winsgewendheid van die verskillende bedryfstakke, insluitende vaste koste en vergelyk dit met ander rolspelers in die bedryf. Hierdie ontleding sal ook aandui wat vir die spesifieke boerdery moontlik is en hoeveel skuld betaal kan word.

Skuldlasverhoudings
In enige bedryf is daar sekere norme. Reeds direk na die oes is daar norme waaraan voldoen moet word. Een van die eerste aanwysers van probleme is die skuldlasverhoudings. Tabel 1 gee ‘n aanduiding van wat die maksimum skuldlas van verskillende tipes boerderye behoort te wees. Dit is egter net norme en moet altyd saam met rentabiliteit, likiditeit en terugbetaalvermoë beoordeel word.

Indien ‘n gedetailleerde begroting jaarliks opgestel word, probeer uitvind waarom die afwykings voorgekom het. Stel vas waarom produksie nie met die grondpotensiaal korrespondeer nie – wat is die rede daarvoor en hoe kan dit reggestel word?

‘n Oor-optimistiese begroting kan ook ‘n probleem wees. Let ook op of daar nie dalk ‘n bemarkingsuitdaging is nie. Daar kan legio redes wees waarom ‘n boerdery in ‘n finansiële krisis beland het. Faktore soos ‘n eenmalige droogte, skielike afname in kommoditeitspryse of die uitbreek van ‘n siekte kan die verwagte inkomste drasties verlaag.

Hierdie verlaagde inkomste kan tot oorlaatskuld aanleiding gee en veroorsaak dat ander verpligtinge nie nagekom kan word nie – wat die finansiering vir die volgende produksieseisoen kan affekteer. Finansierders is gewoonlik bereid om produsente in sulke omstandighede, binne perke, by te staan, mits daar aangedui kan word wat gedoen gaan word om volhoubaarheid te verseker.

Indien die rede vir die finansiële krisis meer lang termyn van aard is, byvoorbeeld ‘n langtermyndroogte, lang tydperk van swakker pryse of verkeerde finansiële besluite wat in die verlede geneem is, mag ‘n ander benadering soos die verkoop van bates nodig wees. Die produsent sal die boerdery opnuut moet beoordeel en herbeplan.

Beplan strategies
Dit is belangrik dat almal in die besigheid moet weet waarheen dit op pad is. Bestuur moet die strategiese rigting en mikpunte waar­binne die meeste besluite geneem moet word, aandui. Probeer om hierdie strategiese beplanning nie alleen te doen nie. Betrek die hele gesin en lig die noodsaaklike arbeiders ook in. Om ‘n onafhanklike persoon of instansie soos ‘n landboubestuursdienste-afdeling te betrek, sal verdere waarde tot so ‘n beplanning toevoeg.

Onthou om tyd en doelwitte aan die opgestelde plan te koppel en dit te kontroleer. Dit sal ‘n bydrae lewer om die rigting van die besigheid te toets en om die regte boerderyvertakkings te implementeer. Maak jou krediteure ook deel van jou strategiese plan en hou hul op hoogte van jou strategie en vordering.

Optimaliseer jou boerdery
Elke besigheid het gebiede waar die effektiwiteit en doeltreffendheid verhoog kan word. Indien jy weet dat die boerdery beperkings het, kan dit bestuur word. Indien die finansies ‘n beperking is, moet die rentabiliteit van elke vertakking bereken word.

Die vertakking met die hoogste rentabiliteit moet uitgebou word tot ander beperkinge die produksie stop of tot die fondse opdroog. Indien daar ‘n oppervlaktebeperking in jou boerdery is, moet die hoogste bruto marge per hektaar-vertakking verbou word tot óf al die lande beplant is óf tot ander beperkinge produksie staak. Onthou ook om die risiko van elke vertakking in aanmerking te neem.

Binne die verbouingstelsel moet ook geoptimaliseer word. Sien toe dat jou praktyke optimaal is om winste te verhoog. Ondersoek die effek van tegnologie om wins te verhoog en risiko te verlaag. Presisieboerdery is ‘n bekende metode om wins te verhoog deurdat kostes op die regte plekke aangewend word en die potensiaal van die hulpbron ontsluit word. Soms is dit belangrik dat die hulpbronne deeglik ondersoek word. Probeer om die lande gekarteer te kry, skakel die laer potensiaal-gedeeltes uit en pas ander praktyke toe.

Bemarking
Die gebruik van die termynmark maak dit ook moontlik om die pryse beter te bestuur en inkomste te verhoog – wees net bewus daarvan dat dit tyd gaan vereis. Kundige personeel moet deel van jou span word om produkte beter te bemark.

Om jou risiko’s te verskans, kan ook ‘n groot bydrae lewer. Insetversekering en haelversekering moet oorweeg word om die kapitaal in die boerdery te verskans.

Verminder uitgawes 
Die uitgawes wat aangegaan word, moet lei na verhoogde produksie, effektiwiteit en doeltreffendheid. Dink twee keer voordat uitgawes aangegaan word. Goedkoop koop is gewoonlik duurkoop. Dra sorg dat die insette aangewend die taak in die eerste rondte kan afhandel. Onthou: Wanneer iets oor gedoen word, lei dit tot hoër kostes en ‘n verlaging aan die inkomstekant.

Uitgawes is nodig om inkomste te genereer. Bepaal wat met die winste gaan gebeur as die uitgawes verminder word: As die winste verhoog, verminder die kostes en indien die winste nie verhoog nie, moet die kostes nie verminder nie.

Soms beplan produsente om die beskikbare krediet te rek om sodoende meer te kan plant. Pasop, dit is gewoonlik nie ‘n voordelige plan nie. Vaste en oorhoofse koste moet versigtig bestuur word. Bepaal wat werklik nodig is en sny die ander kostes drasties. Versekering moet ook deeglik ondersoek en herbeplan word: Stel vas hoe dieselfde voordele goedkoper bekom kan word.

Dit is nie ‘n skande om hulp te soek nie. Klop aan by finansierders, voorligters en konsultante om raad in te win en jou te ondersteun ten einde die spesifieke probleem aan te spreek.

Hierdie buitestanders sien dalk geleenthede en bedreigings in jou besigheid raak wat jy telkemale miskyk. Hulle het dalk ook ‘n model waarmee jy jou berekening in detail kan doen en wat ‘n aansienlike bydrae kan lewer.

Navrae oor die tema kan aan Pietman Botha by 082 759 2991 gerig word.

Publication: May 2018

Section: Mini-Focus on Money matters & Services