May 2018

ADRI THERON, SA Graan/Grain redaksiespan

Ottosdal No-till Klub, in samewerking met Graan SA en die Mielietrust, het op 13 en 14 Maart vanjaar vir die vierde keer hul jaarlikse konferensie by Ottosdal se skougronde gehou. Die konferensie se tema was die kritiese rol van biodiversiteit in die herlewing, veerkragtigheid en winsgewendheid van bewaringslandbou.

Iets wat in al die aanbiedings uitgestaan het, is dat bewaringslandbou se beginsels krities is vir die sukses van hierdie benadering. Dit is deur beide kundiges in die bedryf en produsente wat bewaringslandbou toepas, bevestig.

Nadat mnr Dirk Laas (voorsitter van Ottosdal No-till Klub) die teenwoordiges verwelkom het en ‘n plaaslike leraar, ds Leon Geel, die verrigtinge geopen het, is die eerste dag afgeskop met ‘n positiewe aanbieding van die bekende ekonoom, dr Roelof Botha. Hy glo dat landbou strategies belangrik en ‘n goeie belegging is. “As struikelblokke tot groei weggeneem kan word, kan ons aansienlik groei. Ons is op pad boontoe,” het hy gesê.

Prof Johnnie van den Berg van die Noordwes-Universiteit het daarna oor die rol van ‘n diverse populasie insekte in bewaringslandbou gepraat. “Daar is ‘n groot aantal voordelige spesies in mielielande wat ‘n groot rol in die plaagbeheerpiramiede speel, wat deur chemiese beheer gedood word. Onkruide is noodsaaklik om ‘n omgewing wat voordelig vir insekte is, daar te stel. Plaagpopulasies gaan op en af, maar moenie deur die ekonomiese drempelwaarde gaan nie. Deur ‘n omgewing voordelig vir die natuurlike vyande van plae te skep, word die natuurlike vyande meer en plae minder.”

Hy noem die liewenheerbesie as voorbeeld, wat daagliks tussen 70 en 100 plantluise moet vreet. ‘n Land met gesonde biodiversiteit kan duisende van die insekte huisves en sodoende groot getalle van die plaag verorber en só die plaag beheer.

Diversiteit in gewasverbouing – veral met die fokus op dekgewasse – is ‘n tema wat deeglik deur prof Chris Dannhauser, ‘n weidingskundige, bestudeer en nagevors is. Hy het die voordele van die aanwending van verskeie soorte en mengsels van dekgewasse in wisselbou, met die oog op die verbetering van grond en die bevordering van biodiversiteit, na aanleiding van uitgebreide navorsing daaroor, bespreek. Hy het ook droogtebestande opsies uitgewys en opbrengste onder verskillende verbouingsomstandighede voorgehou.

Mnr Izak Dreyer, ‘n produsent van Vrede in die Vrystaat wat al tien jaar bewaringslandbou doen, het hierna oorsigtelik sy kennis wat hy in die VSA by produsente wat daar bewaringslandbou toepas opgedoen het, met teenwoordiges gedeel. Hulle het van Bismarck in Noord-Dakota tot by Kansas City in die suide – ongeveer 2 500 km in totaal – gereis.

Die reënval daar is ongeveer 460 mm per jaar, waarvan ‘n kwart in die winter in die vorm van sneeu is, na ongeveer 800 mm in Kansas. Hy het sy waarnemings in die volgende woorde opgesom: “Gaan kyk wat doen die natuur en probeer die natuur naboots.” Hy het gesê dat die toer hulle oë oopgemaak het en laat besef het dat grondwater nie die grootste probleem in Suid-Afrika is nie, maar wel grondorganiese materiaal om die water reg aan te wend.

“Dekgewasse en maniere waarop dit in boerderystelsels ingebring kan word om dit volhoubaar te maak,” is hoe mnr Gerrie Trytsman van LNR-Diereproduksie in kort sy aanbieding opgesom het. Volgens hom is die hoofdoel van dekgewasse om grond te beskerm. Die meeste van die kontantgewasse wat aangeplant word, gee nie regtig bedekking van grond nie.

“Dit is krities dat dekgewasse die hele area moet bedek en hul wortels in die grond teenwoordig is, aangesien dit verdamping en infiltrasie teëwerk.” Die projek wat in 2013 afgeskop het, is deel van die Boere-innoveringsprogram waarby Graan SA betrokke is, met die oog daarop om navorsing te doen oor dekgewasse en projekte te inisieer. Die grootste aanvanklike doel was bewusmaking en bevordering van bewaringslandbou.

“Dit wil voorkom asof bewaringslandbou vir Ottosdal gemaak is as ‘n mens kyk na die tempo van verdamping in die area – 2 400 mm per jaar,” het hy ter inleiding van die bespreking van sy proefresultate gesê. “Dekgewasse kan daarom ‘n groot bydrae maak – nie net vir diversiteit nie, maar ook om vog en ekostelseldiente meer effektief te benut. Peulgewasse verskaf bevredigende kroonbedekking – bykans 100%, wat voghouvermoë verbeter.”

Die persentasie grondorganiese materiaal is belangrik vir grondgesondheid. “Nadat 2% organiese materiaal in die grond gerealiseer is, begin ‘n mens die positiewe resultate soos struktuurbou sien. Met babala op mielies is aggregaatstabiliteit in ‘n paar jaar redelik goed bevorder. Dolichos en babala het infiltrasievermoë beduidend bevorder. Wat grondgesondheid betref, wil dit voorkom asof die mengsels wat geplant is siektes soos wortel- en kroonvrot onderdruk. Kompaksie is ‘n uitdaging wanneer diere by die stelsel geïntegreer word.”

Hy sê dit is belangrik dat produsente sal meet om te weet – wat is beskikbaar, wat is deur diere gebruik en wat is oor – sodat ons daardie voeromsetverhoudings kan uitwerk en dit in geld kan omsit. Hy sien dekgewasse as ‘n voertuig na volhoubaarheid.

Dr André Nel, onafhanklike navorser, is van 2014 af betrokke by die proewe wat op Ottosdal geplant word en het verslag gelewer oor die afgelope jaar se proewe. Sy algemene waarnemings is dat die proewe vir hom bevestig het dat nouer rye en ‘n hoër plantpopulasie beter vaar en dat mielies beter in bewaringslandbou as in konvensionele bewerking vaar. Laasgenoemde is veral as gevolg van afloop en erosie in bewerkte lande as gevolg van die swak infiltrasietempo, terwyl dit verbeter met bewaringslandbou. Daarom sal geenbewerking uitstekend werk in droogtejare – veral wanneer dit droog is in Januarie/Februarie.

In die middag is die proefpersele besoek, wat elk beman is deur ‘n kundige wat inligting oor die proewe verskaf het. Hierdie proewe is deur die Ottosdal No-till Klub onderneem as deel van die projek wat die Mielietrust onder die Bewaringslandbou Boere-Innoveringsprogram by Graan SA befonds. Uit 16 van 19 proewe was die opbrengs van mielies in nouer rye en ‘n hoë plantestand (optimaal 30 000 tot 40 000), hoër as met wyer rye en ‘n laer plantestand.

Sojabone het die beste na akkerbone presteer, swak na voersorghum en gemiddeld na graansorghum, sonneblom en mielies. Sonneblom het beter na voersorghum en swakker na graansorghum presteer. Uit al die proewe was dit duidelik dat hoe groter en beter die bedekking van grond, hoe beter is die opbrengs.

Tweede dag
Dr Hendrik Smith, bewaringslandboufasiliteerder, Graan SA, het die eerste aanbieding op die tweede dag gelewer. Hy het ‘n opsomming gegee van waar bewaringslandbou in Suid-Afrika staan. Om almal se geheues te verfris het hy net weer herinner aan die seine wat Moeder Aarde vir ons stuur: Watererosie, winderosie, klimaatsverandering en ekstreme klimaatgebeure – en die effek wat dit alles het, soos ons biodiversiteit wat in gevaar is, sowel as die effek van die chemikalieë wat ons gebruik.

Hy het daarop gewys dat daar sedert 1992, nadat die Rio Klimaatsveranderingskonvensie doelwitte gestel het om die effek van klimaatsverandering, grondagteruitgang en die verlies van biodiversiteit op die aarde te vertraag, daar nog geen vordering plaasgevind het nie, die omgewing steeds aanhou verswak en ‘n ernstige bedreiging vir die voortbestaan van lewe op aarde inhou.

Deur middel van bewaringslandbou kan ons die situasie omdraai. Die beginsels van bewaringslandbou bied die addisionele voordeel dat grondgesondheid verbeter en tot laer insetkostes lei, wat produktiwiteit en winsgewendheid sal verhoog. Dit sluit in minimale grondversteuring, diversifisering (verskeidenheid gewasse en die integrasie van lewende hawe), permanente grondbedekking en die maksimalisering van lewende wortels in die grond.

In die lig van die drasties-stygende insetkostes is bewaringslandbou, reg toegepas, die antwoord vir die toekoms. Hy het daarop gewys dat hul in ‘n studie van waar en hoe bewaringslandbou in Suid-Afrika toegepas word, bevind het dat daar swak aanvaarding daarvan in al die provinsies is – en dat veral die hoofgraangebiede dit nog nie aanvaar het nie.

Hierna het mnr GP Schoeman van AgriSol kortliks oor grondontledings en aanbevelings gepraat. Daar is drie beginsels wat vir hul belangrik is: Verhoudings tussen elemente, kalsium: magnesiumverhouding en grondgesondheid. Hulle doen organiese en anorganiese ontledings elke derde jaar, meet grondgesondheid jaarliks en maak aanbevelings op grond van die gewas en doelwit vir die spesifieke land en moniteer dit deur die seisoen.

Die tema “grondgesondheid” is na ‘n ander vlak geneem deur dr Ronel Hendriks, hoofwetenskaplike beampte van ABM Africa, in haar aanbieding oor grondgesondheid en mikrobiologie. Sy vorm deel van hul internasionale navorsingspan, wat uitgebreide navorsing oor die tema doen, waarin hulle probeer om te verstaan wat die dinamika van grond is en wat die interaksie tussen grondorganismes is.

Sy het klem daarop gelê dat die regte organismes (mikorisa) reeds in grond op ‘n spesifieke plaas teenwoordig is – grondlewende organismes is dus plek- en klimaatspesifiek en verskil van een plaas na die volgende. Produsente moet daarom nie probeer om daarmee in te meng nie, maar eerder op bewaringslandboupraktyke fokus om wanbalanse te verhoed en die regte organismes te aktiveer ten einde plantgesondheid en weerstand teen siektes te bevorder.

Mnr Hennie du Toit, vee- en weidingskundige, Obaro en ook voorheen verbonde aan NWK, het die voordele van hoëdrukbeweiding in die Noordwes Provinsie aan kongresgangers voorgehou. Volgens hom is weiding oor die algemeen besig om te verswak en moet veld- en weidingsbestuur noukeuriger toegepas word.

In navorsing is bevind dat waterafloop van tot 180% meer by swak weiding as by goeie weiding voorkom. Beter weiding verhoog produksiedoeltreffendheid en opbrengs. Die belangrikste beginsel vir hoëdrukbeweiding is kort, vinnige beweiding en lang rus. Die produsente kan, afhangende van hul beskikbare hulpbronne, kies om matige hoëdrukbeweiding, hoëdrukbeweiding of ultrahoëdrukbeweiding toe te pas.

Met hoëdruk- en ultrahoëdrukbeweiding word meer bestuursinsette vereis. Dit hou egter heelwat voordele in soos die verbetering van die weiding oor tyd, benutting van onbenutte grasspesies (ongewenste grasspesies verdwyn oor tyd en drakrag verhoog), brandbane en padreserwes word benut, diere word mak weens hantering, mis en urine op weiding bevorder vrugbaarheid en groter wortelmassa en plante kom voor as gevolg van kort beweiding en lang rus.

Publication: May 2018

Section: Relevant