July 2018

Doeltreffendheid en effektiwiteit en die feit dat beide belangrike konsepte vir die hedendaagse produsent is, is in Deel 1 van die reeks aangespreek. Verbruiksdoeltreffendheid van insette is van kardinale belang – en veral wanneer die verbruiksdoeltreffendheid van beperkende hulpbronne soos water ter sprake is.

Die verskillende faktore wat hierin in ag geneem moet word, is ook reeds breedvoerig bespreek. Die res van die reeks sal op gemiddelde data uit verskillende streke van die land fokus. Hierdie gedeelte lê spesifieke klem op die Vrystaat.

Die berekening
Die inligting wat in die reeks artikels gebruik word, is maandelikse reënvalsyfers soos gemoniteer deur die verskillende weerstasies en verskaf deur die LNR-Grond, Klimaat en Water (LNR-GKW), asook die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se opbrengsinligting per seisoen vir die spesifieke streek. Die seisoen is bereken vanaf Augustus tot April met die aanname dat 20% van die reën wat gedurende Mei tot Julie voorkom, deel vorm van die volgende seisoen se plantbeskikbare water.

Reënval per seisoen = (mm reën Augustus, jaar 1 tot April, jaar 2) + (20% x mm reën Mei tot Julie, jaar 1)
Kg graan/ha = NOK t/ha-opbrengs x 1 000
Kg graan/mm water = kg graan/ha/reënval per seisoen

Bothaville-area
Volgens die data wat vanaf die LNR-GKW verkry is, is die gemiddelde jaarlikse reënval in die Bothaville-area 454,37 mm vanaf die 2001/2002-seisoen. Na die aanpassing in die syfers om die gemiddelde beskikbare hoeveelheid reën te bereken deur van die bostaande formule gebruik te maak, is die gemiddelde reënval per seisoen ongeveer 433,85 mm.

Volgens die NOK se inligting vir die Bothaville-omgewing is die gemiddelde opbrengs sedert 2001/2002, 4,02 t/ha – wat gelykstaande is aan 4 020 kg/ha. Dit beteken dat die gemiddelde opbrengs in die Bothaville-area ongeveer 9 kg graan/mm reën oor hierdie tydperk is.

Grafiek 1 toon die langtermyn gemiddelde reënval, asook kg graan/mm reën vir die Bothaville-streek. Dit is belangrik om die tendens oor tyd vas te stel om sodoende te beraam of daar oor tyd ‘n verbetering in die hoeveelheid graan per millimeter reën geproduseer is.

Grafiek 2 illustreer die persentasie afwyking vanaf die gemiddeld vir beide die reënval en die gemiddelde opbrengs. Dit weerspieël duidelik die wisselvalligheid van reënval en opbrengste wat die afgelope paar jaar voorgekom het.

Dit is belangrik dat in gedagte gehou word dat faktore soos die verspreiding van reënval deur die loop van die seisoen ‘n noemenswaardige impak op opbrengspotensiaal, wat nie in die berekeninge weerspieël word nie, kan hê. Dit kan grootliks ‘n verduideliking wees vir die wisselvalligheid in die afwyking van die gemiddelde opbrengs teenoor die gemiddelde reënval vir die seisoen.

Bultfontein-area
Die syfers vir die Bultfontein-area toon dat die gemiddelde reënval vanaf die 2006/2007-seisoen ongeveer 473 mm per seisoen beloop het. Na die aanpassing vir die beskikbare water vir die seisoen, is die gemiddeld ongeveer 440 mm/seisoen wat effens laer as die jaarlikse gemiddeld is. Die gemiddelde opbrengs vir die Bultfontein-area oor hierdie tydperk, soos dit deur die NOK gerapporteer word, is 4,8 t/ha.

Die gemiddelde opbrengs per millimeter reën vir die Bultfontein-streek is ongeveer 10,97 kg graan/mm reën. Die jaarlikse gemiddeld word in Grafiek 3 aangedui. Grafiek 4 toon die persentasie afwyking vanaf die gemiddeld van beide reënval en opbrengste vir die streek.

Uit Grafiek 4 is dit duidelik dat dit ook betreklik wisselvallig oor hierdie tydperk was, maar dat daar wel jare was waar bogemiddelde opbrengste met ondergemiddelde reënval geproduseer is.

Wesselsbron-area
Die Wesselsbron-area se gemiddelde reënval oor die tydperk vanaf die 2007/­2008-seisoen is ongeveer 486 mm per kalenderjaar. Die plantbeskikbare water na die aanpassing was ongeveer 427 mm/seisoen.

Volgens die NOK se syfers was die gemiddelde opbrengs vir die streek ongeveer 4,93 t/ha wat gelykstaande is aan 4 930 kg/ha. Dit beteken dat die gemiddelde opbrengs vir die streek ongeveer 12 kg graan/mm reën is. Die jaarlikse syfers vir die Wesselsbron-streek word in Grafiek 5 getoon.

Grafiek 6 toon die gemiddelde persentasie afwyking vanaf die gemiddeld vir beide reënval en opbrengste vir die streek. In die Wesselsbron-area gaan bogemiddelde reën in menige gevalle gepaard met die versuiping van graan, wat ‘n negatiewe impak op opbrengs het. Daar was wel jare waar die bogemiddelde reënval goeie bogemiddelde opbrengste in die streek opgelewer het.

Hou in gedagte
Alhoewel reënval gedurende die seisoen ‘n uiters belangrike rol in die produksie van die seisoen speel, speel ander faktore ook ‘n rol in die seisoen se produksie en opbrengs. Aangesien genoegsame vog ‘n uiters belangrike aspek en in meeste gevalle ‘n beperkende hulpbron is, is dit noodsaaklik dat dit optimaal benut moet word en daarom die fokus daarop.

In die internasionale konteks is die potensiaal vir mielieproduksie deur verskeie internasionale studies op tussen 15 kg tot 20 kg graan/mm water vir die seisoen aangedui. Dit is belangrik dat produsente vasstel hoe hulle plaas met die algemene potensiaal vergelyk, om gewasproduksie sodoende te verbeter en meer doeltreffend te maak.

Die verspreiding van die reën deur die loop van die produksieseisoen speel ook ‘n bitter belangrike rol in die opbrengs, terwyl die grond se waterhouvermoë, infiltrasievermoë, dreineringsvermoë, verdamping (vanaf grondoppervlak) en afloop ook krities is in die doeltreffende gebruik en benutting van reënwater vir optimale graanproduksie.

Ten slotte
Die inligting wat in die artikel gebruik word, weerspieël gemiddeldes van ‘n omgewing en verteenwoordig nie spesifieke gevalle nie. Dit bly steeds ‘n gepaste aanduiding van hoe ‘n streek se waterverbruiksdoeltreffendheid min of meer lyk. Dit is noodsaaklik dat produsente hul eie plase teen dié gemiddeldes sal meet om te bepaal hoe hul plase daarmee vergelyk.

Dit is nie net noodsaaklik dat produsente hul eie produksie aan dié gemiddeldes meet nie, maar die tendense moet ook bereken word om vas te stel of daar verbeterings in waterverbruiksdoeltreffendheid is. In die volgende gedeelte van die reeks sal op ander gedeeltes van die land gefokus word.

Publication: July 2018

Section: On farm level