August 2018


JANNIE DE VILLIERS, HUB

Ek het onlangs ‘n ontstellende syfer onder oë gehad. Die hoofekonoom van Standard Bank het die koste van die Zuma Error (nie era nie) op meer as R1 triljoen bereken. Dit kon meer as ‘n miljoen formele werksgeleenthede geskep het, wat 4,5 miljoen mense maklik kon versorg. Die bedrag sou sowat R300 miljard belastinginkomste vir die staat meegebring het en sou Suid-Afrika nie tot rommelstatus verneder het nie.

Groot is my verbasing egter oor hoe diegene wat die begunstigdes van al die korrupsie is, steeds skaamteloos veg om hulle posisies by die krippe te verdedig. Niemand kom bely nie, néé, die fluitjie-blasers word eerder geskors of afgedank. Wanneer gaan dit dan ophou? Die nuwe manne en vroue probeer waarskynlik eers die grootste pype las of herlei en die kleiner lekplekke gaan vir ‘n geruime tyd nog nie aandag kry nie.

Met dié dat ons direkteur-generaal by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye alweer haaks is met die minister, dink ek terug aan Kallie Schoeman (een van ons hoofbestuurslede) se opmerking teenoor die EFF toe hulle hom daar op sy plaas met grondbesetting kom dreig het: “You cannot scare me, I was born in Africa.” Dit is waarskynlik waarom ons al die chaos bly oorleef.

Terwyl die een staatsdepartement basies inmekaar tuimel, steek ‘n ander hand op om te help. Die Departement van Wetenskap en Tegnologie is een wat heelhartig vir landbou hand opsteek. Hulle is gereeld op ons voorstoep om te kom hoor waar hulle kan help en stel wesenlike fondse beskikbaar om landbounavorsing weer op die been te kry.

‘n Ander groep wat hand opsteek, is die universiteite wat oral in gapings inhardloop om die landbousektor met navorsing te ondersteun. Dit is regtig bemoedigend. Een groep het net nooit geld vir iets nie terwyl ‘n ander gretig is om in landbou te belê. ‘n Mens wonder waar die verskil inkom? My beste raaiskoot is bloot leierskap. Visionêre leiers met vaste karakter en hoë etiese waardes maak op enige platform ‘n betekenisvolle verskil.

Na maande se gespook en onderhandelinge het SAGIS uiteindelik die bedryf se eerste mielie-uitvoervooruitskouing gepubliseer. Ten minste het almal in die mark nou ‘n gelyke kans om te weet hoe die uitvoere gaan verloop. Daar is so effens lig in die tonnels van die wêreld as ek verneem hoe groener brandstof (etanol) al meer en meer in die beleidstukke van die wêreld verskyn. Tekens dat die vraag na graan steeds gaan bly styg, is bemoedigend – as die pryse maar net ook die pas sal volhou. Elders in die wêreld sit die wetenskaplikes bymekaar en praat oor die manipulering van gene (gene editing) om die opbrengste van gewasse te verhoog en die siektes teen te staan.

Ons gaan hard moet werk om te sorg dat daardie nuwe tegnologie, sodra dit die mark tref, vir ons produsente beskikbaar is. Uitsluiting hiervan kan ons ernstig benadeel deur nie te deel in die groei van wêreldmarkte nie. Die onstuimighede in die internasionale politiek (veral vanuit die VSA) kan ‘n meevallertjie vir ons graanuitvoere inhou as die konings van die groot mishope mekaar aanvat. As dit iewers pap reën, sal ons moet skep. Met dit in gedagte is ons spanne voluit aan die gang om nuwe markte te ontgin wat tot onlangs toe groot tonnemate by die VSA aangekoop het.

Publication: August 2018

Section: Features