August 2018

Doeltreffendheid en effektiwiteit is beide belangrike konsepte vir die hedendaagse produsent. Deel 2 van hierdie reeks het ‘n bietjie meer lig op die Vrystaat-streek se effektiwiteit gewerp, waar daar vergelykings tussen ‘n paar streke in die gebied getref is.

In Deel 3 is die fokus op die Noordwes Provinsie, waar dieselfde beginsel toegepas word wanneer die waterverbruiksdoeltreffendheid van verskillende streke in dié provinsie ontleed word.

Berekening
Die inligting wat in die reeks artikels gebruik word, is maandelikse reënvalsyfers soos gemoniteer deur die verskillende weerstasies en verskaf deur die LNR-Grond, Klimaat en Water (GKW), asook die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se opbrengsinligting per seisoen vir dié spesifieke streek. Die seisoen is vanaf Augustus tot April vasgestel, met die aanname dat 20% van die reën wat gedurende Mei tot Julie voorkom, deel vorm van die volgende seisoen se plantbeskikbare water.

Effektiewe reënval per seisoen = (mm reën Augustus, jaar 1 tot April, jaar 2) + (20% x mm reën Mei tot Julie, jaar 1)
Kg graan/ha = NOK t/ha opbrengs x 1 000
Kg graan/mm water = kg graan/ha/reënval per seisoen

Lichtenburg
Volgens die data wat vanaf die LNR-GKW verkry is, is die gemiddelde jaarlikse reënval in die Lichtenburg-area van die 2006/2007-seisoen af ongeveer 521 mm. Na die aanpassing in die syfers om die gemiddelde effektiewe (beskikbare) hoeveelheid reën met behulp van die bostaande formule te bereken, was die gemiddelde reënval per seisoen ongeveer 488,78 mm. Volgens die NOK se inligting vir die Lichtenburg-area was die gemiddelde opbrengs sedert 2006/2007 3,31 t/ha (3 310 kg/ha). Dit beteken dat die gemiddelde reëngebruiksdoeltreffendheid in die Lichtenburg-area oor hierdie tydperk ongeveer 8,58 kg graan/mm water (reënval) was.

Grafiek 1 toon die langtermyn-gemiddelde reënval vanaf 2006/2007, asook kg graan/mm reën vir die Lichtenburg-area. Dit is belangrik om die tendens oor tyd te bepaal ten einde vas te stel of daar oor tyd ‘n verbetering in reëngebruiksdoeltreffendheid was.

Grafiek 2 wys die persentasie afwyking vanaf die gemiddeld vir beide die reënval, asook die gemiddelde opbrengs. Dit weerspieël duidelik die wisselvalligheid in reënval en opbrengste wat die afgelope paar jaar voorgekom het.

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat faktore soos die verspreiding van reënval deur die loop van die seisoen ‘n noemenswaardige impak op opbrengspotensiaal kan hê – wat nie in die berekeninge weerspieël word nie. Dit kan grootliks ‘n verduideliking wees vir die wisselvalligheid in die afwyking van die gemiddelde opbrengs gemeet teen die gemiddelde reënval vir die seisoen.

Die uitdaging is om produksiestelsels meer doeltreffend te maak om oesopbrengste meer stabiel te kry te midde van wisselvallige reënval. Die 2011/2012-seisoen staan uit met ‘n baie hoë reëngebruiksdoeltreffendheid (30 kg/mm), wat redelik algemeen voorkom in droë seisoene. In hierdie geval was die jaarlikse reënvalsyfer (rondom 100 mm) wat aangedui is, te laag om enige oes te lewer, so daar moes dus óf heelwat meer grondwater oorgedra gewees het vanaf die vorige seisoen (wat ‘n baie hoë reënval van net onder 1 000 mm gehad het) om ‘n gemiddelde oes van rondom 3 t/ha te realiseer, óf dat die reënvalrekords van die 2011/2012-seisoen nie korrek is nie. Die lae reënval van die 2011/2012-seisoen en waarskynlik geen grondwateroordraging nie het bygedra tot die misoeste in die 2012/2013-seisoen (sien Grafiek 2).

Die jaarlikse en gemiddelde reëngebruiksdoeltreffendheid van die Lichtenburg-area is baie laer as die potensiële reëngebruiksdoeltreffendheid van tussen 15 kg/mm/jaar en 20 kg/mm/jaar, wat dui op baie ruimte vir verbetering in doeltreffendheid van die graanproduksiestelsels van die streek.

Delareyville
Die syfers vir die Delareyville-area toon dat die gemiddelde jaarlikse reënval vanaf die 2006/2007-seisoen ongeveer 483,4 mm/seisoen is. Na die aanpassing vir die effektiewe reënval is die gemiddeld ongeveer 457 mm/seisoen – wat effens laer as die jaarlikse gemiddeld is.

Die gemiddelde opbrengs vir die Delareyville-area oor hierdie tydperk, soos dit deur die NOK gerapporteer word, is 2,57 t/ha. Die gemiddelde reëngebruiksdoeltreffendheid vir die Delareyville-area is egter ongeveer 5,62 kg graan/mm reën, wat baie laer as die potensiële 15 kg – 20 kg graan/mm reën is en baie ruimte vir verbetering aandui.

In Grafiek 3 word die jaarlikse gemiddeld aangedui. Dieselfde patrone kom na vore waar reënwater nie doeltreffend gebruik word en dan oorgedra word in seisoene met hoë reënval nie. Dit verbeter dus die reëngebruiksdoeltreffendheid van die volgende seisoen indien dit ‘n droë seisoen is soos 2011/2012. Die grafiek dui aan dat baie reënwater oor die lang termyn nie doeltreffend gebruik word nie; dit word verloor deur afloop, verdamping of diep dreinering.

Grafiek 4 toon die persentasie afwyking vanaf die gemiddeld vir die streek vir beide reënval en opbrengste. Uit Grafiek 4 kan ons aflei dat dit oor hierdie tydperk uiters wisselvallig was, maar dat daar wel jare was waar bogemiddelde opbrengste met ondergemiddelde reënval geproduseer is– wat weer eens aandui dat reënwater van ‘n nat na ‘n droë seisoen oorgedra is.

Schweizer-Reneke
Die Schweizer-Reneke-area se gemiddelde reënval oor die tydperk (vanaf die 2006/2007-seisoen) is 403 mm per kalenderjaar. Die effektiewe reënval, na die aanpassing, is ongeveer 446 mm/seisoen.

Volgens die NOK se syfers is die gemiddelde opbrengs vir die streek ongeveer 4,31 t/ha (4 310 kg/ha). Dit beteken dat die reëngebruiksdoeltreffendheid vir die streek ongeveer 10,4 kg graan/mm reën is, wat hoër is as die ander streke en dui op meer doeltreffende produksiestelsels. Dit is egter steeds baie laer as die reëngebruiksdoeltreffendheid van 15 kg/mm – 20 kg/mm reën wat ook dui op baie ruimte vir die verbetering in die doeltreffendheid van die produksiestelsels. Die jaarlikse syfers vir die Schweizer-Reneke-area word in Grafiek 5 getoon.

Grafiek 6 wys die gemiddelde persentasie afwyking vanaf die gemiddeld vir beide reënval en opbrengste vir die streek. Dit is hieruit ook duidelik dat die opbrengste uiters wisselvallig was – gegewe die reënval vir die seisoen. Daar is boonop in sommige jare met ondergemiddelde reënval bogemiddelde opbrengste gelewer en andersom – wat dui op ‘n mate van (onbenutte) grondwateroordraging vanaf nat na droë seisoene.

Dit kan ook verder toegeskryf word aan die periode wanneer die reën deur die loop van die seisoen voorkom – wat ‘n noemenswaardige rol in die opbrengs vir die seisoen speel.

Hou in gedagte
Alhoewel effektiewe reënval gedurende die seisoen ‘n uiters belangrike rol in die produksie van die seisoen speel, is daar ook ander faktore of praktyke wat produksie en opbrengs kan beïnvloed. Aangesien genoegsame water ‘n besonder belangrike aspek en in die Noordwes Provinsie ‘n beperkende hulpbron is, is dit noodsaaklik dat dit optimaal benut moet word.

Soos in die artikel aangedui, is ‘n praktiese norm of mikpunt vir reëngebruiksdoeltreffendheid in mielieproduksie deur verskeie internasionale studies vasgestel op tussen 15 kg graan/mm water tot 20 kg graan/mm water vir ‘n seisoen.

Dit is belangrik dat produsente sal vasstel hoe hulle plase met die algemene norm of potensiaal vergelyk, om sodoende die verbouing daarvan te verbeter en meer doeltreffend te maak. Die verspreiding van reën deur die loop van die produksieseisoen speel ook ‘n uiters belangrike rol in opbrengs, terwyl die grond se waterhouvermoë, infiltrasievermoë, verdamping asook dreineringsvermoë ‘n groot invloed kan hê in die doeltreffende gebruik en benutting van reënwater – en uiteindelik optimale graanproduksie.

Ten slotte
Die inligting wat in die artikel gebruik word, weerspieël gemiddeldes van ‘n omgewing en verteenwoordig nie presiese gevalle nie. Dit is egter steeds ‘n bruikbare aanduiding van hoe ‘n streek se reëngebruiksdoeltreffendheid min of meer daar uitsien. Dit is ook noodsaaklik dat produsente hul eie plase teen dié gemiddeldes sal meet om vas te stel hoe hul plase daarmee vergelyk.

Dit is nie net noodsaaklik om hulself teen dié gemiddeldes te meet nie, maar die tendense moet ook bereken word om vas te stel of daar ‘n verbetering in reëngebruiksdoeltreffendheid is. In die volgende gedeeltes van die reeks sal daar op ander gedeeltes van die land gefokus word.

Publication: August 2018

Section: On farm level