August 2018

DR DIRK STRYDOM, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA

NAMPO is ‘n huishoudelike naam en in die landbougemeenskap sien almal uit na dié datum in die jaar wanneer die Graan SA NAMPO Oesdag plaasvind. In sy 52ste jaar het NAMPO die horison al verskuif vanaf ‘n klein produsentegeleentheid na ‘n internasionale skou.

Méér, dit het in ‘n platform ontwikkel waar landboubesigheid gedoen kan word, gesprek tussen verskeie industrie-rolspelers kan plaasvind, nuwe tegnologie en denkwyses ten toon gestel kan word, maar ook waar die landboustorie vertel word. Dié jaar het ons verskeie media (waaronder televisie- en produksiespanne) gesien wat NAMPO bygewoon het met die oog daarop om die landboustorie te vertel.

NAMPO Oesdag het oor die jare reeds sekere waardes gevestig, waarmee hy tot die plaaslike ekonomie en sy gemeenskap bydra. Vir dié rede word kosstalletjies slegs beman deur nie-winsgewende organisasies, soos skole en kerke. Dit is ‘n skou van hoëwaarde-uitstallers, wat landbougerig is en waarvan landbouers ‘n groot deel van die teikenmark vorm.

Dit is ook essensieel dat NAMPO gesien word as ‘n landboufamilie-ervaring. Daarom is daar uitstallers wat spesifiek gemik is op die vroulike landbouers en die jonger geslag landbouers. Dit is opvallend dat buitelandse besoekers en internasionale skoue dadelik opmerk dat die hele skou ‘n familie-ervaring is en dat besoekers ‘n welkome en warm atmosfeer beleef.

Uitstallers se persepsie van NAMPO
As deel van ons waardes wil ons graag hê dat ons uitstallers moet voel hulle word as vennote gesien. Daarom het ons dit hierdie jaar goed gedink om deur middel van vraelyste terugvoer vanaf ons uitstallers te verkry. Die terugvoer was oorweldigend. Ons het ‘n groot aantal voltooide vraelyste terugontvang.

In terme van hoe die uitstallers die skou in geheel beoordeel, het 87% van die uitstallers gevoel dit was baie goed tot uitstekend (Grafiek 1). Meer as 50% van die uitstallers het aangedui dat die sterkste positiewe punt van die Oesdag die goeie organisering was, gevolg deur hoëkwaliteit-besoekers wat daar is om besigheid te doen, asook die diversiteit van uitstallers.

Die grootste negatiewe punt bly die uitdaging in terme van nasionale paaie wat nie in ‘n goeie toestand is nie – en dié jaar het veral die gesluite Viljoenskroon-Bothaville-pad veroorsaak dat die noordelike parkering geweldige druk ervaar het. Verblydend egter was dat 28% van die uitstallers geen negatiewe punt ervaar het nie.

In terme van organisering het 96% van die uitstallers gevoel dat die Oesdag baie goed tot uitstekend georganiseer was en dat die personeel die meerderheid van die tyd behulpsaam was en inligting tydig aan die uitstallers verskaf het.

Dit is vir Graan SA uiters belangrik dat die plaaslike ekonomie ook by die geleentheid sal baat. Die uitstallers het aangedui dat hul gemiddeld R51 800 plaaslik aan verblyf, etes en arbeid spandeer het. Dit is ‘n totaal van R38,7 miljoen wat slegs deur uitstallers spandeer is – neem in ag dat dit besoekers se spandering op hierdie items uitsluit.

Die totale waarde van voorraad by NAMPO was ‘n beraamde R1,5 miljard – ‘n gemiddeld van R1,98 miljoen per uitstaller. Die uitstallers het verder R125 753 per uitstalruimte spandeer ten einde hul produkte in hoëgehalte uitstalruimtes te vertoon en dit sodoende vir besoekers ten beste ten toon te stel. Dit verteenwoordig ‘n totale spandering van R94 miljoen en sluit die bou van uitstalruimtes en vervoer van toerusting in.

Slotsom
Die statistieke toon dat NAMPO as een van die mees gesogte landbouskoue in die land – en selfs in die wêreld – beskou kan word. Die NAMPO-span gaan ook alles in hul vermoë doen om te bly by die gevestigde waardes van dié spoguitstalling om so-doende ook die kwaliteit te behou.

Verder is dit vir Graan SA ‘n riem onder die hart om dié merkwaardige investering in die plaaslike ekonomie te sien realiseer, aangesien die plattelandse omgewing elke ekonomiese inspuiting broodnodig het. Ons dank ons Hemelse Vader dat Hy aan ons die geleentheid bied en bystand verleen om so ‘n wonderlike geleentheid te kan aanbied.

Ons wil vir elke uitstaller, kosstalletjie, diensverskaffer, medialid, karwag, vrywilliger, staatsamptenaar, hoofbestuurs-, komitee-, personeellid en besoeker baie dankie sê vir ‘n besondere NAMPO. Ons kan almal saam trots wees op ons skou.

Publication: August 2018

Section: Grain SA