August 2018

PETRU FOURIE, navorsingskoördineerder en produksiekoste-analis, Graan SA

Graan SA se sorghumkultivarproefprojek is in sy derde seisoen. Die projek vind in samewerking met die sorghumsaadmaatskappye (Pannar, K2 Agri en Agricol) en produsente plaas. Die doel van die projek is om die winsgewendheid en volhoubaarheid van sorghumproduksie in Suid-Afrika te bevorder deur die aanpasbaarste kultivar vir elk van die produksiegebiede te identifiseer.

Lokaliteite
Strookproewe is in die afgelope seisoen op slegs twee lokaliteite aangeplant – hoofsaaklik omdat dit as een van die uitdagendste plantseisoene onthou sal word. As gevolg van die risiko wat kweleas inhou, is die proef in die Vrystaat nie aangeplant nie. Daar word ook tans bitter min soetsorghum in daardie omgewing aangeplant. Die Sannieshof-proef het weer tydens planttyd erge droogtetoestande ervaar. Die ander twee lokaliteite (Settlers en Standerton) is gestroop en resultate word in dié artikel bespreek.

Kultivars en kontrole
Kultivars wat kommersieel beskikbaar is, sowel as potensiële “goeie” kultivars wat nog nie kommersieel beskikbaar is nie, word in die proewe ingesluit. Daar is ‘n nuwe opwinding onder Graan SA se personeel en sorghumprodusente, aangesien die betrokke saadmaatskappye daadwerklik skouer aan die wiel sit in hul poging om nuwe kultivars vir produsente beskikbaar te stel.

Wanneer die resultate in Tabel 1 en Tabel 2 van nader bekyk word, is dit opvallend hoeveel nuwe kultivars die afgelope drie seisoene in die proewe ingeskryf is. Pannar se PAN 8816 is as kontrole gebruik.


Resultate
Strookproefresultate kan gebruik word om die beste kultivars met die regte eienskappe te identifiseer en sodoende die aanpasbaarste kultivar vir ‘n betrokke omgewing aan te plant. Die tabelle verskaf die opbrengste per kultivar, gemiddelde opbrengs per gebied en elke gebied se koëffisiënt van variasie (KV). Die KV dui die statistiese korrektheid van ‘n proef aan. ‘n Waarde laer as 15 word as statisties goed beskou. Met ander woorde: Hoe laer die KV, hoe meer aanvaarbaar is die proef se akkuraatheid.

Met die plaaslike vraag, hoofsaaklik na soetsorghum, word soetsorghumkultivars grotendeels in die proewe ingesluit. Bittersorghumkultivars word met ‘n¹ aangedui.

Standerton
In Tabel 1 is die opbrengsdata vir Standerton vir die afgelope drie produksieseisoene aangebring. Die koëffisiënt van variasie (KV) is besonder laag (2,22%) vir die 2017/2018-seisoen, die proef is uiters goed uitgevoer en die resultate is betroubaar. Agricol se kultivar (Enforcer) het die hoogste opbrengs in die 2017/2018-seisoen behaal en het ook die beste presteer as die drie jaar gemiddeld in ag geneem word.

Pannar se PAN 8625, PAN 8944 en PAN 8816 het tweede, derde en vierde plekke behaal, gevolg deur Agricol se Dominator. Waar kultivars vir twee of drie jaar in die proef ingeskryf is, is die gemiddeld bereken.

Alhoewel dié proef heelwat kllimaatsuitdagings deurstaan het, is ‘n besonder goeie gemiddelde opbrengs van 6,17 t/ha vir die proef behaal.

Settlers 
Heelwat nuwe sorghumkultivars is in die afgelope drie seisoene in die Settlers-proef ingeskryf. PAN 8945 en PAN 8625, twee van Pannar se nuwe inskrywings, het in die afgelope seisoen die beste en tweede beste opbrengste behaal. Agricol se kultivar (Enforcer) het die derde beste presteer, gevolg deur AG Bullet wat ook ‘n Agricol kultivar, sowel as ‘n nuwe inskrywing, is.

Die koëffisiënt van variasie (KV) is 15,96% vir die 2017/2018-seisoen en ‘n gemiddelde opbrengs van 3,28 t/ha is behaal. Waar kultivars vir twee of drie jaar in die proef ingeskryf is, is die gemiddeld bereken.

Slotsom 
Graan SA spreek graag sy dank uit aan elke individu wat met ander rolspelers handevat en saamwerk om die plaaslike sorghumproduksie te bevorder deur hul betrokkenheid by dié projek. Só ‘n taak kan nie aangepak word sonder toegewyde, doelgerigte produsente nie en ook nie sonder die samewerking en bystand van Pannar, K2 Agri en Agricol nie. Die resultate kan ook op Graan SA se webblad by www.grainsa.co.za, onder die Graannavorsingsopskrif besigtig word.

Graan SA spreek sy opregte dank uit teenoor die Sorghumtrust vir hul finansiële steun waarsonder die projek nie moontlik sou wees nie.

Sorghumproefbesigtigingsdag op Standerton
Graan SA se sorghumkultivarproewe word op mnr Ebert du Plessis se plaas in die Standerton-omgewing aangeplant. ‘n Uiters suksesvolle sorghumproefbesigtigingsdag is gedurende Mei daar gehou. Dié dag is deur Graan SA, produsente en saadmaatskappye bygewoon. Daar het ‘n gemoedelike atmosfeer geheers, met positiewe interaksie tussen die verskeie rolspelers.

Pannar, Agricol en K2 Agri het inligting van hul onderskeie kultivars aan produsente deurgegee, waarna produsente die geleentheid gehad het om deur die proewe te beweeg. Na ‘n besonder goeie sessie en terugvoer oor aspekte binne die sorghumbedryf, is daar heerlik saam gebraai en gekuier. Graan SA spreek graag sy dank uit aan almal wat saamgewerk het om van dié dag so ‘n groot sukses te maak.

Publication: August 2018

Section: Spotlight on Sorghum