August 2018

MARIËTTA CRONJÉ, SA Graan/Grain medewerker

Graan SA se Ouditkomitee het onlangs ‘n nuwe voorsitter, mnr André Hanekom, aangestel. Dié voormalige besturende direkteur van Pioneer Voedsel dien ook op verskeie privaat maatskappye se direksies, asook twee genoteerde maatskappye, te wete Quantum Foods en Sea Harvest.

Hanekom wys daarop dat hy bogenoemde betrokkenheid by ‘n verskeidenheid van sake-ondernemings uiters bevredigend vind.
Hy het daagliks te doen met kundiges in die sakewêreld en sodanige interaksie gee hom die geleentheid om, danksy sy ervaring, ‘n sinvolle bydrae te probeer lewer tot bestuurspanne.

Unieke uitdaging
‘n Besondere hoogtepunt in sy loopbaan was om uitvoering aan sy mandaat as besturende direkteur van Pioneer Voedsel, wat tot stand gekom het na aanleiding van die samesmelting van Bokomo en Sasko, te gee deur dit as besigheid te laat groei. Dit was ‘n unieke uitdaging omdat ‘n hele nuwe speelveld betree is na die deregulering van die maal- en baknywerhede in 1995.

Pioneer se volgehoue groei was egter só suksesvol dat dit in 2008 gelei het tot die notering van die maatskappy op die Johannesburgse Effektebeurs. Hy skryf hierdie sukses onder meer aan goeie korporatiewe bestuur toe.

Goeie korporatiewe bestuur
Goeie korporatiewe bestuur is volgens hom van deurslaggewende belang in die bestuur van ‘n suksesvolle onderneming.

“Dit kan slegs bereik word as daar aan die waardes van die maatskappy voldoen word en daar ‘n verbintenis tot etiese gedrag is. Die strewe moet dus wees om deur alle rolspelers as eties en verantwoordelik beskou te word. Só ‘n reputasie kan slegs verdien word indien almal in die organisasie hulle toewy aan etiese praktyke,” het hy gesê.

Om gehoor te gee aan die vereistes van die maatskappywet, sal hy as voorsitter moet verseker dat die Ouditkomitee as statutêre instelling, nougeset aandag gee aan al die prosesse van finansiële rapportering. Die Ouditkomitee het ook ‘n verantwoordelikheid om risikobestuur toe te pas en toe te sien dat die besluitnemingsraamwerk met die korporatiewe beginsels ooreenstem.

Meer oor die mens
Op ‘n persoonlike noot wys Hanekom daarop dat hy in die eertydse Duiwelskloof in Limpopo gebore is en as kind saam met sy gesin na die Wes-Kaap verhuis het. Gevolglik beskou hy homself as ‘n gesoute Bolander met diep wortels in Stellenbosch.

Die nabyheid van die see het hom dan ook heelwat meer geleentheid gegee om sy gunsteling sport, seilplankry, te beoefen. Deesdae is hy egter ‘n man wat daarvan hou om in die gimnasium te oefen en by geleentheid ‘n gholfstok te swaai.

Hanekom het die leisels by mnr Fanie van Zyl (produsent en voormalige hoofbestuurslid van Graan SA vir Streek 3), wat in Maart vanjaar uitgetree het, oorgeneem. Van Zyl was vanaf 2006 tot 2018 voorsitter van die Ouditkomitee.

Publication: August 2018

Section: Grain SA