Beskadigde struktuur van grond.

August 2018

MARIËTTA CRONJÉ, SA Graan/Grain medewerker

Nuwe en selfs ingrypende voorstelle oor grondhervorming is onlangs deur Graan SA gemaak in ‘n voorlegging aan die Parlementêre Hersieningskomitee wat die kwessie ondersoek. Die hoofdoel van die voorstelle is om skade aan die ekonomie en ‘n bedreiging vir voedselsekerheid wat deur ondeurdagte grondhervorming geskep kan word, te voorkom.

Graan SA se voorlegging bevat onder meer die volgende voorstelle:

  • Voorsiening van titelaktes aan diegene wat voordeel sal trek uit grondhervorming.
  • Soortgelyke titelaktes aan huisbewoners in stedelike gebiede.
  • ‘n Deeglike ondersoek na nuwe maniere om bewoners van kommunale grond behoorlike eiendomsregte te gee ten einde hulle beter te betrek by voedselproduksie.
  • Aanpassing van die mandaat van die Land Bank sodat hulp aan beginnerboere verleen kan word.
  • Opleiding van nog meer voorligtingsbeamptes om beginnerboere by te staan.
  • ‘n Enkele en standhoudende oudit van grondbesit.

In die inleiding tot die voorstelle sê Graan SA dat die organisasie lankal reeds verby die kwessie of grondhervorming in die land nodig is, beweeg het. Dit is die organisasie se begeerte om nou ‘n bydrae te lewer tot ‘n proses van volhoubare implementering, tesame met die bevordering van voedselsekerheid. Die organisasie is van mening dat die proses van grondhervorming sedert 1994 min daartoe bygedra het om bogenoemde doeleindes te bereik. Dit kan grootliks toegeskryf word aan onvoldoende implementering.

Graan SA is van mening dat die huidige Grondwet voldoende en ruim genoeg is vir die implementering van regverdige en gelykwaardige grondhervorming op ‘n volhoubare wyse. Daar is dus geen verandering nodig nie.

Volgens die voorlegging sal voorsiening van titelaktes aan diegene wat voordeel sal trek uit grondhervorming meebring dat hulle finansiering vir behoorlike boerdery sal kan bekom of in staat gestel sal word om aandeelhouding in vennootskappe met gevestigde produsente te finansier. As ‘n alternatief tot hierdie konsep, word voorgestel dat sulke grond aan bevoordeeldes verkoop word op voorwaardes wat hulle in staat sal stel om volhoubare boerdery toe te pas.

Ten opsigte van titelaktes vir stedelike bewoners, is Graan SA van mening dat dit sal bydra om waardigheid te verleen aan mense wat vir jare en selfs generasies in hierdie staatshuise moes bly. Só ‘n stap sal beduidend daartoe bydra om gehoor te gee aan mense se begeerte om hul eie stuk grond te besit. ‘n Groot aantal kommersiële produsente het reeds aangebied om registrasiekostes vir sulke eiendom te betaal vir hulle plaaswerkers wat in dorpe woon.

Graan SA is uiters bewus van die sensitiewe aard van eiendomsregte op kommunale grond en bepleit dus dat ‘n nuwe benadering tot die aspek gesoek word. Die gebrek aan volle titel en eiendomsreg beteken dat finansiering vir boerdery nie bekom kan word nie, wat weer beteken dat geen of geweldig min produksie op sulke grond plaasvind. Beduidende verandering in die kwessie kan meebring dat sulke grond ‘n groter bydrae lewer tot toekomstige voedselsekerheid.

Die huidige mandaat van die Land Bank voorkom dat die bank lenings aan beginnerboere kan gee sonder aanvaarbare waarborge. Graan SA stel voor dat twee moontlike oplossings vir die uitdaging gevolg word. Die een is om ‘n beduidende deel van die grondhervormingsbegroting aan die Land Bank beskikbaar te stel om sulke lenings te finansier. So nie, behoort die staat ‘n aansienlike waarborg aan die Land Bank te voorsien sodat dit benut kan word in die plek van waarborge wat gewoonlik van produsente vereis word. Sodanig staatswaarborge kan ook gebruik word vir steun aan nuwe vennootskappe of gesamentlike ondernemings tussen wit en swart produsente.

Dit is juis die gebrek aan sulke waarborge en finansiering wat meebring dat vennootskappe tussen produsente nie van die grond af kom nie. Talle kommersiële produsente het reeds hulle gewilligheid aangedui om sulke vennootskappe met swart produsente aan te gaan – mits bevredigende finansiering vir sulke ondernemings beskikbaar is.

‘n Groot aantal nuwe boere kla dat van die huidige voorligtingsbeamptes self nie genoeg kundigheid en kennis oor boerdery het nie. Graan SA is op die oomblik besig om in samewerking met die provinsiale regering van die Oos-Kaap inligtingsbeamptes op te lei. Hierdie program kan maklik uitgebrei word na ander provinsies of kommoditeite.

Daar is op die oomblik ‘n veelvoud van grondoudits aan die gang. ‘n Enkele instansie om so ‘n oudit te doen met duidelike definisies en voorskrifte, is dringend nodig. Behoorlike inligting oor die aard van grondbesit is nodig om grondhervorming doeltreffend te monitor.

Kommoditeitsorganisasies soos Graan SA speel tans ‘n belangrike rol in die implementering van landbouprogramme van die regering en is bereid om in die toekoms ‘n nog groter rol te speel. Die kies van onbevoegde en onkundige “vennote” van die regering het tot nou toe onder meer tot swak implementering van grondhervorming gelei. Miljoene rande is vermors deur korrupsie en ander onreëlmatighede en fondse het nooit op die plaas beland waarvoor dit eintlik bestem was nie.

Die suksesvolle implementering van grondhervorming kan lei tot die nodigheid vir bykomende markafsetgebiede. Suid-Afrika is gunstig geleë om groeiende markte in die Midde-Ooste en Asië te bedien, maar toegang tot daardie afsetgebiede is op die oomblik ‘n uitdaging. Tariefbeleid behoort aangepas te word om plaaslike produksie te bevorder in plaas daarvan om goedere – veral voedsel – in te voer. In aansluiting daarby het die bewerking van landbouprodukte ‘n hupstoot nodig. Groot voedselkonglomerate sit en wag vir ‘n gunstiger beleidsomgewing om beskikbare fondse te gebruik vir investering – wat onder meer tot werkskepping sal lei.

Graan SA spreek ten slotte die wens uit om gesprekke met die Parlementêre Hersieningskomitee te voer wanneer die komitee die Gauteng Provinsie besoek.

Publication: August 2018

Section: Grain SA