June 2018

JOHAN SMIT, namens GOSA

​​​​​’n Geskatte meer as 20 miljoen ton graan- en oliesade­voorrade is in die 2017-seisoen effektief deur die Graan­hanteringsorganisasie (GOSA) se lede hanteer. Diepsee-uitvoere het sowat 2 miljoen ton beloop, waarvan wit­mielies uitgevoer is na Kenia en geelmielies na Japan, Korea en Taiwan.

GOSA het sy lede bedank vir die effektiewe hantering van die vorige seisoen se rekord mielie-oes van bykans 17 miljoen ton. Die silo’s is teen volle kapasiteit benut en silo-eienaars moes voorrade rondskuif om almal te akkommodeer. Tesame met ander kommoditeite wat gedurende 2017 gestroop is, is meer as 20 miljoen ton uiteindelik deur die lede hanteer, met nagenoeg 2 miljoen ton wat na die Ooste uitgevoer is.

“Ondanks goeie of slegte tye is ons in landbou verplig om aan Suid-Afrika se bevolking ‘n gerusstelling te verskaf rakende voedselsekerheid en -sekuriteit. GOSA is trots op die onderskeie landbou-organisasies en hul samewerking. Die land se nagenoeg
33 000 primêre produsente, wat gereken word as van die beste in die wêreld – en dit sonder enige staatsubsidies soos hul eweknieë elders ter wêreld – verdien besondere eer,” het me Annatjie Loio (president van GOSA) by die organisasie se 35ste simposium op 22 en 23 Maart by Mosselbaai gesê.

“Volgens die 28 Maart-oesskatting behoort 12,2 miljoen ton mielies dié seisoen geoes te word. Die oordragvoorrade van nagenoeg 3,5 miljoen ton mielies en verbruik van 10,5 miljoen ton per jaar, laat die plaaslike bedryf met ‘n hele paar miljoen ton mielies vir uitvoere.”


Benewens die land se normale mielie-uitvoere na buurlande soos Botswana, Lesotho, Zimbabwe, Zambië, Swaziland, Mosambiek en Namibië, is mielies tans ook in aanvraag in Suid-Korea. Indien ons pryse goed meeding met dié van die VSA, kan dit ‘n potensiële mark wees. Gunstige weervooruitsigte en die wisselvalligheid van die rand sal steeds fokusareas wees wat ‘n invloed op die mark het.

Loio het daarop gewys dat ‘n uitdaging die landbousektor in die gesig staar, aangesien die gemiddelde ouderdom van produsente tans ouer as 60 jaar is. “Die jonger generasie moet deelneem aan die voorsiening van voedsel vir ons land,” het sy gemaan en bygevoeg dat grondonteiening sonder vergoeding verhoed moet word ten einde produsente in staat te stel om voedselsekerheid te handhaaf.

Verskeie van die genooide sprekers het die potensiële negatiewe effek van die regering se beplande onteiening van grond sonder vergoeding aangeraak, maar ook uitgewys dat transformasie in landbou onafwendbaar is. Die sektor sal aktief moet deelneem aan transformasie, maar nie ten koste van die volhoubaarheid van die sektor as een van die grootste skeppers van werk en voedselsekerheid nie.

Die sprekers tydens die simposium was mnr Theo Venter (politieke en beleidspesialis), dr Roelof Botha (onafhanklike ekonoom en analis), prof Mohammad Karaan (lid van die Nasionale Beplanningskommissie), mnr Esli Rall (RMB) en mnr Chris Seward (Envirologix). Mnre Vusi Thembekwayo, Brand Pretorius en adv Gerrie Nel het hulle ervaring gedeel rakende persoonlike en besigheidsleierskap, korporatiewe beheer en anti-korrupsie.

Na ‘n strategiese beplanningsessie deur GOSA met verskeie rolspelers uit die bedryf in Februarie vanjaar, is die organisasie tans besig om sy posisionering te herbedink. Planne hieromtrent sluit in om die verteenwoordiging uit te brei ten einde die graanwaardeketting in geheel in te sluit. Die aanstelling van ‘n bestuurder en uitbreiding van die raad word ook in die vooruitsig gestel.

Loio is herkies tot president en mnr Awie Kriel (Kaap Agri) is as vise-president aangewys. Die ander raadslede is mnre George du Plessis (Overberg Agri), Ferdinand Meyer (Ronin GMS), Marco Pretorius (Afgri), Esli Rall (RMB), Hein Rehr (National Fumigants) en Lukas Swarts (Ensign Shipping).

Publication: June 2018

Section: Focus on