Die belangrikheid van produsentbeheerde besighede

1282

June 2018

LIZE MORRIS, SA Graan/Grain medewerker en ‘n Meesterstudent aan Kovsies; artikel in samewerking met Graan SA geskryf

Die landbousektor het al heelwat fases van verandering deurgegaan: In die verlede het produsente nie regtig nodig gehad om verder as die plaashek te fokus nie. Produksie was gefokus op die plaaslike gemeenskap en bemarking is deur die bemarkingsrade hanteer.

Produsente het ook nie nodig gehad om te onderhandel vir prys of te kompeteer teen internasionale produsente nie en die woord “naspeurbaarheid” was nie ‘n vereiste vanaf die koper nie. Dié omgewing het egter verander en produsente moes vinnig aanpas.

Produsente is nie meer geïsoleer nie. Hul produseer nie net vir die omliggende gemeenskappe nie – en nog belangriker: Hulle bedryf nie meer ‘n plaas nie, maar ‘n besigheid.

Om hierdie besigheid te bestuur, verg veelvuldige eienskappe, bemarking, entrepeneurskap en kundigheid in die bedryf. ‘n Kombinasie van al hierdie eienskappe is noodsaaklik ten einde suksesvol te wees. Besighede reg oor die wêreld konsolideer en daar is verskeie persone wat hulself bemark as spesialiste in die samesmelting van hierdie besighede.

Hulle stel die struktuur op, kyk na die eienaarskap en hoe die finansies kan werk. Dit is inderdaad ‘n beroep en hierdie persone is in
groot aanvraag. Hoekom? Want besighede besef dat hulle tekortkominge het, innovering moet toepas en teen ‘n vinnige pas kan aanpas, anders verloor hulle hul markaandeel.

Die strategie wat dan gevolg word, is om met die besighede wat in die tekortkominge van ‘n besigheid spesialiseer, saam te smelt. Saam kan hulle dan die verbruiker tevrede stel en hul markaandeel vergroot. Sodra dit gebeur, styg volumes, daal eenheidskostes en styg winste. Die pas van besigheid doen, het so verander dat daar nie tyd is om die wiel te herontwerp nie: Sodra die venster van geleentheid oop is, moet dit aangegryp word.

Dit sien ‘n mens elke dag in die boerdery-omgewing. Daar is verskeie geleenthede wat geskep word: Dit kan deur die verbruiker wees, dit kan deur die natuur wees, of deur tegnologie – om maar ‘n paar te noem. Elke produsent moet weet waarin sy sterk punte lê: Is dit die ligging van sy plaas, goeie vrugbare grond, waterbronne, of een van die eienskappe –entrepreneurskap/strateeg/bemarker of bedryfspesialis?

Dit gebeur selde dat een persoon gelukkig is om alles te hê en te wees – en dan benodig so ‘n besigheid groot kapitale inspuitings en werkskapitaal. In sekere tye skep dit geleenthede vir investering vir persone buite landbou. Hulle wil diversifiseer en werk dan met die produsent saam.

Nog ‘n voorbeeld is dié van ‘n ingenieur en produsent wat saam begin plant op steiltes wat die produsent nie gedink het moontlik is nie, maar geweet het die grond is reg vir ‘n sekere kultivar. Die ingenieur besit saam aandele en verleen sy kundigheid om hellings, waterpype en grondwerke te doen.

In sekere areas waar grond skaars is, gebeur dit dat produsente aandele in boerderye begin koop, want grond is net te skaars. Dit lei tot nuwe bedrywe wat nie voorheen daar was nie, wat die area binnekom. Die produsent het die grond, maar nie die kundigheid en mark vir die kultivar nie.

Produsente besit ook aandele in pakhuise en kan deel in die kostebesparing en winste daarvan. Daar is nog talle sulke voorbeelde. Hierdie entiteite waarin produsente begin saamwerk, word “beheerde besighede” genoem, waar die produsente nog ‘n wesenlike sê het en in die winste van die besigheid deel.

Vanuit ‘n funksionele oogpunt, werk produsentbeheerde besighede, want elkeen het sy sterk punte en elkeen wil suksesvol wees.
Die struktuur moet net reg opgestel word en die aanspreeklikheid vir alle partye moet dieselfde wees.

Produsentbeheerde besighede het verander: Dit is nie net produsente wat in hierdie groepe is nie. Dit is persone met verskeie sterk punte wat in die landbou ‘n produk of diens lewer. In die Verenigde Koninkryk (VK) word sulke “saamwerk-entiteite” nog koöperasies genoem en is dit produsentbeheerde besighede wanneer hulle in die landbou is en produsente ‘n wesenlike aandeel in die besigheid het. Hierdie koöperasies het omsette van miljoene ponde.

Veral in die VK het die ledegetalle van koöperasies vanaf 2010 met 16% gegroei. Statistieke toon dat agt uit elke tien koöperasies die eerste vyf jaar oorleef, teenoor vier uit tien gewone besighede.

Die omset van koöperasies in die VK is ongeveer 37 miljard pond. As net landboukoöperasies ontleed word, was die omset in 2016 5,8 miljard pond. Daar is 416 landboukoöperasies met 135 000 lede: Dit beteken die helfte van die VK se produsente behoort aan ‘n koöperasie.

50% van die top 100 koöperasies in die VK is in die landbousektor, wat bewys hoe sterk die sektor is. Die groei toon hoe belangrik hierdie entiteite vir die plaaslike ekonomie is. Twee voorbeelde van suksesvolle produsentbeheerde besighede in die VK is Mole Valley Farmers en Berry Gardens.

Praktiese voorbeelde
Mole Valley Farmers is meer as 50 jaar terug gestig as koopgroep om produsente te ondersteun om bedingingsmag te hê en het al gegroei en uitgebrei na Skotland en Wallis. Hulle ondersteun produsente om vir beter pryse te kan beding.

Produsentbeheerde besighede lewer nie net ‘n bydrae met die produksie, vervoer en bemarking van gewasse nie, maar doen navorsing in voeding en produksie en veeartse is deel van hul span kundiges. Hulle ondersteun produsente ook om hul winsgewendheid op die plaas te verbeter.

Hulle het hul eie reeks skoonmaakmiddels vir melkerye, voer vir diere, dieremedisyne en ook hul eie troeteldierkosreeks. Dit is alles produkte wat aan die lede (wat as deel van hul lojaliteitsprogram geld terug kry) en aan die publiek (wat winste skep waarin produsentelede deel) verkoop word. Hulle is deursigtig en fokus daarop om hul handelsnaam uit te brei.

Berry Gardens is nog ‘n voorbeeld van ‘n produsentbeheerde besigheid. Dit is die eiendom van produsente en hul strategie is om produsente met oorsese markte te skakel. Hulle het besef dat naspeurbaarheid belangrik vir produsente is. Hul lidmaatskap sluit in dat hulle direk met die supermarkte onderhandel en die middelman uitsny om kostes te bespaar en die ketting korter te maak.

Hulle noem dat supermarkte die vinnigste manier wil vind om die produk van die plaas na die rak te kry om sodoende deurentyd ‘n vars produk aan die verbruiker te verskaf. Daarom onderhandel die partye regstreeks en verhoog dit winste vir albei. Hulle bied aan hul lede die nuutste tegnologie en kultivars.

Grainco baseer die rede van hul bestaan op die behoefte van produsente om bedingingsmag te hê en te deel met kundiges wat bemarking verstaan. Produsente besit Grainco: Die helfte van die direkteure boer saam op ongeveer 5 000 akker en die res is spesialiste met ondervinding in landbou. Dit is ‘n suksesvolle besigheid wat ook ander funksies vir die lede verrig, soos droging, stoor en uitvoere.

Bogenoemde is net ‘n paar suksesvolle produsentbeheerde besighede. Die redes vir hul ontstaan, is:

  • ‘n Hoë konsentrasie van insetverskaffers noodsaak produsente om bedingingsmag te bekom sodat beter pryse beding kan word.
  • Verkorting van die aanbodketting en direkte bemarking aan supermarkte, om sodoende eenheidskoste te verminder en ‘n vars produk te kan lewer.
  • Verbeterde tegnologie waarin die hele groep produsente kan deel. ‘n Groot aantal van hierdie groepe besit saam hul masjinerie en dit verbeter hul kontantvloei.
  • Winsdeling vir lede is dan ‘n bonus, want die produsent koop aan en ondersteun mekaar.
  • Die bedryf het oor die afgelope tien jaar verander: Hulpbronne raak skaarser, tegnologie en verbruikersvoorkeure vereis konstante vernuwing en innovasie. Groepvorming kan ‘n bydrae lewer om hierdie struikelblokke te oorkom en volhoubaar te boer. Wat verder belangrik is, is die opstel van só ‘n groep en die tipe persone wat die groep suksesvol kan maak.

Ten slotte
Die landbousektor het verander. Produsente sal meer aanpasbaar moet wees en geleenthede begin raaksien. Party van hierdie geleenthede gaan struikelblokke hê – en dit is waar elke produsent moet weet wat sy sterk punte is om sodoende die regte vennoot te betrek.

Hierdie produsentbeheerde besighede kan lei tot verskeie ander voordele:

  • Die produsent behou beheer oor sy grond, sowel as die produksie en bemarking van sy produk.
  • Daar is kostebesparing – nie net deur die kundigheid wat gedeel word nie, maar ook die ekonomie van skaal wat verkry word – in aankope, bemarking en prosessering.
  • Die risiko kom nie net op een persoon af nie. Dit maak die begin en uitbreiding van produsentbeheerde besighede meer doenbaar.

Publication: June 2018

Section: Focus on