Agri SA “phakisa” met plan vir plaaswerkers

1053

August 2018

MARLEEN SMITH, SA Graan/Grain medewerker

Enigeen wat nie besef hoe landbou se werkerskorps afneem nie, hoef maar net deur die platteland van die somersaaigebiede te ry. Daar sal hul al die eens netjiese werkershuise van twee tot drie dekades gelede sien – wat almal nou met gebreekte ruite leegstaan.

Plaas op plaas het dikwels tien tot 20 van hierdie huise, met dalk een of twee waaruit daar nog ‘n rokie trek. Die Hexrivier-vallei se plakkerskamp is ‘n ander voorbeeld hiervan.

Benewens meganisering en nuwe regulasies het die sluiting van plaasskole weens burokratiese wanadministrasie ook hiertoe bygedra, deurdat talle werkers deesdae verkies om eerder in die township naby die skool te woon. Amptelike statistieke wys dat die ekonomies-aktiewe bevolking op plase in 1970 ‘n piek van 2,4 miljoen bereik het. Teen 2010 was die beraamde getal plaaswerkers net 832 348.

Toename in seisoensarbeid
Hiermee saam het seisoensarbeid ook drasties toegeneem. Teen 1994 was 890 000 plaaswerkers seisoensarbeiders – 32% van die totale aantal plaaswerkers. Sedert daar begin is om statistieke in die vroeë 1900’s aan te teken, het seisoensarbeid in 2010 vir die eerste keer die grootste gedeelte van die plaaswerker-arbeidsmag gevorm. Toe het hierdie komponent, volgens wyle dr Frikkie Liebenberg van die Universiteit van Pretoria se navorsing, 53% beloop.

Dr Liebenberg het in sy PhD-tesis geskryf dat onsekerhede in die arbeidsmark vanweë nuwe wetgewing sedert 1994, soos die Basiese Wet op Indiensneming en die Wet op Verblyfregsekerheid, veral tot die snelle omskakeling na seisoensarbeid bygedra het.

Plaaswerkerbemagtiging
Agri SA het hierdie uitdaging die afgelope ruk ernstig gepak deur grootskaals by plaaswerkerbemagtiging betrokke te raak. Dit word in vennootskap met die regering gedoen en vorm deel van Operasie Agri-Phakisa, waardeur sogenaamde agropreneurskapsones vir plaaswerkers geskep word.

“Phakisa is ‘n Sotho-woord wat ’maak gou‘ beteken en Operasie Agri-Phakisa vorm deel van ons Nasionale Ontwikkelingsplan om ekonomiese groei en werkskepping te bewerkstellig,” het mnr Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende hoof van Agri SA, gesê.

Hy sê daar moet nog baie water in die see loop – onder meer om al die belanghebbendes bymekaar te trek – maar die Kabinet het reeds aangedui dat hy in sy skik is met hierdie inisiatief en produsente se deelname daaraan.

“Daar moet ‘n volhoubare toekoms geskep word, waar elkeen na homself en sy geliefdes kan omsien. Nie alle produsente kan kosbare landbougrond afstaan nie, maar by hul almal is die bereidwilligheid om te help,” sê Van der Rheede.

“Agri SA se betrokkenheid by Agri-Phakisa is in pas met sy verbintenis tot maatskaplike programme,” sê hy. Dié bedryfsorganisasie is een van 161 deelnemers wat vroeër aan ‘n vyf-week-lange Agri-Phakisa-werksessie deelgeneem het. Ander deelnemers was van regeringsdepartemente, gemeenskapsorganisasies, vakbonde, die Verenigde Nasies se ontwikkelingsprogram, die Land Bank, die Landbounavorsingsraad asook Graan SA.

Sedertdien beplan Agri SA saam met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming gidsprojekte op grondvlak, in samewerking met die Pro Agri-groep en lede soos die vrugteprodusent Rossouw Cilliers en suikerrietprodusent Charl Senekal.

Die hoofdoelwitte is voedselsekerheid vir alle Suid-Afrikaners, sowel as die skep van werksgeleenthede. Agri-Phakisa het sewe fokus-temas, wat onder meer graan, lewende hawe, grondhervorming, arbeid en landelike ontwikkeling insluit. Vanuit die program se 27 inisiatiewe dryf Agri SA plaaswerkerbehuising, grond-eienaarskap en die agropreneurskapprojek. Dit behels ‘n holistiese plan om plaaswerkers en hul gesinne te bemagtig deur volhoubare gemeenskapsentrums gegrond op ‘n vennootskap tussen produsente, werkers en die regering, te skep.

Van der Rheede noem dit die agridorpkonsep, wat aan plaaswerkers titelaktes sal gee op grond wat deur die regering of kommersiële landbou-organisasies geskenk is. Op dié grond sal huise, skole en klinieke gebou kan word. Deelname hieraan is heeltemal vrywillig en gee aan boerderye en ander landboubesighede ‘n kans om daarby betrokke te raak en sodoende SEB-telkaartpunte te verdien.

Volhoubare werkskepping
Die kerndoel is volgens hom om volhoubare werkskepping vir plaaswerkers en hul nageslag te verseker. Hy noem die voorbeeld van die Achtervlei-vrugteplaas in die Piket-Boberg, wat besef het dat hulle huisvesting vir afgetrede werkers moet bewerkstellig. Vir dié doel het hulle ‘n nuwe onderneming, FruitLips, gestig.

Drie geslagte van die Eigelaars boer al op Achtervlei en ten minste 26 gesinne woon en werk daar. Hulle het in Februarie 2014 saam met hul werker-gesinne FruitLips gestig, wat eksklusiewe handgemaakte marmelades, blatjang en ingelegde vrugte sonder geur- en preserveermiddels aan kleinhandelaars verskaf. Hulle produseer tussen 4 000 en 5 000 potjies konfyt per maand, waarvan die meeste aan Woolworths verskaf word.

Al die water wat in die produksieprosesse gebruik word, word herwin om hul kruie- en groentetuin nat te lei. Die skille en pitte word gebruik om kompos met Red Wriggler-erdwurms te maak. Die vrugte vir hul produkte kom meestal van Achtervlei of ander plase binne loopafstand af, van wie hulle inkoop soos wat dit benodig word.

In hul konfytreeks is onder meer bloubessie met boegoe, perske met vanilla, appelkoos met tiemie en aarbei en pruim wat met rooswater gegeur is. Hulle produseer ook ingelegde groenvye en marmelades van suurlemoen, lemoen en pomelo.

Mnr Jacques van Wyk, gehaltebeheerbestuurder, sê FruitLips bied ‘n ander opsie om ‘n behoorlike loon te kan verdien. Dit is nie net vir Achtervlei se seisoenswerkers in die res van die jaar as hulle nie op die plaas werk nie, maar ook vir ouer mense wat aftree, maar wat nog steeds wil werk. Hulle het ‘n permanente werkerskorps van ongeveer 14 werkers.

Publication: August 2018

Section: Relevant