KORPORATIEWE LEDE versterk Agri SA se hand

962

September 2018

MARIËTTA CRONJÉ, SA Graan/Grain medewerker

Sake-ondernemings binne die landbouwaardeketting kan nou by Agri SA se nuutgeskepte korporatiewe kamer aansluit. As deel van Agri SA se groter strategie om die totale waardeketting in gesprek met mekaar te bring, bied dit nuwe skakel- en kontakgeleenthede waar samewerking en ondersteuning tussen die verskillende rolspelers in landbou bevorder kan word.

“Korporatiewe lede kan hierdie kanaal gebruik om eerstehandse inligting van die produsent en die groter sektor se behoeftes te verkry. Hoewel ondernemings reeds op voetsoolvlak met verskeie produsente skakel, is hierdie ‘n addisionele gesprek op nasionale vlak wat tendense en hoe rolspelers hulself kan posisioneer, ondersoek,” sê mnr Pietman Roos, hoof: Korporatiewe Aangeleenthede en Kommunikasie by Agri SA.

“Dit moet benadruk word dat Agri SA en die lede van die korporatiewe kamer ten doel het om die belange van die produsent te bevorder. Die lede besef self dat hulle onmiddellike lewensvatbaarheid asook die volhoubaarheid van ekonomiese groei in Suid-Afrika van ‘n gesonde landbousektor afhang. Dit is ‘n prysenswaardige gebaar om by Agri SA as korporatiewe lid aan te sluit met die doel om die produsent te beskerm,” sê hy.

Die vloei van inligting kom egter nie net primêr van die produsente se kant af nie. Agri SA sien ook toe dat die organisasies kundigheid na die tafel bring – wat aan beleidsgesprekke veel meer diepte gee. “‘n Mens moet in gedagte hou dat die ondernemings nie net plaaslike spesialiste in hul onderskeie velde is nie, maar ook internasionale kundigheid kan trek.“

Die kamer bestaan tans uit 33 uiteenlopende lede. Dit sluit groot internasionale maatskappye soos AB InBev, British American Tobacco en Woolworths in, asook Suid-Afrikaanse maatskappye met ‘n nasionale voetspoor soos Nedbank en Santam. Insetverskaffers waaronder Rolfes Agri, Syngenta, Dow Dupont en BASF is ook aktiewe lede, asook verspreiders soos Laeveld Agrochem en Intellichem.

Daar is ook ‘n stewige kontingent professionele diensverskaffers wat alreeds kundigheid in verskeie landbou-areas opgebou het en wat dit nou met Agri SA deel. Hier kan onder andere verwys word na EY en MacRobert Prokureurs en nisdiensverskaffers soos Sonfin en Agri Tourism. Verder is daar die tradisionele landboubesighede soos Obaro en GWK wat verantwoordelik is vir groot innovasie en nuwe denke binne landbou.

Volgens Roos bied lidmaatskap aan ondernemings die geleentheid om op gelyke voet met ander besluitnemers in landbou te gesels. Omdat die lede so uiteenlopend is – met verskeie behoeftes en maniere van dinge doen – is daar heelwat werk wat agter die skerms plaasvind om seker te maak Agri SA verstaan hul behoeftes en dat hul die regte gesprekke met ander rolspelers voer.

“Afgesien van die gesprekke wat deur die jaar plaasvind, hou die korporatiewe kamer gereelde kamervergaderings en spesiale sittings. Agri SA het in 2018 reeds ‘n sessie met regter Antonie Gildenhuijs, die erkende gesag binne onteieningsreg, gereël ten einde onteiening sonder vergoeding indringend te bespreek.

“Die kamer is tans besig met ‘n verskeidenheid van oorkoepelende projekte, alhoewel transformasie die grootste fokuspunt is. Daar is ‘n magdom energie binne transformasie en ons wil graag die ondernemings en organisasies, wat elk met hul onderskeie en uitstekende projekte besig is, nader aan mekaar bring en sodoende sinergie ontsluit. Die verwagting is ook dat die korporatiewe kamer wesenlik oor die medium termyn sal groei.

“Danksy die bostelegram is daar al hoe meer ondernemings met hegte bande binne landbou, asook dié wat groter geleenthede binne landbou sien, wat ons kontak om aan te sluit by die korporatiewe kamer. Agri SA pas egter ‘n standaard profielondersoek op nuwe lede toe en aansoeke word deur die direksie goedgekeur,” sê Roos.

Ongeag die hoeveelheid korporatiewe lede word hulle stemreg binne Agri SA tot 10% beperk.

Publication: September 2018

Section: Relevant