September 2018

LIANA STROEBEL, ontwikkelingskoördineerder: Wes-Kaap, Graan SA

Daar word gereeld na die Jobs Fund en Graan SA se betrokkenheid by hierdie projek verwys, maar die omvang hiervan is vir meeste van ons nog onbekend. Ons deel in hierdie artikel graag ‘n paar interessante feite oor die projek.

Die Graan SA Produsenteontwikkelingsprogram het ongeveer 14 000 lede op hul databasis – almal met toegang tot die een of ander vorm van bewerkbare grond. Hierdie boere is, onder andere, bestaansboere (onder 10 ha), kleinskaalse boere (van 10 ha tot 100 ha), potensiële kommersiële produsente(>100 ha) en laastens nuwe era-produsente (wat meer as 250 ton graan per jaar produseer).

Die Jobs Fund-projek se oogmerk is om spesifiek bestaansboere wat in die kommunale areas van Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap boer, te ondersteun om die bewerkbare grond wat tot hul beskikking is, effektief en met moderne verbouingspraktyke te bewerk, ten einde optimale opbrengste te realiseer. As ‘n boer dus slegs een hektaar het, moet sy opbrengs gelykstaande aan sy kommersiële eweknieë in sy spesifieke area wees.

Ondersteuning aan hierdie boere behels opleiding, mentorskap asook gesubsidieerde insette. Elke boer moet ook sy/haar eie bydrae in geldwaarde lewer om deel van hierdie projek te kan wees. Van die kleiner boere plant met die hand of gebruik klein handplanters en spuit met ‘n rugsakspuit. Dit is al bewys dat boere wat só begin wel tot kommersiële status kan vorder deur net eenvoudig die regte insette te gebruik en moderne produksiepraktyke te volg.

Deur hierdie inisiatief ondersteun ons hierdie kleinboere om hul grond produktief aan te wend.

 

Publication: September 2018

Section: Grain SA