November 2018

PROF CHRIS S DANNHAUSER, emeritus professor, Weidingkunde

Weidingsgewasse word al meer as dekgewasse aangewend – veral waar lewende hawe as laaste element in ’n siklus op dié dekgewasse geplaas word. Daar is verskillende opsies en verskillende stelsels wat deel vorm van bewaringslandbou, wat oorweeg kan word.

Die gebruik van weidingsgewasse as dekgewasse in bewaringslandbou word in die volgende drie aflewerings aangebied:

  • Een: Inleiding en eenjarige wintergewasse.
  • Twee: Eenjarige somergewasse.
  • Drie: Die algemene rol wat weidingsgewasse in die beplanning van wisselbou speel en meerjarige somergewasse.

Vir vele jare is die sogenaamde monokultuurstelsel gebruik, waarin mielies jaarliks op dieselfde lande geplant is. Die gebruik van wisselboustelsels, waarin verskillende dekgewasse gebruik is, het egter oor tyd ontwikkel. Die toepassing van ’n geenbewerkingstelsel (no-till) het ook sterk na vore getree – wat alles deel vorm van ’n holistiese bewaringslandboustelsel.

Produsente in ’n gemengde boerderystelsel (graan plus vee) maak ook gebruik van wisselboustelsels met weidingsgewasse as dekgewasse. Die vraag wat hieruit onstaan, is: Watter dekgewasse kan gebruik word?

Die hoofdoel van hierdie reeks artikels is om inligting oor weidingsdekgewasse met jou te deel en aan te dui watter van die volgende voordele dit inhou:

  • Dekgewasse kan die grond verbeter deur die voorsiening van organiese materiaal en koolstof (soos aangedui in Figuur 1).
  • Peulplante verhoog ook die stikstofinhoud.
  • Sommige plante verminder ook skadelike organismes, soos aalwurm, in die grond.
  • Plante sirkuleer ook plantvoedingstowwe in die grond.
  • Dit deurlug die grond.
  • Verder verminder dit erosie en kompaksie.

Dan natuurlik voorsien dit ook goeie voer aan die vee. ’n Wisselboustelsel wat graan, weidingsgewasse en vee insluit, sit dus
pap (plus melk) en vleis op die tafel, maar ook vrugbare grond.

Watter weidingsgewasse is geskik as dekgewasse in wisselbou en hoe word dit bestuur?

Eenjarige wintergrasse
In gebiede met ’n reënval van 650 mm en hoër kan die gewasse onder droëland aangeplant word – veral in dele met laat somerreën. Dit sluit groot dele van die Oos-Vrystaat, Suid-Gauteng, Noordwes Provinsie, Mpumalanga en Noord-KwaZulu-Natal in.

Gewasse soos hawer (Foto 1), stoelrog (Foto 2) en korog is van die bekendes wat onder droëlandtoestande aangeplant word. Die algemeenste plantdatum vir wintergroenvoer is in Februarie/Maart en in warmer dele dalk so laat soos April. Indien besproeiing beskikbaar is, speel eenjarige raaigras ook ’n belangrike rol.

Die vraag ontstaan: Wat is die invloed van laat plant (April/Mei) van groen voer op die produksie daarvan, met die oog daarop om dit in ’n mielieverbouingstelsel in te pas?

Die verbetering van wintergroenvoerspesies en die ontwikkeling van nuwe kultivars het daartoe gelei dat die vestiging en groeiperiodes van die gewasse nou oor langer periodes strek. Van hierdie kultivars is kortgroeiseisoentipes, wat gewoonlik gedurende laat herfs en vroeg winter die hoogste produksie lewer. Van die ander kultivars is langgroeiseisoentipes, wat gewoonlik in laat winter en gedurende die lente produseer.

Onlangse navorsing is gedoen om die invloed van latere vestiging op die produksie en kwaliteit van groen voer te ondersoek. Die aanplanting van hawer (Witteberg), stoelrog (LS 35 en LS 62) en korog (Cloc 1), wat onderskeidelik so laat soos 4 Mei en 6 Junie geplant is, is ontleed.

Laat aanplantings maak van wintergewasse goeie dekgewasse nadat mielies geoes is en voordat die volgende mielies geplant word. Weer eens is goeie en/of laat reëns nodig.

Die reënval vir die spesifieke groeiseisoen waarin die onlangse navorsing gedoen is, was relatief laag, met 110 mm van Januarie tot Mei, 75 mm vir Junie tot September en goeie neerslae vir Oktober (151 mm) en November (55 mm). Daar is wel 15 mm tot 20 mm per week besproei in tye wanneer geen of min reën voorgekom het.

Al vier kultivars het, indien dit in Mei aangeplant is, goed gedoen (tussen 6 t/ha en 7 t/ha in die laat winter). LS 35- en LS 62-stoelrog het selfs so laat soos in November geproduseer (2 t/ha – 3 t/ha); en Witteberg-hawer en Cloc 1-korog tot in Oktober (3,5 t/h – 4 t/ha).

Met die Junie-aanplanting het die gewasse in Augustus/September goed gedoen (LS 35-stoelrog met 7 t/ha, LS 62 5 t/ha en Cloc 1 4,5 t/ha), maar het later verswak. LS 35-stoelrog was ’n laat en hoë produseerder, terwyl Cloc 1-korog die langste geproduseer het – tot in November. Hierna kan mielies nog met vroeë somerreën geplant word.

Eenjarige winterpeulgewasse
Weiwieke (Foto 3) doen goed op leemgronde – selfs met lae vrugbaarheid. Dit is koue- en droogtebestand, ’n aktiewe ranker, toon geen opblaas nie en is ’n stikstofproduseerder. Dit word dikwels met hawer of stoelrog en radyse gemeng – wat hoë kwaliteit weiding bied.

Serradella is goed aangepas op sandgrond en nie so goed op kleigrond nie. Dit het ’n diep wortelstelsel wat goeie deurlugting veroorsaak, heelwat organiese materiaal, asook stikstof terugplaas. Dit vorm ’n kruipende ranker en veroorsaak geen opblaas nie. Dit lewer ook ’n goeie mengsel met hawer en stoelrog vir beweiding.

Assegaaiklawer (Foto 4) is minder droogtebestand as die vorige twee genoemde peulgewasse. Dit doen goed op klam grond in koel, hoë reënvaldele, maar die beste onder besproeiing. Dit is ’n aktiewe ranker, met ’n hoë drakrag en lae opblaasgevaar.

Die winterpeulgewasse speel veral ’n belangrike rol in mengsels met wintergrane wat tradisioneel as groen voer gebruik word.
Dit voorsien stikstof aan die grond en hoëproteïenweiding aan lewende hawe in die winter.

Winterknolgewasse
Japannese radyse (Foto 5) en voerrape is goeie winterweidingsgewasse, wat droogtebestand is en wat alleen of in mengsels met eenjarige wintergrane gebruik kan word.

Van die gewildste kultivars wat gebruik word, is Nooitgedacht Japannese radys, Mammoth Purple Top-voerrape en die sogenaamde diep en lang wortelrape en boorradyse.

Die winterknolgewasse doen goed op ligte sand- tot leemgrond in gebiede met ’n reënval van 600 plus mm. Dit word normaalweg in rye van 60 cm tot 90 cm uitmekaar geplant. Die beste planttyd is Februarie, maar latere aanplantings (April/Mei) kan ook gedoen word om as dekgewas in ’n wisselboustelsel gebruik te word.

Benewens goeie weiding, is een van die voordele van hierdie gewasse dat dit grond goed deurlug, organiese materiaal terugplaas en voedingstowwe sirkuleer.

Onlangse navorsing met latere aanplantings (April) in Gauteng, het belangrike resultate opgelewer. Die reënval vir die periode April tot Julie was slegs 31 mm en 300 mm besproeiing is toegedien.

Die blaarmateriaal van die Nooitgedacht Japannese radyse is geoes vanaf mid-Julie tot einde Augustus. In Augustus is die “knol-materiaal” ook geoes. Vir die 35 dae se produksie is daar 5,1 t/ha droëmateriaal geoes, wat ten minste twaalf grootvee-eenhede (GVE)/ha tot 15 GVE/ha vir die 35 dae kon voed.

Mammoth Purple Top-voerrape, wat in Mei geplant is, is vanaf 20 Augustus tot 3 Oktober ontblaar en het voldoende materiaal geproduseer om elf GVE/ha vir 45 dae te voed. Die diepwortelrape en radyse word algaande gewilder as wisselbougewasse, as gevolg van hul langer en dieper wortels, vir hersirkulering van plantvoedingstowwe, deurlugting van grond, asook omdat dit goeie wintervoeding vir vee is.

Ter afsluiting
In ’n wisselboustelsel kan eenjarige winterweidingsgewasse in die herfs op dieselfde land as mielies geplant word. Dit kan dan opgevolg word deur mielies in die vroeë somer aan te plant – mits daar voldoende lente- en/of herfsreënval (in gebiede met meer as 650 mm reënval) was.

Vir meer inligting, kontak die outeur by 082 873 4736 of chriswei@vodamail.co.za.

Publication: November 2018

Section: Spotlight on cover crops