December 2018

In 2018 was die skerp styging in die ruolieprys, internasionale kunsmis- en landbouchemikalieëpryse en die wisselvalligheid van die wisselkoers beslis ’n doring in die vlees van die plaaslike mark. Die Brent-ruolieprys het vanaf Oktober verlede jaar tot Oktober vanjaar met 39,6% in dollarterme gestyg, terwyl dit met 48% in randterme toegeneem het.

Omdat ’n groot aantal van ons graan- en oliesadeprodusente se produksie-insette deur energiepryse geraak word, het hierdie skerp styging in ruoliepryse ’n negatiewe impak op die meeste insetpryse gehad.

Die wisselkoers het tussen Oktober verlede jaar tot Oktober vanjaar vanaf ’n sterkste vlak van R11,81 en ’n swakste vlak van R14,76, gemeet teen die dollar, gewissel.

Tabel 1 toon die prysbewegings in van die belangrikste ekonomiese en insetprysaanwysers in 2018.

Produksieprysindeks
Die produksieprysindeks (PPI) dui die prysstygings van goedere en dienste op die groothandel- of vervaardigingsvlak van die ekonomie aan. Op ’n jaargrondslag het dit, tot September vanjaar, met 6,2% gestyg. Die PPI vir landbou het jaar op jaar met 0,9% toegeneem, terwyl die PPI vir graanprodukte met 1,1% gestyg het.

Verbruikersprysindeks
Die amptelike inflasiekoers word op die basis van veranderings in die verbruikersprysindeks bereken en dui kosteveranderings op die kleinhandels- of verbruikersvlak aan. Die inflasiekoers het in September vanjaar op ’n jaargrondslag met 4,9% gestyg.

Voedselinflasie het oor dieselfde tydperk met 3,4% gestyg. In die verbruiker se voedselmandjie het brood en grane met 0,6% gedaal, terwyl vleis met 4,7% gestyg het. Olies en vette het met 1,5% gestyg, terwyl groente oor dieselfde tydperk met 9% gestyg het en vrugte met 4,9% gedaal het.

Wisselkoerse
In Tabel 1 word ’n verstewiging in die waarde van die rand teenoor ander geldeenhede as ’n positiewe verandering aangedui, terwyl ’n verswakking as ’n negatiewe persentasieverandering aangetoon word.

Die rand het op ’n jaargrondslag, tot Oktober vanjaar, met 6% teenoor die dollar verswak. Die rand het verder ook met 4,4% en 3,5% teenoor die pond en die euro onderskeidelik verswak.

Rentekoerse
Op ’n jaargrondslag, tot Oktober vanjaar, het die Reserwebank die bankkoers met 25 basispunte of 0,25 persentasiepunte na 6,50% verlaag. Handelsbanke het die prima-uitleenkoers ook met 0,25 basispunte na 10,50% verlaag.

Internasionale ruoliepryse
Die gemiddelde Brent-ruolieprys het vanaf Oktober verlede jaar tot Oktober vanjaar met 39,6% vanaf ,68/vat na ,54/vat toegeneem.

In randterme het die ruolieprys op ’n jaargrondslag tot en met Oktober vanjaar, met 48% tot R1 169,44/vat gestyg.

Brandstofpryse
Die plaaslike groothandelprys van diesel in Gauteng het met 29,1% vanaf R12,13/liter in Oktober 2017 tot R15,65/liter in Oktober vanjaar gestyg. Die werklike brandstofkoste het in Oktober 57% van die finale groothandelprys van diesel beslaan. Dit wil sê 43% word opgemaak deur heffings en belasting.

Oor ’n jaartydperk het die gelande koste van diesel met 48,4% gestyg, terwyl belasting met 7,3% toegeneem het en die groothandelsmarge sywaarts beweeg het.

Die dieselkorting is tans 321,80 c/liter, terwyl dit verlede jaar 283 c/liter was. Die dieselkorting bestaan uit die 193 c/liter van die Padongelukfondsheffing en 128,8 c/liter van die belastingskomponent.

Internasionale kunsmispryse
Alle internasionale pryse van kunsmisgrondstowwe het vanaf Oktober verlede jaar tot Oktober vanjaar skerp toegeneem. Die pryse van DAP, ureum, ammoniak en kaliumchloried het met 25,8%, 14,8%, 34,1% en 16,5% onderskeidelik gestyg.

Plaaslike kunsmispryse
Omdat Suid-Afrika meer as 80% van sy behoefte aan kunsmis moet invoer, is plaaslike kunsmispryse aan dieselfde faktore as die internasionale mark blootgestel.

Die gemiddelde pryse van MAP, ureum, KAN en kaliumchloried het oor ’n periode van ’n jaar, tot en met Oktober vanjaar, met 21,7%, 31,9%, 12% en 39,8% onderskeidelik gestyg.

Saadpryse
Saad beslaan ongeveer 12% van ’n graan- en oliesadeprodusent se lopende produksiekosterekening. Vir die 2018/2019-produksieseisoen het mieliesaad met 1,8%, graansorghumsaad met 7,5%, sonneblomsaad met 4,7% en sojaboonsaad met 0,5% gemiddeld gestyg.

Trekkerpryse
In Oktober vanjaar was die pryse van trekkers 3,7% laer as die oorstemmende tydperk twaalf maande gelede.

Trekkerverkope
Trekkerverkope het vanjaar tot en met Oktober met 7,7% vergeleke met dieselfde periode in 2017 gestyg.

Verlede jaar is 5 435 eenhede in hierdie tien maande-tydperk verkoop, terwyl trekkerverkope vir vanjaar op 5 852 eenhede staan.

Publication: December 2018

Section: On farm level