October 2018

JANNIE DE VILLIERS, HUB

Die afgelope tyd in die landboupolitieke omgewing was glad nie aangenaam nie. Die intensiteit was hoog en so ook die frekwensie van sake wat aandag vereis het. Ons leiers is dun en oor groot oppervlaktes gesaai. Party dae wonder ek of ons genoeg mense het om al die gate toe te stop.

Dit voel soos in my kinderdae toe ons saam met my oupa water gelei het en een van ons damwalle begin breek het: Soos jy die een kant keer, loop dit by die ander kant uit en – om alles te kroon – kom een van die honde en trap die hele spul plat – so met ’n lek deur jou gesig.

Deur alles heen, is ons besig om opnuut te fokus en te dink aan elemente vir ’n nuwe landbouplan. Een saak waaroor daar opnuut besin moet word, is: Wat kom eerste? Daar is soveel van ons wat transformasie sien as die eerste ding wat moet gebeur, dan is daar dié wat werkskepping voorop wil stel. Tóg wil dit vir my lyk asof ekonomiese groei die beginpunt van alles moet wees.

Transformasie ten alle koste sal die ekonomie benadeel en kan in ’n Zimbabwe-scenario eindig: ’n Getransformeerde niks-ekonomie. Die kunsmatige skep van werksgeleenthede (veral in die staatsdiens), wurg die ekonomie dood en is nie volhoubaar nie. Wanneer die ekonomie gesond is, groei dit outomaties. Dit is net soos ’n tiener. Jy hoef nie vir enige gesonde tiener toestemming te gee om te groei nie, hulle doen dit oornag – heeltemal vanself.

Wanneer ons ekonomie groei, sal dit soveel makliker wees om volhoubare transformasie te doen. Net só sal die mark dan vanself volhoubare werksgeleenthede skep. Maar nog voor die groei begin, moet daar beleggings wees en voor beleggings sal realiseer, moet daar ’n positiewe beleggingsklimaat wees. Hierdie elemente is soos ’n gebou wat jy opsit. Ons kan nie die dak eerste opsit nie! Fondasies kom eerste.

Waaruit behoort ’n nuwe landbouplan te bestaan? Ek sal eerstens by die agterkant wil begin: Die detail van implementering – wie moet wat wanneer doen en wie betaal daarvoor? Dan ook sommer hoe gereeld ons dit gaan meet en waaraan ons elke element gaan meet.

Ons geskiedenis van talle en goeie planne sonder implementering dwing my om dit te vra. Vir ander resultate as dit waaraan ons tans gewoond is, moet ons anders te werk gaan. Meer van dieselfde is net nie meer goed genoeg nie. Vir dié rede sal landbou ook hand in eie boesem (en broeksak) moet steek.

Ons gaan mense en tyd moet toeken aan die implementering van die plan en dit gaan ons geld kos. Dit is egter wat ek dink nodig is. Te veel kere in die verlede het ons voor en agter die skerms help planne skryf en dit dan net so aan die staat oorhandig om te implementeer. As niks gebeur het nie, was ons eerste om te kritiseer. Dit is meer van dieselfde! Hierdie keer gaan ons saam met die staat verantwoordelikheid moet neem vir die implementering.

Hoe langer die onsekerheid oor ons beleidsomgewing voortduur, hoe ongunstiger bly die beleggingsentiment. Produsente en besigheidslui in die landbou sit en wag die tyd uit om te kyk waarheen die hoender se eier gaan rol. As die hen behoorlik op die eier gaan sit en dit troetel om uiteindelik uit te broei, sal die beleggings outomaties kom. Maar as sy dit gaan los en dit net gaan aanhou rol en rol sal dit op die vloer beland en is dit die einde van die drome oor ’n groeiende landbousektor – en daarmee saam die nodige transformasie en werkskepping.

Publication: October 2018

Section: Features