December 2018

GERRIT JANSEN VAN VUUREN, produkbestuurder: Remedies, Rolfes Agri

Die gebruik van landbouchemiese middels bly een van die belangrikste aspekte van gewasproduksie. Ten spyte van die navorsing en kwaliteitsbeheer met die vervaardiging van landbouchemiese middels, word die registrasiehouers van hierdie produkte jaarliks deur produsente gekonfronteer met klagtes soos: Jou gif het nie gewerk nie…

’n Verdere probleem is die wegdrywing van plaagdoders na nie-teiken areas. Hoewel ’n groot komponent hiervan deur die lug toegedien word, vind daar ook al hoe meer drywingskade as gevolg van grondtoediening plaas.

Die toenemende gebruik van hoogs tegnologiese hoogloopspuite het, ironies genoeg, tot ’n groot toename in klagtes van oneffektiewe plaagbeheer aanleiding gegee. Dit dui aan dat hierdie tegnologie nie altyd korrek aangewend word nie.

Een van die groot uitdagings wat deur landbouchemiese maatskappye geïdentifiseer is, is die feit dat verkeerde spuitpunte op die stelsels, of alternatiewelik dat die korrekte spuitpunte teen verkeerde parameters (byvoorbeeld spuitdruk) gebruik is. Die beste plaagdoder sal slegs so goed werk as wat dit toegedien word en die gebruik van die korrekte spuitpunt vir die tipe toediening speel ’n kardinale rol daarin.

Dit is belangrik om te weet dat die teiken en situasie die toedieningsvereistes – en daarom keuse van spuitpunte – voorskryf. Die feit dat ’n moderne hoogloopspuit produkte teen ongeveer 30 km/uur en ’n spuitmengselvolume van 50 liter/ha kan toedien, beteken nie dat dit noodwendig so toegedien moet word nie.

Keuse van spuitpunte
Faktore wat die keuse van spuitpunte bepaal, sluit in:

  • Aard van toediening: Algeheel-breedwerpig of bandtoediening oor die plantry?
  • Aksie van die produk – sistemies of kontak? Kontak-aksie vereis as ’n reël meer bedekking (meer druppels per cm²). In geval van tenkmengsels moet kontak-aksieprodukte as die bepalende faktor gesien word.
  • Aard van die teiken: Hoe krities is penetrasie binne die gewas en hoe maklik sal dit bereik kan word?
  • Is beperking van druppelwegdrywing van kardinale belang?

Algeheel-breedwerpige toediening
Die spuitpunt wat deur jare heen as effektiewe spuitpunt vir algehele toediening uitgewys is, bly steeds dié wat ’n platwaaier (flat fan)-spuitpatroon lewer. Daar is egter deesdae verskeie tipes van hierdie spuitpunte op die mark (met nuwe ingeboude tegnologie). Dit is derhalwe belangrik dat die regte keuse gemaak word.

Twee nuttige ontwikkelings in dié verband is die sogenaamde dubbeluitlaatplatwaaier (twin fan), waar een spuitpunt in twee rigtings uitspuit – wat veral penetrasie binne-in die gewas bevoordeel. Die tweede is luginduksie/venturi (air induction)-spuitpunte, waar lug in die spuitpunt ingetrek word en met die spuitmengsel meng en groter druppels lewer – wat ’n bydrae lewer om wegdrywing te verminder.

Die optimale aanwendings van verskillende tipes platwaaierspuitpunte vir algeheel-breedwerpige toediening word in Tabel 1 opgesom.

Belangrike opmerkings met betrekking tot spuitpunte vir algeheel-breedwerpige toediening:

Hoogte bo die teikenarea en oorvleueling
Aangesien platwaaierspuitpunte minder volume op die kante van die spuitpatroon lewer, is dit belangrik dat naasliggende spuitpunte se spuitpatrone met 40% tot 50% sal oorvleuel ten einde ’n eweredige bedekkingspatroon te verskaf.

Die hoogte hang tot ’n groot mate van die spuithoek, wat die betrokke spuitpunte lewer, af. Vir ’n spuitbalk met 50 cm-spasiëring word ’n 50 cm-hoogte vir 110°-spuitpunte en 75 cm-hoogte vir 80°-spuitpunte gewoonlik benodig.

Daar moet beklemtoon word dat hierdie spuithoogtes steeds by hoogloopspuite van toepassing bly. Indien die spuitbalk byvoorbeeld op 1,5 m bo die teikenarea loop, word verkeerde oorvleueling op die teikenarea verkry.

Dwarsmontering
Naasliggende platwaaierspuitpunte moet ongeveer 10° dwars op die balk gemonteer word, sodat die spuitpunte nie in mekaar vas spuit nie.

Luginduksiespuitpunte – druppelgrootte versus spuitvolume
Soos in Tabel 1 aangedui, lewer luginduksiespuitpunte ’n groot tot ultragroot (coarse to ultra coarse) druppelspektrum – veral by die Turbo TeeJet-luginduksiespuitpunte. Die gebruik van lae watervolumes met hierdié tipe spuitpunte gaan noodwendig lae druppelbedekking op die teikenarea meebring.

Waar penetrasie en hoë druppelbedekking (byvoorbeeld kontak-aksieplaagdoders) belangrik is, moet ’n hoër watervolume toegedien word. Indien drywingbeheer sowel as bedekking van belang is, kan ’n Twin Turbo-tipe spuitpunt oorweeg word.

Die punte gee steeds ’n groter druppelspektrum, maar lewer ook beter bedekking.

Dubbeluitlaattipe spuitpunte
Hierdie spuitpunte is uiters voordelig vir situasies waar penetrasie binne die teiken­area ’n uitdaging en belangrik is. Die nadeel van hierdie spuitpunte is die grootte van die spuitopeninge. ’n Dubbeluitlaatspuitpunt van 04-grootte (byvoorbeeld 8004) bestaan in wese uit ’n spuitpunt met twee openinge van 02-grootte, wat der­halwe dieselfde volumevloei as ’n 04-enkelspuitpunt lewer.

Dít kan ’n uitdaging by laer volume-toedienings word, omdat dit maklik kan verstop.

Kleur van die spuitpunte
Hierdie is ’n belangrike aspek wat reg verstaan moet word. Al die spuitpunte in Tabel 1 en Tabel 2 is rooi, maar daar is duidelik verskillende tipes spuitpunte. Die kleur van die spuitpunt verwys na die volume lewering per minuut teen 40 PSI (2,8 bar)-spuitdruk, soos volgens die ISO 10625 standaard vasgestel.

Al die spuitpunte wat daarom dieselfde volume lewering gee, sal dieselfde kleur hê. Maak seker dat die regte spuitpunte vir die regte volume gekies word.

Maak seker dat alle spuitpunte op die balk dieselfde kode het.

Kegel-tipe spuitpatrone
Die gebruik van spuitpunte met kegel-tipe spuitpatrone (byvoorbeeld holkegel [hollow cone]) op die spuitbalk word nie aanbeveel vir algehele breedwerpige toediening nie.

Die aard van ’n kegelspuitpatroon maak dat oorvleueling en ’n eweredige bedekking nie optimaal geskied nie. Platwaaierspuitpunte met die dubbeluitlaatopeninge bied dieselfde “multidimensionele” voordeel aan die spuitpatroon wat bedekking en penetrasie binne-in die gewas bevorder.

Polswydte modulasie (pulse width modulation – PWM)-spuitstelsels en luginduksie-spuitpunte
Dit is belangrik om te weet dat luginduksie-/venturi-spuitpunte nie saam met PWM-spuittegnologie aanbeveel word nie. Hierdie tegnologie benodig ’n konstante negatiewe druk by die spuitpunt se lugopening, iets wat deur die PWM-meganisme uitgekanselleer word.

Band- of gerigte bespuiting
Waar toediening net bo-oor die plantry (grond of gewas) of rye geskied met ’n onbespuite area tussenin, word ander tipes spuitpunte benodig.

Platwaaierpunte kan gebruik word, maar die belangrikste verskil is dat dit ’n sogenaamde eweredige (even) tipe spuitpunt moet wees, waar die spuitpatroon dieselfde volume lewering dwarsoor die spuitpatroon gee (sien spuitpatroon van eweredige waaier (even fan)-spuitpunt in Tabel 2.

In ’n groot aantal gevalle sal die letter “E” as deel van die spuitpuntkode op die spuitpunt voorkom. Dit is belangrik dat hierdie eweredige tipe spuitpunte nie op spuitbalke wat algeheel-breedwerpig spuit, gebruik word nie.

Ongelukkig is daar nie ’n enkele silver bullet-tipe spuitpunt wat vir alle bespuitingscenario’s ewe doeltreffend gebruik kan word nie. Die produsent se belegging in chemikalieë kan ongedaan gemaak word deur die gebruik van verkeerde spuitpunte.

Volg die riglyne op die etiket wat watervolumes betref. Indien van moderne spuittoerusting teen verlaagde watervolumes gebruik gemaak word, is dit belangrik dat die regte spuitpunt, wat nie te min en te groot druppels teen normale spuitdruk sal produseer nie, gekies word.

Na-opkomsonkruidbeheer in die vroeë somer mag die gebruik van hoër watervolumes vereis. Dit vereis ’n spuitpunt met ’n groter opening eerder as wat die druk verhoog word – wat dan juis kleiner druppels sal realiseer.

Publication: December 2018

Section: On farm level