Waar is die middel?

30
Jannie de Villiers
HUB, Graan SA jannie@grainsa.co.za

Twee van ons jongmense in landbou wat by Agri SA werksaam is, Mihlali Xhala en Jolanda Andrag, skryf nou die dag aan president Ramaphosa dat hy asseblief moet help om weer die “middel van die pad” te definieer en waardes en standpunte daarstel sodat ons in die landbou nie hoef te kies tussen die linkse en regse sienswyses nie.

Die moontlike gevolge van grondhervorming en die druk op winsgewendheid van die afgelope jaar het amper op reses gegaan om plek te maak vir plaasgeweld. Wanneer die status quo bedreig word, is die geneigdheid om na links of regs te spring. Wat die twee dames so bekwaam gedoen het, is om ’n pleidooi te bewoord om weer die “middel” te definieer.

Waar is die middel? Hoe lyk dit daar? Wat kan ons doen om dit te behou as dinge so dol gaan? Dit is alles baie moeilike vrae. Die linkses en regses is meestal só verbaal dat niemand twyfel waar hulle staan nie.

Graan SA sal graag daarop wil roem dat ons iewers na aan die “middel” is om vir mense die pad te wys. Om daardie rede kies ons as aktiewe landsburgers om deel van die oplossings te wees en nie deel van die probleme nie.

Ons organiseer onsself en befonds onsself. Ons kies om die probleme in die landbousektor te identifiseer en dan met redelikheid en feite die oplossings deur gesprekvoering te soek en aan te pak.

Graan SA is hier om te bly – ons deins nie terug vir probleme nie – want ons DNS is gesetel in wat ons uit die Woord leer en waarin ons geloof lê.

Ons gun almal die geleentheid om ’n toekoms in hierdie land te soek deur hard te werk, die grond te gebruik om ’n bestaan te maak en om die land en sy mense van kos te voorsien. Daar moet egter respek vir mekaar en vir mekaar se eiendom wees hier in die “middel”. Die gesindheid moet een van samewerking wees tot almal se voordeel en nie net selfsugtige eiegeregtigheid nie. Geweld teenoor ander mense is nie deel van die “middel” nie.

Ek het in verlede maand se hoofartikel na oom George Bizos se “centre will hold”-siening verwys, maar dit kan net hou as ons nie gaan skroom om dit te bly definieer en as gemeenskap volhou om dit uit te leef nie.

Selfs as die president van die land nie gehoor gaan gee aan die jongmense (en ons ander) se versoek nie, sal Graan SA voortgaan om die “middel van die pad” aan te wys. Ons skuld dit immers aan almal wat as lede saam met ons hierdie pad aanpak en dit vir ons kinders voorberei dat hulle ons kan navolg.

Aan dié wat die afgelope maande erge druk beleef het ten opsigte van hul eie veiligheid of sommer net bloot emosionele verrinnewering ervaar het as gevolg van wie hulle is en nie noodwendig wat hulle doen nie: “Moenie dat hierdie dinge jou die spoor laat byster raak nie. Kom ons moedig mekaar aan en as jy reken dat Graan SA nie meer in die ‘middel’ is nie, kom help ons dat ons die nodige regstelling kan maak.”

Ek sluit graag hierdie hoofartikel af met ’n aanhaling wat Louw Steytler gereeld vir ons in vergaderings voorgehou het: “Bad things happen if good people do nothing.”