Privaatsektorplan vir ekonomiese groei aanvaar

16
Jannie de Villiers
HUB, Graan SA jannie@grainsa.co.za

Ek het einde verlede jaar betrokke geraak by die Public Private Growth Initiative (PPGI) wat namens die sakeleiers van ons land met die presidensie begin skakel het om ekonomiese groei weer aan die gang te kry. Daar was ’n verrassende gemoedelike atmosfeer van samewerking wat ek selde tevore al beleef het. Dít na ’n jaar van baie bitter emosies, met onteiening sonder vergoeding as die hoofdis op elke spyskaart.

Minister Nkosazana Dlamini-Zuma het erken dat die staat dit nie regkry om die ekonomie te laat groei nie en sy het die hulp van die privaat sektor gevra. Almal het ingespring om planne op te stel en voorstelle te maak. Dié planne is by verskeie geleenthede voorgelê, vrae is gevra en uiteindelik is dit ook aan president Ramaphosa voorgehou. Hy het onmiddellik eienaarskap daarvan aanvaar en ook in die staatsrede daarna verwys. Intussen het daar heelwat meer sektore bygekom – daar is nou omtrent 18. Landbou was saam met die motorbedryf eerste in die ry.

Tot dusver was die hoogtepunt vir my persoonlik toe die groep sakeleiers wat al die verste gevorder het met hulle planne (landbou was een), gedurende April vanjaar met die ekonomiese groep (cluster) van direkteurs-generaal vergader het en die DG in die presidensie, Mpumi Mpofu, met groot selfvertroue aan almal gesê het: “This plan of the private sector is the government’s plan for the next five years.”

Dit het ons nog nooit in hierdie land gehoor of beleef nie – in elk geval nie in my tyd nie. Een van die meer junior amptenare van ’n departement wou nog teëpraat oor hoe die staat die privaat sektor se plan kan vat, maar hy het sommer ’n groot, swart skoen dwars in sy mond gekry voordat hy nog mooi klaar gepraat het. Die presidensie het klaar besluit en basta met dié wat verskil.

Ons privaatsektorleiers was baie duidelik oor wat nodig is om beleggings van “oorvol” balansstate te ontsluit. Hier is nog baie potensiaal. Vanuit al die sektore is daar oor grondonteiening, korrupsie en swak regulatoriese dienste om nuwe projekte en beleggings af te skop, gepraat. Daar is bekommernisse oor water uitgespreek, maar meer nog, daar is oplossings voorgestel wat ons vorentoe kan neem.

Voordat ’n mens ál die moeilikheid kan sien, het jy ’n skerp lig nodig om daarop te skyn. Dít leer die Bybel ons mos ook. Die nuwe Suid-Afrika-soeklig is sekerlik die Zondo-kommissie. Elke dag word ’n nuwe lig aangeskakel wat manne en vroue se donkerste hoekies van alle kante af bekyk. Daar is ook selfs ’n les vir dié wat dink hulle gaan die donker, swart stories met vuur kan verbrand. Vuur maak ook lig, jy weet, en waar daar ’n rokie is, moet daar mos ’n vuurtjie brand…

Teen die tyd dat hierdie artikel gelees word, gaan die verkiesing reeds iets van die verlede wees. Ongeag wie gewen het en wie gedink het hulle gaan wen, is daar ’n plan in die agtergrond wat ons ekonomie gaan rig. Kom ons hou ons oog op die bal en laat die politiek aan dié oor wat met ligte en vuur speel. Julle onthou nog wat julle ma’s julle geleer het oor met vuurhoutjies speel, nè?

Ons graanprodusente is baie verheug oor die laat reën op die laat oes. Al is dit vir sommiges te laat, is ons dankbaar dat nog ’n paar koppe en peule gevul raak. Elke ton help om deur die moeilike seisoen te kom. Die seetemperature is gelukkig besig om in die regte rigting te beweeg, wat ons al weer laat moed skep vir ’n volgende plantseisoen.

Ek weet dat die stropermonitors nie so lekker gaan lyk hierdie jaar nie, maar ek hoop vir ’n paar aangename verrassings. Vir dié wat op die punt staan om te plant, julle is ons land se helde wat alle risiko’s aandurf om kos te produseer en dit te doen waarmee julle die beste is.